Pangebraaide visfilette met gevulde murgpampoenblomme en ’n bottersous

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

4 visfilette, 150-200 g elk (enige vars vis is geskik)
sout en peper na smaak
8-12 murgpampoenblomme (2-3 per persoon)

Sout moussevulsel
(vir blomme)
200 g gaar vis, gepuree en verkoel
1 eierwit, liggies geklop
50 ml room, liggies geklop
sout en peper na smaak

Beurre blanc
(“wit botter”)
150 ml witwyn
50 ml suurlemoensap
50 ml visaftreksel of posjeervloeistof
1 ui, fyngekap
1 klein uitjie, fyngekap
100 ml room
150 g botterblokkies, verkoel
 

METODE

Pangebraaide visfilette
1 Gebruik ’n deegkwas om die filette liggies met gesmelte botter of olyfolie te smeer, en geur met sout en peper.
2 Berei ’n roosterpan voor en maak dit deurwarm. Braai die filette tot net-net gaar.

Gevulde murgpampoenblomme
1 Maak die blomme skoon en spoel hulle versigtig uit om seker te maak daar is nie miere of sandkorrels binne-in nie.
2 Druk die blomme saggies droog met papierhanddoek en vul dit losweg met die sout moussevulsel (sien onder).
3 Gebruik ’n deegkwassie om die blomme met botter te smeer en bak in ’n lou oond (120 °C) totdat die mousse net-net gestol het (sowat 10 minute).

Sout moussevulsel
1 Dis belangrik om te sorg dat al die bestanddele vir hierdie mengsel baie koud is wanneer hulle saam gemeng word.
2 Meng al die bestanddele liggies en hou te alle tye in die yskas.

Beurre blanc
1 Meng die vloeistowwe in ’n klein kastrolletjie en voeg die uie by.
2 Kook dit af tot amper droog voordat jy die room byvoeg. Laat prut nog sowat 2 minute lank.
3 Haal van die stoof af en voeg die botter geleidelik by terwyl jy aanhoudend roer.
4 Dien onmiddellik op saam met die pangebraaide vis.

Opdienvoorstel:
Sit die vis voor saam met die gevulde murgpampoenblomme, dungesnyde en geblansjeerde murgpampoentjies en bottersous.

 

 

Website Security Test