Pienk tekkie

Dit het alles begin met ’n pienk tekkie. ’n Doodgewone tekkie. So het ek immers gedink.

Dit was een van daardie facebook strikvrae en aangestuurde whattsup stories om te kyk watter kleur skoen jy sien. My seun het vir elkeen in die huis gevra. Wat ‘n openbaring! Vir almal in my huis was die tekkie blou en grys behalwe vir my! Amper ongelooflik. Natuurlik kon hulle nie glo dat ek dit as pienk sien nie. Malvalekker pienk!

Ek het gewonder na hoeveel dinge kyk ons eintlik elkeen met ander oë?

In die week voor die verkiesing bestudeer ons Psalm 90. Dit speel af waar Moses uitkyk oor die beloofde land terwyl hy weet dat dit hom nie beskore sou wees nie. Ek sien baie mense in my spreekkamer wat soos Moses amper depressief na die lewe kyk. Verspeelde kanse, geleenthede wat nie gewerk het nie. Kinders wat verkeerde paaie gekies het. Politieke onstabiliteit. ’n Land wat dalk koers verloor het. Ons raak ouer en kry plooie en skete. “Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en die is vol swaarkry en leed.” Moeilik om hierna te kyk en nie swartgallig te raak nie.

Dan tref Moses se opregte versoek: “ Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom…”

Dit wil lyk of die gebed darem bietjie laat in sy lewe kom. Dalk iets wat hy lankal moes gevra het. Gelukkig nooit te laat om wysheid in te skep nie.

In die week wat my kind haar arm breek en ons die netbal en hokkiewedstryd briefies moet weggooi en trane van teleustelling moet afvee, sing sy en haar sussie ’n duet wat my hart ekstra raak. Dit word ’n geleentheid waar ek wysheid skep. ’n Af arm raak darem weer heel. Hierdie musiek oomblik gaan ek lank in my hart kan bewaar.

Moses moes kies wat hy met die verlede gaan maak en hoe hy die toekoms gaan aanpak. Hy kies wysheid. Hy spreek die hoop uit om God se goedheid te sien en die begeerte dat sy kinders ook nog God se grootheid sal ervaar. Wat ’n manier om na die lewe te kyk. Nie in hooploosheid nie maar met Goddelike hoop.

Sien ek die blou en pienk tekkie kan ek kies om te stry of om hul andersheid te erken. Ek kan aanhou huil saam met my kind oor die wedstryde wat sy nie kan speel nie of ons kan haar sussie aanmoedig en saam met die honde gaan stap. Ons kan nie altyd kies tussen blou of pienk nie maar wel wat ons met die skoene gaan maak.

Wysheid is ’n visie waar ons raaksien waar God werk.

Die eintlike vraag is nie watter kleur die tekkie is nie maar of hy kan hardloop.

Wysheid kyk verby kleur, verby gebreekte arms, plooie en verspeelde geleenthede.

Dit begin met die dien van die Here. Dan raak dit ’n geleentheid waar ons saam met ons kinders God se grootheid kan ervaar.