Gee jou kind self die stimulasie wat hy nodig het

Dit is nie nodig om honderde rande aan opvoedkundige apparate te spandeer nie. Jy’t ’n hele huis tot jou beskikking om jou kind te help ontwikkel.

’n Koerant is ’n wonderlike ding

Iets eenvoudig soos ’n koerant is ’n goeie voorbeeld waar jy nie duur toerusting nodig het om kinders van verskillende ouderdomme te stimuleer nie.

Vir klein kindertjies kan jy ’n stuk koerantpapier gee om op te frommel en in stukke te skeur. Of vou die koerant sodat hulle dit in stroke skeur. Dit is van die beste oefeninge wat jy vir jou kind kan gee om daardie klein spiertjies in die hande te laat ontwikkel. Dis belangrik dat die kind dit self doen.

Of jou kind kan vir jou prente soek. Foto’s van ’n motor, koffie of suiker of soek ’n ouma se gesig wat lag of iemand wat kwaai lyk.

En dan kan ’n mens bo-oor koerantpapier verf en met kryte daarop werk. Dit is ’n wonderlike ding om op te teken, te krap en in te kleur. Kinders wat sensories sensitief is, gaan natuurlik ’n bietjie meer geassisteer moet word.

Gebruik bakke en eetgerei in die kombuis

In ’n kombuis is daar verskillende plastiekbakke. Allerhande kleure, soorte en vorms. Vra vir jou kind om al die blou bakke en deksels uit te haal. Of vra hom om die kleinste potjie in die kas te soek, want jy wil sous daarin maak.

Laat jou kind jou help om die tafel te dek. Hulle moet genoeg messe, vurke, borde en servette vir almal uithaal.

Sorteer en tel klere

Selfs al het hy nog nie sy eie kamer nie, kan klere in die kaste ingespan word. Sorteer en vergelyk die klere volgens kleure, groottes, volgens mamma en pappa s’n.

Terwyl jy jou kind aantrek, is daar soveel goed wat jy kan doen. En al klink dit vir jou simpel is dit van geboorte af nodig om met jou kind te praat. Waar anders gaan hy die nodige woordeskat kry? Dit moet daardie soort natuurlike taal wees wat die kind moet hoor. Dit is verskriklik belangrik dat jy soveel as moontlik met hom gesels:

“Kom ons tel die knope terwyl ons jou truitjie vasmaak. Een-twee-drie knopies aan die trui. Ek sit dit aan jou linkerhand, trek dit nou oor jou regterarm. Ons is nou nog in die kamer. Ek trek jou skoen aan jou regtervoet. Kom ons maak die veters vas.”

Maak seker hy ken sy lyfie

As jou kind in die bad klim of voor die spieël staan, is dit nodig om sy liggaamsdele te benoem: “Dit is my kop en nek en skouers en ons was onder ons arms.”

Maak sommer simpel lawwe liedjies op of leer hulle om hulle eie rympies te maak. Iets soos “Ek was my arms op en af, ek was my bene heen en weer, ons skrop ons voete, want dis vuil.”

'n Tuin is ’n opvoedkundige paradys

Hoe meer jou tuin soos ’n plaaswerf lyk, hoe beter. Die verskillende teksture van grond, klippies en gras moet deur jou kind met sy voete en hande ervaar word. En as hy ’n doring in sy voet kry is dit deel van die lewe. Hulle sal niks oorkom om selfs in die winter ’n bietjie in die middel van die dag kaalvoet te loop nie.

Water is skaars, maar deur vir jou kind een emmer te gee waarmee hy in die tuin kan speel, sal dit darem nie ’n nasionale ramp veroorsaak nie. Water en grond is van die natuur af en die natuur is die heel beste kinderopvoedingsapparaat.

Wees maar by as hulle speel. Gee vir hulle verskillende goed waarmee hulle kan speel soos daardie verskillende plastiekbakke in die kombuis. Grotes, kleintjies, ’n lang houer, ’n klein houer. Laat hulle verskillende hoeveelhede afmeet. Gooi ’n appel in die bak wat tot onder gaan sink, maar ’n klein, leë ronde Tupperbakkie gaan bo-op dryf. Gee vir hulle goed waarmee hulle kan ontdek: “Kom ons kyk hoeveel koppies water kan ons in hierdie groot beker gooi. Kom ons tel die koppies.”

Die belangrikste is weereens dat jy tyd saam met jou kind spandeer. Jou gesels met jou kind is baie belangriker en waardevoller as al opvoedkundige speelgoed wat jy saam op die rak en internet kan koop.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.