Soveel verwagtings

“As hierdie week net verby gaan, sal dinge weer rustiger wees.”

“Oor die naweek sorteer ek die huis uit, dan is alles op sy plek.”

“Nog net hierdie paar dinge agter die rug kry dan is daar weer tyd vir kwaliteit tyd.”

‘n Ruk gelede het dit só met my gegaan, en het ek hierdie woorde oor en oor in my kop vir myself gesê. Ek het met hierdie konstante verwagting in my geleef dat dinge iewers weer rustig sal wees en dat my huis weer netjies gaan wees (ten spyte van ‘n een-jarige wat al wat ‘n kas is uitpak en speelgoed, spoegdoeke en skoene wat oral rondlê). Ek het heeltyd gevoel dit is chaos om my en dinge moet uitsorteer word.

Maar ek moes baie hard en duidelik met myself begin praat en terug na realiteit toe kom. Dinge gaan nie noodwendig weer rustig raak tensy ek myself nie rustig maak nie, my huis gaan nie altyd netjies wees nie, en ek moes vir myself sê dat ook dit okay is. Eerder as om te dink my huis is deurmekaar het ek myself oorreed dat dit homely en snoesig is, dat mense kan sien hier leef ons, en speel ons en spandeer ons goeie tyd as gesin saam.

Ek het met die Here gepraat en eerder rustigheid en orde by Hom gaan soek. Hy het my help verstaan dat dit nie so erg is wanneer ek bietjie buite beheer voel nie. Hy is met my en wanneer ek my oë toemaak en Sy hand vat sal ek Sy rustigheid beleef, dan maak dit nie regtig saak hoe baie speelgoed en papiere en skoene rondstaan nie, want my gesin is gelukkig en ons spandeer goeie tyd met mekaar.

Mag jy vandag ook hierdie konstante verwagting van orde aan die Here gee, mag jy Sy hand vat en rustigheid beleef.

Seënwense,

Stephanie