Maak seuns so na jou hart groot

Bernelee Daniell

Om ’n gentleman te wees is beslis nie outyds nie. Bernelee Daniell vertel hoe sy haar twee seuns die fynere dinge in die lewe leer.

“Ma, die meisies in my klas sê jy is ’n koningin?” het my oudste, Mikah, eendag gevra toe hy by die huis kom. Die kinders of hulle ouers moes my seker herken het, want my eie seuns het nie geweet dat ek eendag, lank, lank gelede, Mej. Suid-Afrika was nie. Ek het nog nooit daaraan gedink om die video van die kroningsplegtigheid na ’n DVD oor te dra nie.

Sedert daardie dag was Mikah (14) en Mateo (12) al dikwels genoeg saam met my by die jaarlikse kroningseremonie om te weet dat hierdie “koningin” nie in ’n paleis woon nie, maar deur daardie titel die geleentheid kry om ’n verskil in mense se lewens te maak. Toe die meisies in Mateo se klas onlangs vir hom vra of hy weet dat sy ma ’n voormalige Mej. Suid-Afrika is, het hy blykbaar net sy oë gerol: “Natuurlik, sy is my ma en ek weet alles van haar!”

Mans wat hulle man met selfvertroue kan staan

Dit is hoe dit nog altyd met Team M was. Ons weet alles van mekaar, ondersteun mekaar, is daar vir mekaar. Of hulle nou bergfiets ry, swem, yshokkie speel, ek is altyd daar, maar net ek kon aan die Muddy Princess Challenge deelneem. Ek was amper ’n bietjie hartseer daaroor.

My kinders was baie trots op my dat ek hierdie hindernisbaan in modder aangepak het. Om elke hoek en draai het hulle gestaan, selfone in die hand om foto’s te neem en aan te moedig. “As iets te moeilik is, moet Ma net na die volgende ding gaan,” het ek myself in hulle raad gehoor.

So trots soos hulle op my is as ek sulke wilde goed aanvang, so beskermend is hulle. Soms amper té erg. Waar hulle verlede jaar nog baie opgewonde was dat ek saam met hulle uit ’n vliegtuig gaan vryval het, het hulle vanjaar besluit dit is te gevaarlik. Nie dat ek omgee nie. Dit is hoe ek wil hê my seuns moet wees. Gentlemen, soos in die outydse sin van die woord. Hulle moet vroue soos dames laat voel, weet watter eetgerei hulle by watter dis van ’n vyfgangmaal moet gebruik, maar steeds sterk, vol selfvertroue en eerlik wees. Mans wat hulle man kan staan.

Almal het altyd gedink dat dogtertjies beter by my sou pas, maar ek verruil my twee seuns vir niks in die wêreld nie. Ek is ’n regte seuntjie-ma. My lewe saam met Team M is een groot avontuur en nie ’n oomblik vervelig nie. Saam met hulle doen ek goed wat ek nooit sou gedoen het nie en verskuif ek ook my persoonlike grense. In my lewe het ek nooit gedink dat ek in modder sou gaan klim en klouter nie!

My kinders is seker ’n bietjie meer verantwoordelik as ander kinders van hulle ouderdom. As ’n enkelma die afgelope tien jaar moes ek maar baie goed saam met hulle so op ons eie uitgewerk het. Ek het nooit van hulle verwag om die rol van “man in die huis” oor te neem nie, maar daar is nie ’n manier dat ek alles in die huis self kan doen nie. Soms, as ek moeg is, sal hulle byvoorbeeld kos maak om my ’n bietjie te bederf, maar ek glo dit leer hulle om eendag leiding in die regte wêreld te kan neem. Boonop sal hulle nooit honger ly as hulle eendag uit die huis is nie.

[VIDEO] Bernelee Daniell vertel hoe sy onthou-oomblikke saam met haar kinders skep.

Iemand wat opstaan vir dié wat swakker is

Omdat ek die seuns saam met my na funksies toe neem, het hulle goeie maniere en etiket eintlik op ’n baie natuurlike manier aangeleer. Hulle het van jongs geweet dat jy mense in die oë kyk wanneer jy hulle hand skud. Om ’n vrou eerste by die deur te laat uitloop en sulke goed, is vir hulle feitlik al tweede natuur.

Tydens ’n onlangse vakansie saam met my ouers by die see, het Mikah aangebied om my ma se inkopiesak te dra. Dit het seker vir hom swaar gelyk. Op pad strand toe het Mateo haar gehelp om oor die rotse te kom. Nodeloos om te sê, Ouma was baie beïndruk met haar kleinseuns.

Daar is vir my niks mooier as ’n man wat empatie met ander het nie. Iemand wat hom kan indink hoe iemand anders voel en opkom vir dié wat hulleself nie kan verdedig nie. Baie mense wil nie hulle kinders aan armoede en swaarkry blootstel nie. Ek stem nie saam nie en vat my kinders saam na my liefdadigheidsprojekte.

Toe hulle nog klein was en ’n nuwe speelding wou hê, moes hulle eers een van hulle ou speelgoed uithaal om later aan minderbevoorregte kinders uit te deel. Toe ons ’n sak vol speelgoed gehad het, het ek hulle na die kinderhuis geneem om die speelgoed te gaan uitdeel. Toe ek weer sien, speel my twee seunskinders sokker met die kinders dat die stof so staan. Blootstelling aan sulke situasies, glo ek, help kinders om die wêreld uit ’n ander perspektief te sien en te waardeer wat hulle het.

Mense moet op my seuns kan vertrou

Een van die moeiliker lesse wat my seuns moes leer, was om soos ʼn man te verloor. Hulle is al twee baie goed in sport, maar ook baie kompeterend. Dit is veral spansport wat vir hulle moeilik was. As jy alleen deelneem, kan jy jouself die skuld gee as jy nie goed doen nie, maar met ’n sport soos sokker is jy van jou spanmaats afhanklik en gaan jy soms verloor.

Wat die kinders nie kan verduur nie, is as hulle sien hoe ’n volwassene, wat veronderstel is om ’n voorbeeld te stel, hulle swak gedra. Nou die aand na ’n sokkerwedstryd kon ek sien iets vreet aan Mikah. Dit gaan toe oor die afrigter van hulle opponente, wat na die wedstryd na Mikah se span, wat verloor het, gekom en in hulle gesig vir hulle gelag het. “Hy was so onbeskof, Ma,” het hy net oor en oor geprewel.

Die ander waarde wat spansport kinders leer, is toewyding. Jy moet saam met jou span in die oggend oefen al is dit hoe koud, anders laat jy hulle in die steek.

Met al hierdie dinge probeer ek om my seuns manne van hulle woord te maak. Ek wil hê dat die mense in hulle lewe kan weet dat hulle op Mikah en Mateo kan vertrou en kan weet dat hulle jou nie in die steek sal laat nie. Dink net hoe gelukkig en dankbaar gaan die vroue in hulle lewe eendag wees! En ja, hierdie ma is só trots!

 

 

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.