Fiemies en fieterjasies met kos

Lily Geerdts

Elke ma ken daardie magteloosheid wanneer jou kind verkeerd eet of glad nie wil eet nie. Lily Geerdts vertel hoe sy fiemies met kos hanteer.

Ai, toggie! Dis weer een van dáárdie dae. Dis asof daar ’n sameswering onder die kinders is om op een dag moeilik te wees. Ons is op pad na ons weeklikse gesinsuitstappie na ’n organiese mark om die hoek, maar Kinah (15), my en Arnold se oudste, wil pizza vir ontbyt hê. Shiloh (3) eet darem haar hawermout, maar ek weet ook dat sy vir middag- en waarskynlik aandete weer by hawermout gaan vashaak. Hawermout, seldery en komkommers. Alles gesonde kos, maar sy kry nie daarmee eintlik enige proteïene in nie. Lileah (8), my middelkind, is genadiglik (in hierdie stadium) maklik wanneer dit by kos kom.

Verkeerde eetgewoontes veroorsaak emosionele skade

’n Stryd met kos is iets waaraan ek my lewe lank gewoond is. Omdat ek self bulimie oorwin het, weet ek hoe die brein absoluut afhanklik is van die kos wat ons inneem. Ek glo my verlede het my voorberei op wat later in my lewe sou gebeur.

Ongeveer ’n jaar nadat ek en Arnold getroud is, is veelvuldige sklerose by sy vorige vrou gediagnoseer. Nie lank daarna nie is sy oorlede. Skielik het ek die ma van die sesjarige Kinah geword. Hy is toe deur ’n sielkundige geëvalueer. Die uitslag: Kinah het erge emosionele probleme en toon tekens van AHD. Die onderwysers by die skool het gemeen dat Kinah nie oor ses maande skoolgereed gaan wees nie. “Gaan nie” en “kan nie” is egter nie iets wat in my of Arnold se woordeskat bestaan nie. Ek het onmiddellik navorsing gedoen en die eerste stap was om sy dieet van kitskos en Coke te verander na organiese en vars kos sonder preserveermiddels. Lekkernye is beperk tot naweke.

Dit is in daardie tyd dat ek die wonder van omega 3-aanvulling ontdek het. Kinah het begin met twee kapsules ’n dag, wat ek later verminder het tot een kapsule. Daar was dadelik resultate. Sy konsentrasie het so verbeter dat hy later nie meer medikasie hoef te gebruik het nie. Vandag nog gebruik ons hele gesin omega 3-olie. My dogtertjies eet dit soos lekkergoed. In die aand sê ek nag vir sulke visasempies.

Ek is nie as ’n dieetkundige opgelei nie, maar deur navorsing en wonderlike mense wat ek ontmoet het, het ek myself met baie kennis toegerus. Die dag toe ek besef het hoe min ouers regtig weet van die effek wat kos op hulle kinders het, kan ek baie goed onthou.

Dit was tydens ’n kuier by my ouers in Bloemfontein dat ’n dokter my gevra het dat om saam met hom een van sy pasiënte te besoek. Die pasiënt was ’n negejarige seuntjie wat met sy 100 kg die hospitaalbed vol gelê het. Ek kon sien hoe ongelukkig hy is. En toe kom die ma daar aan met ’n hele hoender en aartappels.

“Maar dis gesonde kos,” het sy geskerm.

“Mevrou,” het die dokter begin, die ingehoue emosie duidelik hoorbaar in sy stem, “met daardie hoeveelheid kos sal jy jou kind se hart ooreis net om al die kos verteer te kry. Dit kan hom doodmaak.”

Die skade wat daardie ma aan haar seun doen, is nie net fisiek nie, maar ook emosioneel.

Ouers maak hulle kinders lief vir ongesonde kos

’n Kind word nie noodwendig met ’n voorliefde vir suiker gebore nie, maar as jy jou baba eerste vrugtepuree gee om te eet, is dit later moeilik om na groente oor te skakel. Dan het hulle klaar gewoond geraak aan ’n soet smaak. Selfs al kry jou kinders ’n vloermoer in die winkel omdat hulle eerder Spiderman- en Winnie the Pooh-jogurt gaan kry, is dit steeds jy wat besluit wat om te koop.

Emosie moet geheel en al van kos geskei word. Ouers gebruik te dikwels kos as ’n manier om kinders stil te kry of goeie gedrag te beloon. Ek word so kwaad as ’n kind aan die einde van ’n swemles lekkergoed kry omdat hy goed geswem het. Die boodskap wat uitgedra word, is net nie logies nie: Nadat jy oefening gedoen het, word jy met ongesonde kos beloon.

Net so glo ek nie ’n kind moet gedwing word om alles op sy bord op te eet nie. Tog moet daar reëls wees wat die lewe vir jou makliker maak. In ons huis is dit baie eenvoudig: As jy nie al jou kos wil eet nie, sal ek dit vir jou bêre, maar jy mag nie tussendeur aan iets anders peusel nie. As jy later honger word, gee ek weer vir jou die kos wat ek gebêre het.

Kinders is na-apers. As jy self nie reg eet nie, kan jy nie verwag dat hulle reg gaan eet nie. Die hele gesin moet dit doen. Ons kombineer kos en etes met gesinstyd. Ons het ’n kruie- en groentetuin waarin ons almal werk. Nie net is ons dan gesin saam nie, maar dis asof kos nie so vreemd vir kinders is as hulle sien hoe dit groei nie.

Vrydae gaan koop ons organiese vrugte, groente en vleis en Saterdagoggende bak ons sommer almal saam gesonde muffins of appelkoosvierkante. In die week gryp almal dan net hulle kos vir die dag. Vir my is dit goed as seuns en dogters help om kos te maak. Dit maak die lewe wanneer hulle eendag uit die huis is baie makliker.

Meer kennis is nodig vir beter besluite

In voeding is balans is die antwoord. Navorsing het bewys dat kinders wat glad nie kos soos lekkergoed en skyfies kry nie, hulle heeltemal ooreet wanneer dit wel vir hulle beskikbaar is. As jy egter die nodige kennis het, kan jy beter besluite neem.

Die kakaoboon is byvoorbeeld vol voedsame nutriënte. Vir ons Geerdtjies, wat ’n klomp sjokoliste is, is dit goeie nuus, want dit beteken dat donker sjokolade, wat teen ’n laer temperatuur vervaardig word, selfs meer antioksidante as groentee bevat.

Jy kan steeds vir jou kinders pizza en hamburgers gee – gebruik net gesonder bestanddele. Gebruik jou kreatiwiteit en pak wortels en seldery in die vorm van ’n gesiggie. Maak ’n interessante prentjie met ’n volgraanbroodjie deur ’n koekiedrukker te gebruik.

Ek weet ma’s is besig en ek besef kook is nie vir almal lekker nie, maar as ons nie ons kinders gesonde kos gee nie, benadeel ons nie net hulle gesondheid nie, maar stuur hulle met ’n swak selfbeeld die wêreld in wat jare gaan neem om te herstel.

Met net ’n bietjie inligting, glo ek, sal ouers beter besluite kan neem. Dit is waarom ek ’n niewinsgewende organisasie, HeadStart Kids, begin het sodat ek mense kan bemagtig om goeie besluite te neem.

God het ons die wonderlike geskenk van kinders gegee. Ons kan hulle nie verwaarloos met ongesonde kos nie.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.