Riana Nel - Uitgesproke oor haar geloof

Riana Nel

2016 was ’n goeie jaar vir Riana Nel (34). Dié gewilde sangeres is tans Suid-Afrika se topverkoper in alle musiekgenres en tale.

Vir ’n Afrikaanse girl wat jare lank probeer uitpluis het wie sy is en waar sy inpas, is dit meer as net ’n besondere prestasie. “Dis genade van Bo.”

Sy was kort duskant 30, enkellopend en steeds sonder ’n behoorlike loopbaan, toe sy op die strand staan en oor die see uittuur, haar hart vol vrae en twyfel.  “Gaan ek ooit gereed wees om te doen waarvoor ek glo ek aangelê en geroep is? Gaan ek ooit volwasse genoeg wees om op ’n verhoog te staan en my sê te sê, op ’n manier wat mense sal laat luister?”

En toe, op ’n dag, verander alles.

Die pad wat sy tot hier geloop het, was lank en steil. “En die verantwoordelikheid om voor duisende oë op die verhoog te staan en te ontbloot wat in jou hart aangaan, is gróót,” beklemtoon sy. “Die publiek hou jou doen en late fyn dop, veral as jy sê jy is ’n Christen.”

Dit sou dalk makliker gewees het as sy nie so uitgesproke was oor haar geloof nie. “Mense sê gereeld vir my ek hoef nie by elke optrede oor die Here te praat nie.” Maar waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

“Ek dink nie ek gaan ooit soos ’n bekende mens voel nie,” sê sy, terwyl sy haar blink bos donker hare oor haar skouers gooi. Dankbaar, maar oorbluf deur die platinumstatus wat sy nou, na jare se wroeging as kunstenaar, beleef. Wanneer iemand haar op straat voorkeer, is haar eerste gedagte steeds: “O, ken ek jou van die kerk af?”

Sy is nie al een wat verbaas is oor haar sukses nie. Sy lag alte lekker as sy terugdink aan haar ervaring by een van ons land se grootste musiektoekenningsgeleenthede.  “And the winner is... Ree-ya-na Nel!” het die seremoniemeester dawerend aangekondig. Driekwart van die gemengde gehoor het nie ’n idee gehad wie was nie. Toe staan sy maar met ’n verleë laggie op en sê: “Hello, I’m Riana Nel.” Die gospelsangeres met die country-twang wat hoofstroom gegaan het.

“Ek het It’s Well With My Soul gesing, en toe ek weer sien, sing almal saam.” En dít by ’n glansgeleentheid waar gospelmusiek nie eers figureer nie. ’n Kosbare oomblik.

“Dit het vir my gevoel of die Here daardie aand vir my ’n sleutel gegee het vir ’n ander deel van ons land. Kyk, die dag wat ek as real voor ’n gehoor kan optree wat nie net uit wit mense bestaan nie, sal ek... jô...” soek sy na die regte woorde, “uit my vel uitspring van blydskap.”

Die rede is eenvoudig. Vir Riana gaan haar talent as sanger en liedjieskrywer nie oor geld of roem nie. Dit gaan net oor één ding. “Om Jesus aan die wêreld te verkondig. Om dissipels te maak van alle nasies.” Met elke optrede en elke liedjie.

Sy sê ook om ’n getuie vir die Here te wees, daar waar elke woord wat jy kwytraak aan jou dade gemeet word, “is ’n baie scary plek”. Haar senuwees is gedaan voor elke optrede, maar dis ook wat haar nederig en plat op die aarde hou.

In twee geskeur. Double-minded.

Vir baie lank was dit presies hoe Riana oor haar passie vir sing en haar liefde vir Here gevoel het. “Daardie fyn lyn tussen kerk en die bedryf,” verduidelik sy. “Vir so lank as wat ek kan onthou, is ek lief vir die Here. En vir net so lank is ek lief vir sing.” Om dié twee passies in harmonie te laat saamwerk, was haar groot uitdaging. Haar jare lange worsteling.

Soos baie Christene het sy geglo as jy vir die Here werk, moet jy dit verniet doen. “So het ek baie keer koekies by die kerk gaan bedel, net om iets lekkers te hê om te eet,” onthou sy haar broekskeurjare as musikant. Sy het ook gedink as jy vir Hom wil sing, kan jy dit net deur gospelmusiek doen. “Ek was vir jare onder die indruk dat ek Sy guns moes verdien. Ek moes werk vir Sy liefde.”

Pas klaar met skool het sy die lang pad van Namibië af Pretoria toe aangedurf. Al agter haar drome aan. “Gaan doen wat jy graag wil, Riana, net solank jy altyd in ’n kerk bly. Dis jou familie, jou veilige hawe,” het haar dominee destyds raad gegee.

Sy het dit ter harte geneem en haarself heelhartig in die bediening gewerp. As deel van die worship-span, maar ook as soort aspirant-diaken. “Ek het iets van alles gedoen: matte gelê, stoele oorgetrek, tent help opslaan, koffie aangedra, klimraamdiens gedoen.” En gesing.

“Dit was my vormingsjare. ’n Ongelooflike goeie leerskool, maar ook ’n lang seisoen van skaaf en groei.” ’n Tydperk waarin die Here geloof en karakter in haar ingebou het. Die één ding wat sy in al die jare van wag en worsteling gedoen het, was om liedjies te skryf. Oor haar geloofspad, ervarings en al die emosies wat haar hart so maklik oorspoel het.

Die deurbraak oor ʼn koppie koffie

En toe, kort voor 30, daar op die strand, kom die gedagte by haar op om Arnold Coleske (van Coleske Artists) te bel en te vra of sy kan kom koffie drink. “Ek het onthou hy was jare gelede al geïnteresseerd in my musiek, al het hy toe gedink ek is ’n bietjie vreemd. Jy weet, die hare... die klere... die way-out musiek.”

Die afspraak is gereël en so tussen die koffiedrinkery deur het Riana een van haar liedjies gesing. Toe vra hy: “Het jy nog liedjies?”

“Báie,” het sy geantwoord.

“Dan’s dit reg, ons sal jou teken,” het Arnold gesê. ’n Musiekkontrak beklink. Sommer net so.

“Sjoe, ek kon dit nie glo nie,” onthou sy. Kon dit regtig wees? Sou haar jare lange droom uiteindelik waar word?

“Ek onthou hoe ons twee met opnames in die ateljee gesit en bid het. Hoe ons saamgehuil het oor die woorde van party van die liedjies,” want dit het haar hart so rou en eerlik ontbloot. Lirieke soos: Lord, you know what I’ve done, You know where I’m from and what I’m yet to do…

“Ons het vir mekaar gesê as net twee van my CD’s verkoop, sal ons ook bly wees. Want ek doen dit vir my liefde vir musiek, vir my liefde vir die Here.” Toe word twee CD’s derduisende. Dubbelplatinumstatus. Snit na snit in die top tien oor die radio.

Haar eerste openbare optrede daarna het haar laat besef al die jare se nee’s het uiteindelik ja’s geword. Die lang wag was verby. “Dit was voor ’n gehoor van 25 000 mense op Jakaranda-dag, en almal het saam met my gesing: Lord you know.”  Dit het haar terselfdertyd geskok én verras. Die tyd was ryp. Die platform is gegee. Nou was dit haar verantwoordelikheid om dit reg te gebruik.

Sy gryp hierdie verantwoordelikheid met albei hande aan. “Ek wil soos Esther wees,” sê Riana. “Ek wil die een wees wat sonder skaamte opstaan voor die wêreld en sê: Ek glo in huwelike en ouers se plig om hulle kinders te dissiplineer. Ek glo in die ewige lewe. In God en in Jesus, en dat daar net een weg is. Ek gló.”

Sy sluk die knop in haar keel weg en voeg by: “Ek weet ook, nadat ek al hierdie dinge gesê het en nadat die laaste letter van hierdie artikel getik is, gaan ek op elke woord getoets word.”

Riana is reg daarvoor. Sy besef sy is feilbaar, ver van perfek af, maar jare se vorm en skaaf het gehelp om haar geloof en karakter te bou. Juis vir ’n tyd soos nou.

 

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test