Plaaslike rolprent ‘n treffer by internasionale filmfeeste

Hierdie geskiedkundige drama vertel die storie van ’n vurige elfjarige Khoi-prinses, wat van haar stam weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck (die eerste goewerneur van die Kaapse Kolonie en haar oom se handelsvennoot) te gaan werk.

Sy word na die eerste Fort geneem, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is. Hier word sy groot as ’n visionêre jong dame, wat die Nederlandse taal en kultuur so goed verstaan, dat sy ’n invloedryke tolk word vir van Riebeeck (Armand Aucamp). Krotoa word egter op die ou einde deur haar eie Khoi-mense verwerp en deur die Hollanders vernietig wanneer sy probeer om ’n middeweg tussen die twee kulture te vind. Vasgevang tussen twee kulture, probeer KROTOA (Crystal Donna Roberts) om dié twee wêrelde met mekaar te versoen.

Crystal Donna Roberts, wat naam gemaak het in flieks soos die Endless River, Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom en Skeem; asook televisiereekse soos 7de Laan, Montana, Vallei van die Sluiers, Getroud met Rugby, Boland Moorde en Byl, vertolk die rol van KROTOA. SAFTA-wenner, Armand Aucamp, wat veral bekend is vir sy indrukwekkende vertolkings in Ballade vir ’n Enkeling en Die Boekklub speel Jan van Riebeeck, terwyl ander gesoute akteurs soos Jacques Bessenger, Doen Lotz, Marcel van Heerden, Roeline Daneel, Brendan Daniels en Ernest St Clair ook in hierdie boeiende verhaal te sien is.

KROTOA is ’n treffende film oor ’n dapper vrou, wat alles in die stryd gewerp het, om geboorte te gee aan die wonderlike nasie waarvan ons almal vandag deel is. Dit het nie net ’n kragtige boodskap, waarmee almal kan vereenselwig nie, maar beloof ook om die kyker op ’n onvergeetlike avontuur te neem na vervloë tye.

KROTOA doen beslis haar indrukwekkende naamgenoot gestand en het uit die staanspoor die harte van kykers en kritici, regoor die wêreld, verower. Dit gebeur selde dat ’n rolprent soveel trefkrag het dat dit, selfs voor die bekendstelling aan die Suid-Afrikaanse publiek, kan spog met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/Krotoafilm/
Twitter:  @KrotoaMovie
Instagram:  krotoa_film

Foto: Uwe Jansch

Website Security Test