Die A tot Zzzz oor goeie slaapgewoontes

Hettie Brittz

Ouerskapkenner: Hettie Brittz

Om genoeg te slaap is vir kinders én ouers net so belangrik soos om gesond te eet. Te min van dié wondersoete ding maak die hele gesin knorrig. Gevolglik is dit belangrik om van vroeg af gesonde slaapgewoontes by jou kinders te kweek.

Moeë kinders raak maklik hiperaktief

Wanneer ons slaap, kry die liggaam kans om te herstel en te vernuwe. Dit is waarom ’n goeie nagrus baie belangrik is vir ’n kind se ontwikkeling, fisies en emosioneel.

Slegte slaap beïnvloed ook ’n kind se eet-, speel- en wakker tyd. Hulle kan byvoorbeeld nie baie lank konsentreer nie en is knorrig of lusteloos. ’n Mens verwag dikwels dat skoolgaande kinders soos grootmense moet reageer as hulle moeg is. Hulle moet heeltyd gaap en lusteloos en geïrriteerd voel. Kinders wat nie genoeg slaap nie of moeg is, raak egter eerder hiperaktief. Woede-uitbarstings kom ook nogal gereeld by moeë kinders voor. Moenie net aanvaar jou kind is nie moeg nie, bloot omdat hy rondhardloop en baie energiek voorkom. Dit is heel waarskynlik sy onvolwasse reaksie op ’n gebrek aan slaap.

Baie ouers dink hulle kleuter sal beter slaap snags sonder ’n middagslapie. Vir kinders onder vyf is ’n slapie deur die dag eintlik nog broodnodig.

Wees simpatiek oor nagmerries en nagvrese

Van ongeveer die ouderdom van vier jaar begin kinders nagmerries kry. Nagmerries wat deel is van normale slaap en nie verband hou met enige spesifi­eke emosionele probleem nie, kan aanhou tot jou kind agt is. Nagmerries gebeur in die ligte slaapfase wanneer jy droom. As die droom jou kind baie ontstel het, troos met empatie. Jy kan dalk ’n dowwe nagliggie aanskaf langs die kind se bed. Die goeie nuus is dat nagmerries verbygaan, en kinders vergeet meestal gou van die nare monsters in hulle drome.

Anders as met ’n nagmerrie, sal ’n nagvrees jou kind laat wakker word met ’n hart wat vinnig klop. Hulle is dikwels ontroosbaar. Nagvrese gebeur in die diep slaapfase. Hou jou kind net styf vas en gee hom die versekering dat jy naby is. Navorsing wys dat nagvrese meer voorkom by kinders wat geen slaaproetine het nie. Wees ook bedag op die stimulasie wat hy kort voor slaaptyd kry.

’n Kind wat teen slaaptyd skielik honger of dors is en nog net gou dit of dat wil doen, is besig met ’n slim uitsteltegniek. Stel duidelike slaaptydgrense. Luister na jou kind se gevoelens. Sê dan byvoorbeeld jy weet sy wil hê jy moet by haar lê tot sy aan die slaap raak, maar dat jy nie kan nie omdat jy ook dinge het om te doen. Waak ook teen kafeïen drankies, sjokolade en medikasie met stimulante kort voor slaaptyd.

Dril ’n slaaproetine in en beperk skermtyd

Leer jou kinders van vroeg af om self aan die slaap te raak. Moenie hulle gewoond maak daaraan dat jy by hulle sit tot hulle aan die slaap raak nie.

Maak ’n reël dat jou kinders slegs buite die slaapkamer op hulle elektroniese toestelle besig mag wees, en beperk die blootstelling aan TV- of selfoonskerms vir ten minste ’n uur voor slapenstyd. TV’s, rekenaars, tablette en selfone is stimulerend en onderdruk die liggaam se vermoë om die hormoon wat jou help om te slaap, reg af te skei.

Teen slaaptyd moet die atmosfeer in die huis kalm raak. Dit geld nie net vir babas nie, maar ook vir groter kinders. Hulle moet hulle slaaptydroetine ken. Dit is eers aandete, badtyd en daarna storietyd. Hierdie roetine moenie langer as ’n halfuur uitgerek word nie, want dan gaan jou kind al klaar te lank neem om aan die slaap te raak.

Almal kan vir ’n rukkie gesels oor wat die volgende dag moet gebeur, of wat sleg of lekker was deur die dag. Die iPads en iPods moet verkieslik buite die slaapkamer bly. Die towerformule vir goeie slaapgewoontes is om die regte omstandighede te skep vir slaap, en seker te maak alle basiese behoeftes is versorg. Dan behoort die Klaas Vakie-staking vir eers op ’n einde te wees.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA