Petru van Zyl: Begin jou eie besigheid

Petru van Zyl

Ek het op 23 al my eerste besigheid begin – ’n velsorgkliniek. As opgeleide velsorgterapeut het dit na die beste opsie gelyk. Min het ek besef watter groot opofferings saam met die titel “entrepreneur” kom!

Hoewel jy vir jou eie sak werk en baie vryheid het, is daar nie betaalde verlof of iemand anders wat gou jou pligte kan oorneem as jy siek is nie. Die verantwoordelikheid eindig by jou.

Tog dink ek dit was die tyd waarin ek die meeste geleer het, nie net oor mense nie, maar ook as terapeut. Jy doen waardevolle ondervinding op oor hoe die vel op verskillende behandelings reageer. Elkeen persoon se vel is anders en ek moes leer om ook my kliënte se leefstyl en omgewingsfaktore in aanmerking te neem tydens die behandelings. Daardie ervaring kan geld nie koop nie.

Dit het my ook gedwing om op hoogte te bly van die nuutste navorsing in die veld van medies gegradeerde velbehandelings. Ek het dit later my missie gemaak om saam met verskeie internasionale kosmetiese wetenskaplikes, sowel as plastiese en estetiese chirurge, te begin werk. So het my pad gekruis met dié van Fernando Bouffard, ’n apteker in Barcelona, Spanje. Met sy kennis en my ervaring op die gebied van skoonheid het ek in sy laboratorium aan die pHformula-reeks begin werk.

Om ’n nuwe handelsmerk in ’n vreemde land te begin is nie speletjies nie. Ek het besluit om vir ’n ruk in Spanje te gaan woon. Die meeste besigheidsgesprekke was in Spaans of, nog erger, Katalaans. In Barcelona was ek omring deur sommige van die wêreld se beste wetenskaplikes en my grootste vrees was dat ek hulle nie behoorlik verstaan nie. Aan die begin moes ek altyd ’n tolk byderhand hê in vergaderings. Dit het my baie gefrustreer, maar my ook geïnspireer om Spaans vinniger te leer.

Gelukkig het ek toe al genoeg selfvertroue gehad om produkreekse te skep en die resultate daarvan akkuraat te analiseer. Daar was beslis ’n behoefte aan ’n mediese velsorgreeks wat probleme soos veroudering, aknee en chroniese rooiheid aanspreek. Die kern van ons behandelings is om selvernuwing te bevorder eerder as om net die vel af te skilfer.

Natuurlik sou ek nie op my eie so ’n sukses van die reeks kon maak nie. Ek weet vandag dat mense die grootste bate is in enige besigheid, veral die kenners by wie ek geleer het en wat vir my leiding gegee het.

Ja, ek dink jy het ondervinding in ’n spesifieke veld nodig voor jy ’n besigheid begin. Belangriker is egter is dat jy ’n passie moet hê vir dit wat jy doen. Passie sal die dryfkrag agter jou harde werk wees. Harde werk bring ervaring en daarna sal die res in plek val.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test