Piet Snot

Vandag is ek vir die eerste keer na ons plaaslike kerk toe. Manlief voel nog goor na sy operasie en ek wou nie alleen die langpad SA Gemeente toe aandurf nie. Maar ek is nie een oomblik spyt nie!

Newbury Baptist Church het my so welkom laat voel vandag. En die Afrika-ners het mekaar natuurlik uitgesoek: Peggy (Afrikaanse meisie met ouers in Despatch), Sheila van Zim en Mildred van Kenya. Dit was so lekker om (1) vir die eerste keer Afrikaans te praat met iemand in ons nuwe dorpie, en (2) te praat van ‘huis’ met die ander vrouens wat ook hier ‘n heenkome gevind het. Wat verstaan.

Maar wat my die meeste bygebly het – naas die dominee se onvergeetlike boodskap oor die ewige stryd tussen moed en moed verloor, geloof en twyfel – was ‘n ouderling se kort inleiding voor die tyd.

Op die skerm bo die verhoog, het ‘n foto van Theresa May verskyn. Weet nie of baie mense buite Europa dit gesien het hierdie week nie. Dis ‘n foto waar sy met haar rooi maak-‘n-punt snyerspakkie terugloop in 10 Downing Street nadat sy haar vrywillige uittrede as Britse Premier aangekondig het.

En vanoggend sê die ouderling: Dít was vir hom die toonbeeld van eensaamheid.
En jy hoef nie noodwendig met haar politiek of haar siening oor Brexit of haar naelbytende vasklou aan ‘n skynbaar verlore saak saam te stem nie. Die feit bly: Daardie tien treë van die podium tot terug in haar huis vir die laaste drie jaar, moes seker die eensaamste sekondes in haar lewe gewees het.

Ons het seker elkeen al so ‘n oomblik beleef. Waar dit nie saak maak saam met wie of waar jy is nie. Wanneer daardie gevoel van eensaamheid jou totaal isoleer en in jouself laat keer. Want niemand verstaan werklik nie.

Nie die vrou wat langs jou in die chemo-kamer sit nie,
nie jou man wat langs jou by die graf staan nie.
Want geen ander mens het die pad geloop wat jy geloop het tot hiertoe nie.
Geen ander mens sien vanuit dieselfde venster die toneel wat besig is om voor jou af te speel nie.

Jeremia was so ‘n voorloper vir die Here, dat dit moeilik is om jouself in te dink dat hy ook oomblikke van diep vertwyfeling en selfs woede teenoor die Here kon beleef. Een oomblik lees ons:

“Here, U is sterker as alles en almal! U is regverdig as U mense toets.
U sien presies wat in mense se hart en gedagtes omgaan…
…Sing om vir die Here eer te bring! Praat oor hoe goed die Here is!
Jeremia 20:12 Die Boodskap

Sou Jeremia maar hier ophou praat het, het dominee Richard Littledale vanoggend gedink – en ek is nogal geneig om met hom saam te stem. Want in nét die volgende vyf verse, klink dit of hy dit heeltemal verloor:

“Ek is spyt dat ek ooit gebore is. Niemand mag ooit sê dat die dag van my geboorte ’n wonderlike dag was nie. Mag dit sleg gaan met die mens wat vir my pa gaan sê het: “Geluk, jy het ’n seun!”…
…Waarom is ek tog ooit gebore? My lewe is net swaarkry en pyn.
Moet ek my hele lewe lank net verneder word?”
Jeremia 20:14 Die Boodskap

Maar die Here haal nie hierdie gedeelte uit Sy Woord uit nie. Met dieselfde kinderlike eerlikheid waarmee Jeremia hier uitpak, deel die Here Jeremia se stryd ook met ons.
Want ten spyte van Jeremia se gevoelens en emosies, wyk hy nie af van sy taak nie.
Bly hy getrou.

Soms doen hy wat hy moet doen met ‘n klip van swaarkry en alleenwees in sy hart.
Maar hy doen dit.
Hy laat nie toe dat die lewe se valleie hom die uitsig van die bergtop ontsien nie.

Ek leer, Jeremia, ek leer.

Jou temalied vir die week: I am loved

Vorige artikelDeurmekaar
Volgende artikelDie geheim van gesondheid en geluk
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!