Totsien Kraamverlof

werk na kraamverlof

Dit voel soos ’n jaar wat ek laas by die werk was, tog voel die vier maande saam met my seuntjie of dit in ‘n oogwink verby is.

Ek het verlede maand weer terug werk toe gegaan nadat ek vir vier maande in ’n baba-bubbel was. Ek het so uitgesien om bietjie ’n breek van werk en al die verantwoordelikhede te vat en net tyd saam met ’n klein lyfie te spandeer, dat ek soms vergeet het dat ek weer moet terug gaan.

Kraamverlof is eintlik ’n snaakse ding. Terwyl mens nog swanger is, droom jy van dae met jou voete op, slippers en pajamas aan terwyl jy ’n hele series op Neflix kyk in een week. Die magie raak swaar om te dra en al waaroor mens kan dink is bietjie rus en vrede. Tensy, jy soos ek is en jou baba besluit dat hy op jou tweede dag van kraamverlof al sy verskyning wil maak. Die eerste ses weke is ’n warboel van ’n nuwe lyfie in die huis, pynmedikasie, lekker hoë-optrek broekies, kuier gaste en koue tee wat jy steeds drink want jy is dors. Soos mens begin om in ’n ritme te kom, begin baba ook bietjie meer wakker wees en julle kan lekker speel en duisende foto’s neem wat mamma se memory kaart vol maak op haar foon. Daardie ses weke word agt weke, en dan twaalf weke en voor mens weet moet jy reg maak om terug te gaan werk toe. Die Netflix seisoene is half gekyk, die slippers is vol melk en jou mooi pajamas is eerder weg gebêre voor jy dit vlek met spoeg.

Die einde van kraamverlof is nogal bittersoet. Aan die een kant was jy en baba so lank by mekaar, jy kan nie ’n dag of ’n uur indink sonder die mooiste gesiggie wat terugstaar na jou toe nie. Jy huil sommer as jy dink dat iemand anders na jou lyfie moet kyk, wanneer hy huil gaan iemand anders hom troos en sy geselsies en glimlaggies geniet. Aan die ander kant sien jy uit om weer terug te gaan werk toe, om weer tussen groot mense te wees en te gesels oor dinge anders as die kleur van die doeke en die hoeveelheid melk wat gedrink is. Jou broeke mag dalk nie meer so lekker sit nie, veral as jy ’n keiser gehad het en jy wonder of jy weer gaan gemaklik voel in enige ander klere as die leggings wat jy steeds dra want dit is meer gemaklik as ’n broek.

Tog is dit nodig om die nuwe fase te betree, vir jou en vir baba. Jy gaan weer voel jy het ’n doel behalwe om mamma en vrou te wees, jy kan weer bydra tot jou werk en jou kennis en ervaring waaraan jy so hard gewerk het weer gebruik. Jou baba gaan nuwe bande vorm met nuwe maatjies en sy nuwe juffrou wat sommer baie lief vir hom gaan wees (want kom ons wees eerlik wie gaan daardie oulike gesiggie nie lief kry nie?)

Ek admireer mammas wat van die huis af werk of wat tuisbly mammas is, want hulle kry nie sommer die geleentheid om ’n breek van doeke, huilende kinders en huishouding te vat nie. Hulle kraamverlof is langtermyn en dis alles behalwe verlof. Maar ek wil ook vir die werkende mammas sê dat daar niks fout daarmee is om terug te gaan werk toe nie, of jy nou wil of moet. Ons elkeen stap die pad soos dit vir ons uitgelê is en ons kinders gaan okay uitdraai of ons nou werk of saam met hulle by die huis is.

Vir nou groet ek my kraamverlof en die kosbare tydjie saam met my liefste lyfie, trek daardie broek met losser toppie om die lyf bietjie te verbloem aan, sit my grimering op en laai hom met ’n seer hart af by die skool. Ek kyk deur die loop van die dag na die duisende foto’s wat ek geneem het en weet, ek doen hierdie vir my kinders maar ook vir myself.

Vorige artikelOefeninge om jou onderlyfspiere sterk te maak
Volgende artikel“’n Gewas verdiep my geloof”
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.