Wat as jou kinders ’n kamer moet deel?

Hettie Brittz

Ouerskapkenner: Hettie Brittz

lyn_3.png

GRATIS

Vir alle ouers! In dié boek word die geheim van suksesvolle ouerskap onthul, hoe om jou kind se uniekheid te herken en te waardeer. Kliek hier en laai die e-boek Dis oukei GRATIS af. Gebruik die afslagkode VG_JUNIE wanneer jy die boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 30 Junie.

lyn_3.png

Partykeer is dit ’n keuse en ander kere ’n noodsaaklikheid dat jou kinders ’n kamer deel omdat daar eenvoudig nie ’n kamer vir elke kind is nie. Verskillende reëls vir verskillende ouderdomme wat ’n kamer deel, is wel nodig, veral roetines soos bad- en slaaptyd.

Plak twee afsonderlike papiere teen die yskas wat duidelik spesifiseer watter reëls vir watter kinders geld. As die kleintjies vrae daaroor het, kan jy verduidelik dat wanneer hulle ouer is, hulle ook sekere voorregte sal kan geniet, soos om later wakker te bly.

Wees ferm en konsekwent met kinders se verskillende roetines

Slaaptyd bring gewoonlik die grootste uitdaging wanneer jongeres en oueres ’n kamer moet deel. Die ouer kind wil dalk nog ’n bietjie lees, terwyl die jonger kinders wil gesels en grappies maak wanneer dit hulle slaaptyd is.

Jy kan ’n skerm tussen die beddens sit sodat die bedlampie byvoorbeeld nie die kleintjie pla as hy of sy moet slaap nie. Rig ook ’n ander ruimte êrens in die huis in waar een van die kinders ’n bietjie alleen kan wees as dit nodig is, veral as ’n tiener ’n kamer met ’n jonger kind moet deel.

Besluit vooraf wat jy gaan toelaat en wat nie. Sommige gesinne het ’n “ligte af, klaar gepraat”-beleid. Wanneer die ligte afgeskakel word, moet daar absolute stilte in die kamer wees. Ander ouers laat nog ’n bietjie gesels en lag toe voor dit stil moet raak. Daar is nie ’n regte of verkeerde manier nie, maak net seker dat elke kind genoeg slaap kry.

Hettie beantwoord 100 van julle ouerskapvrae op kliekdiekenner.co.za

Stel duidelike grense vir die deel van ruimte

Verskillende reëls sal natuurlik geld vir TV-voorregte, sakgeld en selfoongebruik. ’n Tiener kan dalk nog huiswerk uitstel tot na aandete, maar laerskoolkinders sal dit nie kan doen nie. Hulle word nog te gou vaak.

Probeer om twee van elke ding in die kamer te hê (twee bedliggies, twee studeertafels, twee beddens). Stel streng reëls op, maar probeer om dit in ’n positiewe trant te doen eerder as om te veel moets en moenies te hê. Sê byvoorbeeld: “Vra as jy iets wil leen. As jy iets geleen het, gee dit dadelik terug. Sit op jou eie bed.” Omdat respek vir hulle privaatheid vir ouer kinders baie belangrik is, moet jy jou bes doen om vir elke kind ’n persoonlike ruimte te skep waar hulle gemaklik en veilig kan voel.

Jy sal die ouer outjies ook teen die kleintjies moet beskerm deur vir hulle die reg te gee om te sê: “Ek kan nie nou speel nie. Ek kan nie nou luister nie. Jy kan nie nou my goed leen nie” As dit kom by tyd, persoonlike ruimte en besittings is duidelikheid oor wat toelaatbaar is en wat nie, geweldig belangrik, want dit is gewoonlik die rede vir ’n bakleiery.

Rus die ouer kinders toe met kennis oor persoonlikheidstipes

As daar groot ouderdomsgapings tussen boeties en sussies is, moet jy die ouer kinders oor die verskillende temperamente leer. Ouers kan nie van die jongetjies die nodige insig verwag om te weet wanneer hulle die ouer kinders irriteer nie, maar jy kan dit van jou tienerkind verwag. Jy kan byvoorbeeld vir die ouer kind sê: “Kleinboet het ’n palmboomtemperament. Dit beteken dat hy nie daarvan hou om alleen te wees nie. Dit is waarom hy jou so pla om met hom te speel. Die goeie nuus is, sy aandagspan is baie kort. So, jy hoef waarskynlik net drie minute met hom te speel en dan is hy vir eers uit jou hare.” As jy die ouer kinders so met kennis bemagtig, sal dit albei partye in die toekoms baat.

Enige verandering of oorgang verg tyd. Wees gerus dat met die regte reëls, grense, respek en begrip in plek, vrede weer eendag oor die huis en gedeelde ruimte sal neerdaal.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Hoe om ’n superkind groot te maak is nou beskikbaar by voelgoedwinkel.co.za teen 50% afslag. Kliek om Hoe om ’n superkind groot te maak vir slegs R50 te koop.

lyn_3.png

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.