Oor nuwe stories

Dis weer verkiesingstyd en terwyl ek saam met my gesin rondom die braaivleisvuur kuier, los ons die land se probleme op.

Ek kyk na my kinders en is dankbaar dat hulle nog in Suid-Afrika bly.  Ek onthou die jongman wat net nou die dag vertel het hoe sy vriende, wat nou in ‘n ander land bly en werk, eerder wil terugkom na hulle mense en hulle sonskynland.

Ons land het baie stories. Ngoni sit oorkant my.  Sy elmboë druk lig op die bont plastiek tafeldoek.  Ons gesels oor ‘n “Just Juice” en hy suig lank aan sy strootjie.  Hy is siek.  Kanker.  Hy sê hy het baie hoop want hy het belangrike werk wat hy nog moet voltooi.  Hy glo hy gaan gesond word, sodat hy kan aanhou tennis afrig vir kinders wat nie hulle eie balle en rakette kan koop nie.  Hy sê:  “Hierdie kinders het talent, ons moet hulle leer om dit te gebruik”. Ngoni besef die waarde van lewe.  As die oomblik nou sê hy moet rus, dan rus hy en as dit sê hy kan tennis afrig, dan doen hy dit.  “Die kinders vra nie vrae nie, hulle is net bly om my te sien” sê hy en toe hy groet kyk hy lank na my:  “Kom ons gaan aan, tot ons nie meer kan nie”.

Ek lê onder Rosemary se pienk mammogram lig.  Sy het nie geweet haar naam beteken “om te onthou nie”.  Rose, soos almal haar noem, moet aftree, al voel sy nie oud nie.  Haar geboortedatum sê sy is vyf en sestig.  Sy voel baie jonger.  Sy dink sy sal van nou af betrokke raak by ‘n leesprogram vir kinders in gemeenskappe wat nie hulle eie storieboeke het nie.  Mense sê sy het ‘n mooi stem en ek wil langer na haar luister maar die volgende amper laaste pasiënt wag reeds.

Ek ken vir Savannah al ‘n rukkie.  Sy’s vreeslik mooi.  Lang swart hare.  Sy huil, want ‘n vriendin het selfmoord gepleeg.  “Hoekom?” vra sy.  Ek weet nie.  Ek kan net luister.  Ek is hartseer saam met haar.  Sy wou meer doen maar is nie seker wat nie.  Niemand het geweet dit gaan gebeur nie en daar was nie briefies nie.  Dalk kon haar vriendin nie haar eie toekoms sien nie, wie weet.  Ons gesels nog ‘n rukkie oor mooi herinneringe en toe ek haar groet glimlag sy en druk my styf vas.  Voorheen het ons net op ‘n afstand hallo gesê.

Cebisa het ‘n helderblou hemp aan.  Hy sê aanvanklik dat alles met hom goedgaan.  Tot ek dieper kyk. Hy sien ek sien sy swaarkry.  Hy sorg vir sy ma en ook sy suster se kinders wat by sy ma bly.  Hy verdien nie baie geld nie.  Dis kontrak werk.  Hy wonder hoe sy familie weer eendag almal om een tafel sal kan sit en saameet?  Hy dink nie dit is so maklik soos wat ek voorstel nie.  Toe ons groet sê hy dat hy ligter voel.  Hy weet nie hoekom nie.

Emily sê sy is nie seker oor haar identiteit nie.  Sy is nog net ‘n student maar elke dag wonder sy waarheen sy oppad is.  Sy dink sy werk te hard maar sy weet nie waarvoor sy werk nie.  Sy’t ‘n spierwit vel, lang rooi krulhare en lyk soos die meisie in die fliek “Brave”.  Ek dink sy is dapper, sy weet dit nog net nie.

Dan is daar Given en Pieter wat beide vir medies gekeur is na ‘n lang wag en Kimberlin en Annalie wat albei toegelaat is tot ‘n internskap nadat hulle gedink het hulle gaan nooit werk kry nie.  Alles stories van óns land.

Ek dink ons almal wat hier bly is eintlik lief vir mekaar, ons het net die nuutgemaakte stories nodig wat God in *Jeremia 33 belowe.  Hy sê:  “Hulle sal weer in rus en vrede in hierdie land bly.  Ek sal mooi versigtig met hulle werk”.

*Jeremia 33:26

Agtergrond foto:  joyfurniture.co.za