Ontbyt met skop

ontbyt resepte

Ontbyt is baie meer as net spek-en-eiers of graanvlokkies met melk. Top-chef Seline van der Wat deel ‘n paar van haar besonderse resepte...

Ysdrankie van vanieljemelk en espresso

Genoeg vir 4

Jy kan hierdie heerlike ontbytdrankie na smaak aanpas. Die resep hieronder smaak soos ’n versoete latte. Die hoeveelheid kondensmelk sal bepaal hoe soet dit is. Om die drankie sterker of flouer te maak, gebruik enigiets van suiwer espresso tot flou kitskoffie of selfs rooibostee vir ’n kafeïenvrye opsie.

BESTANDDELE:

  • 800 ml espresso of koffie
  • 1 vanieljepeul
  • 1,5 liter melk
  • kondensmelk na smaak (ongeveer 125 ml)
  • 200 ml klappervlokkies

METODE:

  1. Maak die koffie soos jy daarvan hou. Giet dit in ysblokkiehouers en laat staan in vrieskas tot hard gevries.
  2. Skraap die pitjies uit die vanieljepeul.
  3. Meng die melk, vanieljepitjies en kondensmelk goed in ’n beker. Laat dit in die yskas trek solank die koffieblokkies gevries word.
  4. Rooster die klappervlokkies droog in ’n pan tot dit mooi bruin is om die rand. Laat op ’n draadrak afkoel tot benodig.
  5. Plaas ysblokkies in ’n glas en sprinkel ’n bietjie klappervlokkies bo-oor. Maak vol met die melkmengsel. Roer en geniet! Onthou, die drankie sal sterker word hoe langer dit staan en die ys begin smelt.

lyn_3.png

Ontbytpotjies

Hierdie potjies is die perfekte manier om ’n gesinsontbyt propvol voedingstowwe voor te berei. Dis maklik om elke potjie te maak sodat dit die verskillende smake in die gesin bevredig. Die potjies is ook laag in vet en glutenvry. Boonop is hierdie versnaperings uiters geskik vir ’n piekniek of ’n vinnige ontbyt. Verseël net die flessies en jy kan in die pad val.

BESTANDDELE:

  • 250 ml hawermout
  • 250 ml vars vrugte na keuse
  • 300 g mengsel van neute, sade en droëvrugte
  • 125 ml klappervlokkies
  • 300 ml dubbeldik Griekse jogurt
  • heuning na smaak (±15 ml per potjie)

METODE:

  1. Rooster die hawermout tot ligbruin. Plaas dan op ’n bakplaat om af te koel. Herhaal met die klappervlokkies.
  2. Sny die vrugte in happiegroottes en hou eenkant.
  3. Meng die saadmengsel met die hawermout en klappervlokkies.
  4. Pak die bestanddele in afwisselende lae in die flessie: die granolamengsel, jogurt, vrugte en heuning.
  5. Sit koud voor.

lyn_3.png

Ontbytgebak met frikkadelle

Hierdie heerlike ontbytgebak is net reg vir die diegene wat ’n proteïenskop in die oggend nodig het. Wees versigtig om nie die frikkadelle of die eiers té gaar te maak nie, want dit sal die gereg laat uitdroog.

BESTANDDELE:

Genoeg vir 4

Vir die frikkadelle:

  • 500 g maer maalvleis
  • ½ wit-ui, fyngekap
  • 15 ml olyfolie
  • 20 g vars pietersielie, fyngekap
  • 15 ml heelgraanmosterd
  • skil en sap van 1 suurlemoen
  • 2 ml rooipeper
  • sout en peper
  • 1 eier

Vir die res:

  • 15 ml olyfolie
  • ½ wit-ui, fyngekap
  • 1 blik tamaties
  • 10 ml gemengde kruie
  • sout en swartpeper na smaak
  • 125 ml vars room
  • 8 eiers
  • 20 g vars basiliekruid, fyngekap
  • 30 g vars roketblare, vir opdiening (opsioneel)
  • warm ciabatta en botter, vir opdiening (opsioneel)

METODE:

  1. Stel die oond op 200 °C. Soteer die halwe gekapte ui in 15 ml olyfolie tot sag. Voeg die blik tamaties by en geur met gemengde kruie, sout en swartpeper en laat vir 30 minute oor lae hitte kook.
  2. Meng die maalvleis, uie, olyfolie, pietersielie, mosterd, suurlemoensap en ‑skil, rooipeper en ’n bietjie sout en peper in ’n mengbak en roer deeglik. Voeg die eier by en meng goed.
  3. Vorm die mengsel in klein frikkadelle en plaas in ’n oondbak. Bak 15 minute.
  4. Skep die gaar tamatiemengsel in ’n oondbak en versprei eweredig oor die bodem. Plaas die frikkadelle bo-op. Giet die room versigtig oor en sprinkel die gekapte basiliekruid bo-oor. Breek die 8 eiers ook in die bak oop en rond af met sout en peper na smaak. Bak by 200 °C vir ongeveer 20 tot 30 minute, na gelang van hoe gaar jy die eiers verkies.
  5. Plaas vars roketblare bo-op en sit voor saam met bros ciabatta of roosterbrood.

lyn_3.png

Pruimtertjies

Jy kan hierdie versnapering in ’n volledige nagereg verander deur ’n skeppie geklopte room (in plaas van die mascarpone) en ’n porsie vanieljevla by te voeg. Eksperimenteer gerus met die verskillende vrugte wat jy in die tertjies kan gebruik. Die moontlikhede is eindeloos!

BESTANDDELE:

Genoeg vir 8 tertjies

  • 400 g gekoopte blaardeeg
  • 100 g botter, gesmelt
  • 100 g versiersuiker
  • 4 vars pruime
  • 15 ml papawersaadjies
  • 1 vanieljepeul
  • 1 bak mascarpone

METODE:

  1. Stel die oond op 200 °C. Haal die blaardeeg uit die vrieskas en laat ontdooi. Sny in reghoeke (of enige ander vorm), plaas op ’n gesmeerde bakplaat en prik oraloor met ’n vurk.
  2. Bestryk die deeg met die gesmelte botter en sprinkel ’n bietjie versiersuiker oor die hele oppervlak.
  3. Sny die pruime in skyfies en rangskik op die deeg.
  4. Bak vir 20 minute (of tot die deeg gaar en goudbruin is).
  5. Sprinkel die papawersaad oor die gaar tertjies.
  6. Skraap die pitjies uit die vanieljepeul. Meng dit met die mascarpone en skep op die warm tertjies. Sprinkel ekstra versiersuiker oor indien verkies.

lyn_3.png

Kook met Seline

Resepte en stilering deur Seline van der Wat. Kontak haar vir jou funksie of spesiale geleentheid by: www.esbyseline.co.za / info@esbyseline.co.za Twitter & Instagram: @SelineVW

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test