Maak ’n mense-mens groot

Hettie Brittz

Is jou kind permanent doenig op sy foon? Dit is nou wel ’n digitale era waarin ons leef, maar dit is steeds nodig vir kinders (van kleuters tot 18-jariges) om basiese kommunikasietegnieke toe te pas, soos om oogkontak te maak of te weet hoe om geselsies met ander aan te knoop.

Facebook leer niemand interpersoonlike vaardighede nie

’n Professor aan UCLA, Gary W. Small, meen jong mense bestee soveel tyd op elektroniese toestelle dat hulle nie die basiese beginsels van menslike interaksie verstaan of kan bemeester nie.

Wat sosiale media nié vir ons kinders leer nie, is om jou beurt in ’n gesprek af te wag en erkenning te gee vir iemand se bydrae tot die gesprek. Daar is ook nie ruimte om te oefen om nieverbale kommunikasie soos lyftaal, stemtoon en gesigsuitdrukkings te interpreteer en toepaslik daarop te reageer nie. ’n Emotikon met ’n stroom trane onder elke oog kan nooit dieselfde boodskap oordra as ’n drukkie wat jy met jou eie lyf gee nie.

Om persoonlik ’n gesprek met iemand aan te knoop, moet jy die ander party se belangstelling identifiseer en jou oomblik reg kies. Jy moet ook besluit hoe naby jy aan die persoon gaan staan, hoe hard of sag jy gaan praat afhangend van of jy op ’n pawiljoen of in ’n biblioteek sit. Dit kan nie deur ’n WhatsApp-gesprek geleer word nie!

Interaksie is nie net sinnetjies oor en weer nie. ’n Mens antwoord nie sonder om daaroor te dink nie. Jy aarsel, dink na oor jou antwoord en redigeer soms jou reaksie. In ’n persoonlike gesprek dra elke woordkeuse gewig. Elke aarseling en verandering in stemtoon, asemhaling en fyn mikro-uitdrukkings spreek boekdele.

Persoonlike gesprekke is baie beter as emotikons

Ek hoor dikwels dat kinders verward is oor hulle maatjie nie meer van hulle hou nie, en hulle weet nie hoekom nie. Die eintlike probleem is dat die maatjie se WhatsApp-boodskappe vol hartjies en presentjies en glimlaggende gesiggies is, maar sy weet glad nie hoe om haar gevoelens in ’n persoonlike gesprek uit te druk nie. Sonder emotikons weet kinders amper nie meer hoe om die tekens te lees van “hou van” of “hou nie van” nie!

Leer jou kinders die waarde van ’n groepgesprek. Dit werk baie beter as ’n chatroom... In ’n gesprek wat jy van aangesig tot aangesig voer, beleef jy ander se woorde, maar ook hulle liefde, respek, ondersteuning, lojaliteit en deernis. Hierdie opregte gevoelens kan maklik op sosiale media vervals word. Wat soos werklike verhoudings voel, is gebaseer op wat elke persoon kies om van hulleself te wys. Maar in persoon onthul ons onbewustelik baie dinge oor onsself deur ons lyftaal. Dit maak verhoudings baie ryker as net blote woorde en emotikons.

Wees streng oor selfoon- en tabletgebruik in jou huis

In ons huis mag elektroniese toestelle nie eers naby die tafel wees met etenstyd of gesinsaande nie. Ons het ook besluit dat elke persoon in ons huis net een tipe boodskap met ’n luitoon mag hê. Met ander woorde, as eposse, Facebook- en WhatsApp-boodskappe na my foon deurkom, is daar geen luitone nie. Net my SMS’e piep. Anders voel dit later of vyftig mense gelyktydig jou aandag vereis en daardeur gesprekke mag onderbreek. Dit is eenvoudig ongeskik.

Dit is maklik om kinders vir hulle digitale verslawing te blameer, maar kinders leer tog oor interaksie deur vir Ma en Pa dop te hou. Alle riglyne oor sosiale media in ’n gesin moet dus vir al die lede geld. Vir jou kind is ’n boodskappie van ’n maat dalk net so belangrik soos wat die epos van jou baas vir jou is.

Moet nooit vir jou kinders ’n slimfoon of iPad gee om hulle tydens ’n kuiersessie of uiteet besig te hou nie. Dit stuur die boodskap: As die gesprek aan tafel jou nie direk raak of interesseer nie, mag jy jouself elektronies vermaak of met iemand anders begin kuier.

Beperk aanlyn toestelle tot ’n gedeelde ruimte. So kan jy dit beter monitor en beheer. Vervul kinders se normale behoefte aan interaksie met betekenisvolle gesprekke, speletjies en saamdoen-dinge. Ons kan nie hulle sosiale “kruk” wegneem sonder om dit met iets beters of meer vervullend te vervang nie.

Daar is ’n gesegde wat algemeen die rondte doen van iemand wat sou gesê het: “I fear the day technology will surpass our human interaction. The world will have a generation of idiots.” Dink hieroor na elke keer as ’n slimfoon of iPad in jou huis piep.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.