“Só het ek my lag verloor”

73

Na ’n ongeluk en sy meters ver gesleep is, moes Suzanne Leyden van voor af leer lag, loop, praat, eet, vertrou, aanpas en vergewe.

Suzanne Leyden se bestaan word met ’n baie duidelike skeidslyn verdeel – die tyd voor haar ongeluk en die tyd daarna. Die dag waarop haar lewe onherroeplik verander het, het soos enige Donderdagoggend begin. Op pad na die skool waar sy ’n onderwyseres was, het ’n voertuig van agter in haar vasgery.

Toe sy uitklim om die besonderhede van die ander bestuurder te kry, het daar ’n woordewisseling ontstaan. Wat presies gebeur het, is nie duidelik nie, maar net na sewe daardie oggend word Suzanne saam met ’n bakkie oor die snelweg gesleep nadat haar arm in die vensterruit van die motor vasgedruk is.

Na drie hartaanvalle was die kans skraal dat sy die rit na die hospitaal sou oorleef. Om na tien dae uit ’n koma wakker te word, nog minder. Maar teen die dokters se verwagting in het sy nie net wakker geword nie, maar kon sy haar lewe hervat. ’n Anderste lewe as voorheen, maar ’n lewe.

Die aanvanklike aanklag teen die bestuurder van die ander voertuig was poging tot moord, maar die saak is teruggetrek as gevolg van ’n gebrek aan bewyse. Vir Suzanne het daar ’n lang pad voorgelê van aanvaarding, aanpassing en vergifnis. Hier is haar verhaal…

Wat alles het daartoe bygedra dat jy oorleef het?

Onderwysers mag nie eintlik jeans skool toe aantrek nie, maar een of ander rebelse streek het my daardie dag laat besluit om die reels te ignoreer. Van die serp om my kop tot die denim en dik Crocsskoene met bandjies wat gekeer het dat dit afval, het gemaak dat my beserings nie so erg was nie.

Daar is nie ’n rede hoekom my mediese kaart in my hand was toe ek uitgeklim het om die man se besonderhede te kry nie. Tog het daardie besluit tyd gespaar. Die paramedici kon dadelik sien dat my mediese fonds Milpark-hospitaal, wat een van die beste traumaeenhede in die land het, as ’n diensverskaffer gebruik. As ek daardie dag na die naaste hospitaal geneem is, soos die gebruik is, sou dit te laat gewees het.

Hoe het die omstanders en publiek jou gehelp?

’n Vrou wat net na die ongeluk by my was om te help, se selfoon het gelui. ’n Ou skoolvriend het besluit om haar daardie tyd van die oggend te bel. Gelukkig vir my het sy geantwoord, net om uit te vind dat hy deesdae die hoof van die ER in Gauteng is. Binne drie minute was die eerste ambulans daar.

Die straat- en koerantverkopers wat altyd by daardie verkeerslig staan, het hulle eie lewens in gevaar gestel en onmiddellik in ’n kringetjie om my kom staan om die aankomende verkeer weg te hou.

Iemand het later ’n Facebook-groep vir my begin. Binne twee uur was daar 800 lede van regoor die wêreld wat vir my begin bid het.

Watter rol het jou ma daardie dag gespeel?

“Kom, Zaantjie, kom! Ruk jouself reg!”

Saam met flitse van geel blomme, die wind wat om my suis, was daar ook ’n stem wat met my gepraat het, my gedwing het om nie op te gee nie.

Daar is net drie mense in die wêreld wat my Zaantjie noem – my pa, my sussie en my ma, wat in daardie stadium reeds oorlede was. My pa en sussie was nog nie daar nie. Daardie stem kon net aan my ma behoort het. Of dit ’n engel, God of my ma was, is vir my net tegniese detail.

Vandag is geel my gunstelingkleur. Nog deurmekaar van die koma, het ek aangedring op ’n geel bytjiekoek. Geel, sinoniem met lewe en my ma se stem in die wind.

Op watter oomblik het jy begin terugveg?

“Kan ek jou Superman, Batman, Ironman… Spiderman wees? Ek sal jou oppas in die donker en vir jou ’n hero wees.”

Gehoor is die laaste sintuig wat verdwyn wanneer ’n mens sterf. Besoekers moes my heeltyd vertel dat ek in ’n ongeluk was, beserings opgedoen het, in die hospitaal was, maar dat alles oukei gaan wees. Dit kan ek nie onthou nie.

Die eerste tekens van lewe het gewys toe my sus ’n opname van my seuntjie gespeel het waarin hy ’n liedjie oor superhelde vir my sing. My kop het heen en weer beweeg terwyl my lippe woorde probeer vorm het. Dit is moedersinstink wat my laat veg het. Ek wou daar wees vir hom. Die liefde tussen ’n ma en kind strek deur komas.

Hoe voel dit om uit ’n koma wakker te word?

Dis soos om in die aand in jou bed aan die slaap te raak en die volgende oggend in ’n duikpak onder die see wakker te word. In my onderbewuste het ’n hele avontuur afgespeel.

Saam met die skool se noodhulpspan is ons in daardie tyd na Kenia om aan ’n kwiltkompetisie deel te neem. Ons is geskors, want ons inskrywing was te “professioneel”. My suster moes toe foto’s van luiperdjies neem om in die nuwe kwilt te gebruik.

Vir my maak hierdie “droom” sin: Die dag voor die ongeluk het ek my ma se kwilte weggepak, waarvan een ’n klomp luiperdjies was. My ma se gunstelingsuster in die hospitaal voor sy dood is, het van Kenia gekom en ek was die skool se noodhulpjuffrou.

Het die ongeluk gehelp om hartseer te verwerk?

Die stem wat daar langs die pad vir my gesê het om my “reg te ruk”, het na meer as net die ongeluk verwys. Dit het van my hele bestaan gepraat. Ek het verskriklik gesukkel om my ma se dood te verwerk. Dit was asof daardie stem my wou smeek om aan te gaan – ter wille van myself, maar ook ter wille van my seuntjie. My ma is gelukkig waar sy is, maar ek moet begin leef.

God het my letterlik tot stilstand geruk en tyd gegee om my lewe in oënskou te neem. Tydens die koma het die Here in my begin werk en die genesing begin.

Dis nou ses jaar later en die verlange na my ma is steeds daar, maar die lewe het vir my kosbaarder geword.

Vertel van die nuwe lewe wat jy moes bou

Dis die vreemdste gevoel. Dis beslis my sus wat voor my staan, maar haar naam is weg. Nie eers op die punt van my tong nie. Iewers, tussen die newels in wat eens ’n op-en-wakker brein was, het dit verdwyn.

Woorde, dit waarmee ek my brood verdien het, was weg. Toe my kos kom, het ek nie ’n idee gehad hoe om die silwer ding in my hand te gebruik nie. My humorsin was nog daar, maar my lag was skoonveld. In die gange van daardie hospitaal moes ’n nuwe Suzanne gebore word. Alles wat my my gemaak het, het ek verloor.

Om elke dag se klein oorwinninkies te vier is my manier om positief te bly. Dit en die wete dat alles baie anders kon gewees het.

Wat het hierdie ondervinding jou oor vertroue geleer?

In die pad, ambulans, hospitaal en later in die hofsaal was ek uitgelewer aan ander se goedheid en ervaring. Al wat oorgebly het, was om te vertrou. Dit was ’n moeilike les wat ek moes leer.

Die straatverkoper wat sy lewe gewaag het om te keer dat aankomende verkeer my tref, het my hierteenoor ’n bietjie teleurgestel. Na die ongeluk het hy selfs ’n verklaring by die polisie gaan aflê. Later het hy egter beweer dat hy niks gesien het nie en kon hy nie meer ’n staatsgetuie wees nie. Ek is nie kwaad vir hom nie. Hy het sy redes en ek ken nie sy storie nie. Vir my bly hy die man wat daardie dag my lewe gered het.

Wat is jou gevoelens teenoor die ander bestuurder?

Aan die begin het ek elke keer naar geword as ek hom in die hof sien. My oplossing was toe om heeltemal van hom te vergeet en op my herstel te fokus. Ongelukkig is dit nie hoe dit werk nie.

Vergifnis, weet ek nou, gebeur nie net in ’n oomblik nie. Na vier jaar het ek gaan neerskryf wat ek verloor het terwyl hy oënskynlik met sy lewe kon aangaan. Die enigste manier hoe ek regtig kan vergewe is om die verlies te erken, dit te voel en dan dit aan God te gee. Dit is baie pynlik, maar ek weet ek gaan daar uitkom. Ek gaan vrede vind, net soos ek weer my lag gekry het.

Want alles kon daardie dag so anders gewees het…