Aktiewe kinders is gelukkige kinders

Hettie Brittz

Ouerskapkenner: Hettie Brittz

My tiener lê heeldag voor die televisie. Ek is bekommerd omdat hy so passief is. Hoe kry ek hom gemotiveer om die nodige daaglikse oefening te kry?

Ledigheid by tieners is redelik normaal, en word dikwels aan hormone toegeskryf, veral tussen veertien- en sestienjarige ouderdom. Dit lyk kompleet of die donskombers twee oë het, en net nou en dan verskyn ’n hand met die TV se afstandbeheerder...

Vind uit of jou kind ledig, passief of depressief is

Passiwiteit, ledigheid en depressie in kinders lê so naby aan mekaar dat ’n mens die onderskeid noukeurig moet tref. Ledigheid is bloot die resultaat van kinders wat nie weet hoe om hulleself besig te hou nie of nie die geleentheid het om stokperdjies te beoefen of kreatief te wees nie. Om passief te wees beteken die kind het nie sy passies ontdek nie. Geen passie is gelyk aan passiwiteit. Die oplossing is nie om ’n interessanter omgewing te skep of meer buitemuurse aktiwiteite te reël nie, maar om jou kind beter te leer ken. So sal jy gou uitvind wat hom laat blom.

As ’n kind voorheen baie aktief was en skielik ledig raak, moet ouers heel eerste depressie as moontlike rede uitskakel. Een van die uitstaande eienskappe van depressie is dat ’n kind nie meer die dinge geniet wat hom voorheen baie vreugde verskaf het nie.

Gedwonge sportdeelname is nie die antwoord nie, veral nie as dit met aandete inmeng nie. Aandete saam om die tafel is volgens navorsers soos die Barna-stigting die beste voorspeller vir ’n kind se sukses in die lewe. Daar word hegte bande gevorm, huisreëls gemaak, prestasies erken en moeilike sake bespreek. Dit is ’n veilige ruimte waar kinders met hulle vreugdes en vrese na hulle ouers toe kan kom. Wanneer sport en buitemuurs met hierdie tyd inmeng, is jou kind eenvoudig te besig. Is dit dalk waarom hy lê as hy ’n kans kry?

Groeiende kinders het baie beweging nodig

Sport hou verskeie voordele vir kinderontwikkeling in. Die spandinamika en kompetisie-element leer ’n kind om meer as net sy eie belange op die hart te dra. As ek in die oggend alleen gaan draf en ek kry ’n kramp of dit is nie meer lekker nie, draai ek eenvoudig om, maar in ’n span is daar reëls. Jy kan nie enige tyd van die baan af loop as jy nie meer lus is vir die wedstryd nie. Hierdie beginsels geld ook vir die lewe. Jy kan byvoorbeeld nie sommer op ’n dag besluit jy is nie meer lus om getroud te wees nie. Sport kweek ’n bepaalde aanspreeklikheid en betroubaarheid by ’n kind.

Op dae wat jou kinders byvoorbeeld nie sport beoefen nie, kan julle saam gaan stap. Of elke lid van die gesin kan ’n beurt kry om ’n tipe oefening voor te stel. Dit sal natuurlik afhang van die grootte van julle erf of die omgewing waar julle bly. Julle kan balle teen die motorhuismuur slaan of ’n ent gaan fiets ry. Waar ruimte dit nie toelaat nie, is daar uitstekende programme op Xbox of Wii beskikbaar vir kinders om goeie oefening te kry in die gemak van die sitkamer. Daar is dus geen verskoning om onaktief te wees nie.

Doen saam oefening en skep ’n aktiewe kultuur tuis

Stel ’n reël in dat jou kind vir elke halfuur se TV-kyk ’n halfuur lank buite moet speel. Of gedurende ’n uur lange TV-program kan die gesinslede beurte maak om met handgewigte ’n stel van agt bisepskrulle of opstote te doen, en die gewig dan na die volgende persoon aan te gee.

Nog ’n manier om kinders aan die beweeg te kry is deur gesinspeletjies. Gooi ’n klomp papiertjies in ’n hoed met opdragte. Die opdragte kan wees: Hardloop een keer om die huis, doen tien opstote of vyf sterspronge.

Ons het op ’n stadium ons eie aërobiese klasse by die huis gedoen. Dit werk op die Follow the leader-beginsel en elke gesinslid kry ’n beurt om ’n oefening voor te stel. Jy moet so kreatief as moontlik wees en almal moet deelneem.

Een van die beste maniere om aktief te wees is om die natuur te verken. Gaan stap saam met jou kinders in die park en maak sommer ’n nuwe bewustheid en bewondering vir die natuur in hulle wakker.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.