Ontdek jou passie!

Liesel Krause Wiid

Doen jy wat jy moet, maar sonder enige passie? Het jy ’n behoefte aan groter doelgerigtheid en entoesiasme? Begin vandag om daarvoor te bid en te werk.

God se meesterplan vra dat ons in ’n verhouding met Hom moet leef. Hy wil ook hê ons moet in goeie verhoudings met ander saamleef.

Ons moet hemelse hande en voete hier op aarde wees. Ons kry boonop elkeen unieke gawes, talente en passies om ander mee te dien. Dit is ’n wonderlike reis om jou doel en passie op aarde te ontdek.
Passie is ’n baie sterk gevoel of emosie oor iets. Dit is die dryfkrag wat jou aanspoor om sukses te behaal. Jy kan passievol wees oor enigiets, van foto’s neem tot bak en brou.

Gee klein treetjies tot by jou droom

’n Mens kan verskillende passies hê, en daarom het jy nie net een doel op aarde nie. Ek het byvoorbeeld ’n passie om God se Woord met mense te deel en hulle te bemoedig. Ek het ook ’n passie vir die skoonheidsbedryf en om mense te help om finansieel onafhanklik te wees.

As ek net op een area fokus waaroor ek passievol voel, gaan ek dalk iets wonderliks misloop. Ek gaan heel moontlik onvervuld voel. Daarom probeer ek altyd om gebalanseerd by alles uit te kom. Maak ’n lys van al jou passies en drome, die dinge waarin jy belangstel, en skryf dit in volgorde van voorkeur neer. Gaan gesels met mense in die onderskeie velde, en begin dan uitskakel wat jy dink nie vir jou sal werk nie.

Doen skadu-werk saam met iemand wat werk doen waaroor jy droom om self te doen, en vind uit of dit werklik is wat jy wil doen. Jy is uniek geskep om ’n verskil te maak. Jou roeping is om jou volle potensiaal te bereik! Jy is vir ’n doel geskep, en jy beskik oor alles wat jy nodig het om daardie doel te bereik. Dit is hoe wonderlik ons gemaak is.

Begin leef hoe jy onthou wil word

Miskien is jy nie nou in die posisie om jou droom voluit na te jaag nie. Probeer dan om elke dag ten minste ’n stukkie daarvan te beleef! Dalk kan jy vandag ’n telefoonoproep maak, ’n brief skryf of ’n e-pos stuur om ’n tree nader aan jou roeping te beweeg. Baie mense is later in hulle lewe spyt omdat hulle nie gewaag het om hulle droom te leef nie. Moenie jou gawes wegpak vir eendag of jou talente begrawe nie. Gebruik dit!

Met God aan jou kant kan jy jou droom uitleef. Jou Hemelse Pa wil graag hê jy moet suksesvol en voorspoedig leef en jou volle potensiaal bereik.

Die eertydse Amerikaanse president Abraham Lincoln het gesê: “I never had a policy; I have just tried to do my very best each and every day.”

Moet nooit redeneer jy is te oud om iets nuuts te probeer nie. Die Italiaanse komponis Verdi het van sy bekendste werke gekomponeer toe hy reeds in sy tagtigs was en die beroemde kunstenaar Michelangelo het tot sy dood op 88 jaar nog steeds gehaltewerk gelewer.

Hou op verskonings maak en begin net leef!

Lê die moed aan die dag om die eerste tree te gee. Jy sal verbaas wees oor hoe vinnig dinge in plek val. Dit help nie om te sit en tob oor ’n idee nie. Die waarde van idees lê daarin dat jy tot aksie oorgaan. Moenie verskonings uitdink waarom jy nie jou droom kan nastreef nie. Tien persent van mense se sukses is te danke aan ’n goeie skoot geluk, twintig persent aan intelligensie of talent, en sewentig persent is die gevolg van faktore waaroor jy beheer het.

Kies om uit jou gemaksone te beweeg en die lewe met passie aan te gryp. Joan Baez het gesê ’n mens kan nie kies hoe jy gaan sterf nie, maar jy kan kies hoe jy gaan leef. Doen wat nodig is, dan wat moontlik is en voor jy jou kom kry, doen God die onmoontlike in jou lewe! Wanneer jy doen waarvoor jy gemaak is, begin jy lewe.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test