Respek begin by jouself

Jannie Putter

Ons is geneig om sommer dadelik van oulike en gawe mense te hou, maar tog respekteer ons dié wat reguit en eerlik met ons is, meer.

Jy kry die respek van ander deur hulle te inspireer (met hoe jy lewe), in plaas van om hulle te motiveer (deur hulle te vertel wat om te doen).

Kies selfdissipline, al is dit ’n pyn

Respek in enige verhouding begin as jy bereid is om ’n voorbeeld te wees vir ander om jou na te volg. Tog is daar geen waarborg dat jy altyd suksesvol sal wees nie. Ons is net mense, en daarom sal ons foute maak, maar ander mense sal jou respekteer as jy bereid is om die regte dinge te doen, al maak dit jou ongewild.

Om verkeerde dinge reg te doen is baie maklik. Ons glo partykeer ander sal respek hê vir ons as ons iets regkry, selfs al is dit iets verkeerds. Die pyn van selfdissipline beteken jy doen wat jy weet reg en goed is, al beteken dit aanvanklik mislukking. In alles wat ons doen, kies ons een van twee paadjies – die pyn van selfdissipline of die pyn van spyt.
Jy gaan jouself of dissiplineer om vol te hou met wat reg is of jy gaan die maklike uitweg kies – maar die uiteinde van laasgenoemde is ALTYD spyt!

Om die verkeerde dinge reg te doen, soos bedrog pleeg, skinder of om net aan jou eie behoeftes te dink, mag dalk vir jou die respek of bewondering van mense wat dieselfde dinge doen, gee, maar uiteindelik sal jy altyd ontmasker word vir die “verloor-keuses” wat jy gemaak het. Die waarheid seëvier altyd. Dit is ’n feit van die lewe.

Weet wanneer om die streep te trek

Dit is hartseer om die pyn van spyt te aanskou. Koerante verkoop as gevolg daarvan. Hulle verkoop, want mense wil graag lees hoe ander val... en ons almal val op een of ander stadium. Die gemiddelde persoon floreer op die wete dat sterre ook val. As ons oor ander se flaters lees, maak dit ons eie flaters ook meer aanvaarbaar.

Gelukkig is daar ook ware helde: diegene wat die versoeking van perversiteit, omkopery, wellus en mag en roem kon weerstaan. Of hulle wat weet waar om die streep te trek. Dié wat weet wanneer om nee te sê, al beteken dit om onpopulêr te wees tussen die massa verloorders.

Daar is altyd twee kante: goed en kwaad, helde en verraaiers, die opregtes of dié wat voorgee! Jy kies wie jy wil wees.
Ware respek begin by jouself. Hoe praat jy met jouself? Hoe handhaaf jy jouself in konfliksituasies? Jou karakter kom na vore in die manier waarop jy die “klein” mense – dié wat in die oë van die wêreld nie belangrik is nie – behandel.

Die goue reël en wenresep vir respek is: “Behandel ander mense soos jy wil hê hulle jou moet behandel. En wees lief vir ander soos jy jouself liefhet.”

Verdien respek deur goeie optrede

Respek het niks te doen met jou posisie, status of die geld in jou bankrekening nie. Dit is eerder iets wat jy verdien deur hoe jy optree en ander mense behandel. Sommige droom daarvan om deur ander gerespekteer te word; baie is afgunstig daarop.
Tog is daar maar min wat bereid is om die kleed te dra – om iemand te wees op wie ander kan reken. Ons smag daarna en doen ons bes om ander se respek te wen, maar tog verstaan ons nie dat ’n mens dit nie kan fake nie.

Dit word mettertyd gebou deur die goeie en slegte tye. Jy kan dit ook in ’n oogwink verloor deur verkeerde keuses of ondeurdagte woorde!
Wees die minste. Ag ander belangriker as jouself. As jy nie kan dien nie, sal jy nooit kan lei nie. As alles oor jou gaan, sal dit ook al wees wat jy oorhet – jouself.

As jy ander belangrik kan maak, word jy self belangrik. As jy belangrik wil wees – fokus op jou medemens! Uiteindelik is ons almal gelyk, al het ons verskillende roepings. As jy ’n verskil kan maak in iemand anders se lewe, kry jou eie lewe sin en betekenis.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test