Volwasse kinders in die huis?

Jacqui January

lyn_3.png

GRATIS

Help, ek is 'n skoonma (skoondogter)! In hierdie boek vertel 30 vroue wat vir hulle werk en wat nie. Die moeders wat hulle wysheid deel, sluit in Elise Grey, Wanda Bam en Nina Smit. Die dogters wat uitpraat, is onder andere Gretha Wiid, Karlien van Jaarsveld, Amy Kleinhans en Mandi Baard. Kliek hier om Elzette Maarschalk se uittreksel gratis af te laai.

lyn_3.png

Boomerang kids – dié verskynsel van volwasse kinders wat weer terugkeer na die ouerhuis. Jacqui January vertel hoe sy en haar twee dogters hulle situasie hanteer.

“Ek was 23, pas klaar gestudeer, ver van my huis en sonder ’n nessie van my eie. Op die dorp waar ek my eerste werk gehad het, was daar net munisipale behuising beskikbaar. Jy moes egter ’n onafhanklike gehad het om daarvoor te kwalifiseer. Ek het nog nie kind of kraai gehad nie en het toe maar in ’n karavaan gebly. Ek hou van nesskrop en het dit so huislik moontlik gemaak. In die tyd het ek ’n paar waardevolle lewenslesse geleer, maar ek wil nooit weer in ’n karavaan bly nie.

Kinders moet nie oorhaastig die huis verlaat nie

“Deesdae werk dinge anders. Op ’n manier dink ek my dogters het dit makliker as ek omdat ons geografies so naby aan hulle is. Met my ouers doer ver in Namakwaland moes ek maar net bitter vinnig grootword om te oorleef.

“Nie een van my kinders het direk na skool ons huis verlaat nie. My oudste Carlene het eers op 25 uit die huis gegaan. Alhoewel sy as prokureur nog altyd gelukkig was om ’n werk te hê, was die geldjies tydens haar klerkskap en beginjare maar skraal. Sy kon nie anders as om nog in ons huis te bly nie.

“Dieselfde gebeur nou met ons negentienjarige Kristin wat soos haar sussie ook regte vanuit die huis studeer. Ons is so gelukkig. Die universiteit is skaars tien minute van ons huis af. Ek en my man het die dogters probeer help deur die rente van hulle studielenings af te betaal. Wanneer Kristin klaar gestudeer het, hoef sy dus net die lening terug te betaal. Ons gesels oor dié goed sodat sy nie eendag oorhaastig die huis verlaat en ewe oorhaastig terugtrek omdat sy dit nog nie kan bekostig om op haar eie te wees nie.”

Hormone kan soms in die pad kom

“Die dag toe Carlene uittrek, was ’n verligting, want twee volwasse vroue in een kombuis is maar bietjie moeilik. Ek het gou besef dat die verlange baie erger is. Ons was baie opgewonde toe ons hoor sy kom terug huis toe.

“Haar intrek was egter beplan en ’n seën vir almal. My man is so agt maande gelede met kanker gediagnoseer. Carlene is baie geheg aan haar pa en dit was een van die redes hoekom sy besluit het om terug te kom.

“Boonop word ek binnekort ouma. My dogter en haar man het ’n woonstel, maar daar word nou woes gespaar vir hulle eerste huis. Ons wil ook graag baie betrokke wees by die eerste paar jaar van ons kleinkind.

“Die saamblyery is egter nie net maanskyn en rose nie. Kinders bly maar kinders al is hulle 30 en 19. Hulle vat steeds hulle kanse met kamers wat deurmekaar is en onthou elke dingetjie wat hulle gedoen het – van ’n koffiemaakbeurt tot wanneer een van hulle vir ete gesorg het. Net vir in geval die een meer doen as die ander een.

“Nog iets wat kan sukkel, is hormone. Carlene is swanger, ek is oor vyftig en Kristin het ook maar haar af dae. Veral omdat ek en Carlene so baie dieselfde is, is dit soms ’n geval van dieselfde pole wat mekaar afstoot.

“Ek probeer my in haar skoene dink. Toe ek dertig was, was sy al vyf. Ek het my eie huis en huishouding gehad. Dit moet vir Carlene ook moeilik wees. Sy is ’n volwasse vrou wat haar eie besluite kan neem. Ek het nou die dag vir haar gesê ek kies om nie te baklei nie.

“Een ding waaroor ek en die dogters verskil is ons keuse van klerewinkels. Volgens my is hulle nogal “inkopiesnobs”. My prioriteite is maar net anders. Ek hou pryse dop en is nie so handelsmerkbewus nie. Hulle wil sekere kettingwinkels ondersteun en ek dink dit is “penny wise, pound foolish”.

Blog: ”Ek sal die dag nooit vergeet nie.  Ek het haar van ver af sien aankom. Haar lang, maer lyfie krom en haar kop afwaarts gewend.  Sy het haar sportklere aangehad en was oppad netbal toe. Toe sy my sien het sy in trane uitgebars...”

Die voordele van ma en dogters in een huis

“Klere en bykomstighede is wel ook die een voordeel om weer volwasse kinders in die huis te hê. Toe die dogters klein was, het hulle meestal uit my kas aangetrek. Nou is daar ’n groter “bron” van goed om bymekaar te leen. Hulle is wel bietjie kleiner as ek om die middel, maar dit keer my nie om serpe en grimering te leen nie. Veral Kirstin is baie modebewus. En dan is hulle so techno-savvy.

“’n Mens is nooit te oud om te leer nie. Ek verstom my aan Carlene en my skoonseun se manier van goed doen. Die dissipline wat hulle het – van wasgoed-was, gim toe te gaan tot vroeg opstaan om verkeer te vermy. Hulle is regte stadsmense en ek glo hulle geniet dit.

“Van kleins af was my kinders nie bang om hulle sê te sê nie. Alhoewel hulle nie vir my blatant sal sê dat hulle nou groot is en nie moet inmeng nie, doen hulle dit wel met hulle optrede. Ek onthou hoe ek eendag iets vir hulle gesê het, maar nie op ’n mooi manier nie. Ek is immers nog die outoriteit in die huis, het ek gedink. Carlene het my op ’n manier teruggeantwoord wat ek gedink het baie kras is. Dis toe dat ek besef dat ek eerste so gepraat het en sy maar net dieselfde gedoen het. Op ’n subtiele manier het sy vir my gesê dat hulle my steeds as ma respekteer, maar dat dit my nie die reg gee om so met haar as ’n volwasse vrou te praat nie. Ek kan nie meer inmeng soos ek wil en soos ’n mamma nie. Ek mag wel as ’n volwassene inmeng, maar op ’n respekvolle manier.

“Ek sien verskriklik uit na my kleindogter, maar ek weet ek gaan versigtig moet wees om nie oor te neem nie. Ek sal baie keer aan Carlene se maag vat en sê: ‘Hallo, dis jou mamma hier.’ Carlene sal my dan baie gou herinner dat ek nie die ma is nie. Ek wil net nie ’n grandma wees nie; eerder ’n mamma-ma of ’n glam-ma. Die kleintjie het haar ma en pa vir die grootmaak; ek en my man is daar vir die stoutmaak en bederf.

“Ek is opgewonde oor die nuwe fase wat ons ingaan wanneer Carlene ook ’n mamma word. Soms wens ek ek kan hulle nog beskerm teen die lewe, maar dan onthou ek dat ek my beurt gehad het om hulle rond te ry, te help met huiswerk, al daai dinge. Ek gaan nou die buitelyne moet trek van hoe my nuwe rol in my dogters se lewe gaan wees. Net tyd sal leer hoe hierdie fase in my lewe ingekleur gaan word. Maar dat ek daarna uitsien, is beslis so.”

lyn_3.png

BESPREEK

Maak reg vir ’n opwindende reis vanaf Durban na die Portugese Eiland, gelaai met aksie, inspirasie, musiek, komedie en geestelike pitkos. Kliek hier vir 7 redes waarom jy moet saamkom op Net-vir-die-Girls 2017 bootreis.

lyn_3.png

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA