Maak ’n goeie kansvatter groot!

Om te waag is om te groei. Dit kan egter gevaarlik wees om risiko’s te loop. Hoe leer jy jou kind om gesonde kanse te waag?

Gesonde, gebalanseerde kinders moet kanse kan waag. Dit leer hulle oor vrees en moed. Dit laat hulle dinge beleef, laat hulle groei en laat hulle voel hulle lééf. Jou werk is om jou kinders voor te berei vir die lewe sodat hulle dit vol selfvertroue, met respek vir ander en produktief kan aanpak.

Wat is die kenmerke van ’n gesonde kansvatter?

Suksesvolle mense gaan voluit vir iets nadat hulle dit goed oordink het. Hulle reik net so ’n bietjie verder en kan meetbare spronge neem om nuwe uitdagings te probeer. Hulle kan teleurstellings en mislukkings hanteer, want hulle weet beide is noodsaaklik om te groei.

Soms is die doelwit maar ver, en die kind kan nie noodwendig die eindresultaat sien nie. Deursettingsvermoë is daarom noodsaaklik. As hulle slaag, put hulle plesier uit hulle prestasies. Hulle geniet wat hulle bereik het, maar is ook realisties oor waartoe hulle in staat is.

Dit kan gevaarlik wees om te waag

Sommige kinders word gebore met die neiging om groter kanse te vat. Tog kan almal leer om goeie emosionele kanse te waag.

Jy moet weet dat daar verskillende risiko’s is wat verskillende emosies by jou kind sal ontlok. Om ’n doelwit te behaal laat haar selfversekerd voel. Maar elke keer as ’n kind so ’n kans waag, loop sy ook die risiko om te misluk.

Dit is altyd ’n groot risiko om verhoudings aan te knoop. As kinders geïgnoreer of verstoot word, kan dit gevoelens van eensaamheid en vernedering veroorsaak. As die kans wat hulle waag, egter suksesvol is en in ’n verhouding verander, ervaar die kind die plesier om ander te ken.

Om jou eie geloof, oortuigings en idees uit te druk, kan ook ’n groot kans wees om te waag. Dit kan gevaarlik voel om jou idees aan die wêreld oor te dra. ’n Kind kan geweldig baie onsensitiewe kritiek van sy maats kry en voel hulle verstoot hom.

Jy moet haar aanvaar en kan luister

Jy kan die manier waarop jou kinders risiko’s benader, beïnvloed en hulle leiding gee. Jy moet verstaan hoe kinders leer om kanse te waag. Dan is jy gereed om ’n proses van selfondersoek te begin en om te leer om na jou kind te luister.

Selfondersoek help jou om jouself te sien soos jy is, met jou foute en sterk punte. Daarna kan jy jou kind sien vir wie hy of sy werklik is. Dit is belangrik om te besef dat jou kind nie ’n verlenging van jouself is nie, maar ’n unieke mens in eie reg.

Deur aktief en sensitief na jou kind te luister stuur jy vir hom ’n emosionele boodskap: Ek is hier, en jy is nie alleen met jou gevoelens nie. Ek ondersteun jou, of jy nou slaag of misluk.

’n Gesonde kansvatter loop daardie intellektuele en emosionele risiko. Sulke kinders is gebalanseerd en objektief. Hulle sal ook nie sommer met die massas saamstem en stereotipes en kulturele vooroordele aanvaar nie. Hulle sal die moed en oortuiging hê om hulle eie sê te sê en besluite te neem, al stel dit hulle sosiale posisie in gevaar. Hulle is nie bang om stroomop te swem nie!

Artikel vertaal en verwerk uit Raising Children Who Soar (Susan Davis).

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.