Treintoer 2015 saam met Susan Coetzer

Toer saam met Susan Coetzer na Kaapstad – per trein. Beleef hierdie unieke boekbekendstelling en onvergeetlike reis saam met ons.

As jy jonger as 50 is, het jy waarskynlik nog nooit trein gery nie. Maar dit is deesdae weer hoogmode. Kom saam met Susan Coetzer en die FINESSE-span op ’n reis eksklusief vir ons lesers.

’n Nuwe boek

Beleef self waaroor die bohaai gaan. Verstaan waarom jou oupa en ouma steeds nostalgies raak oor ’n treinreis na ’n vreemde bestemming. Volg die spoor van Johannesburg tot in Kaapstad. Verkyk jou aan die Karoolandskap wat verbyflits, rek bene op Matjiesfontein en verlustig jou in die mooie Kaapse berge. Die naweek van Donderdag 16 tot Sondag 19 April 2015 ry ons trein. Susan is ons eregas en stel haar splinternuwe roman by hierdie geleentheid bekend. “Wat is lekkerder as om ’n nuwe boek met ’n nuwe belewenis te kombineer,” gesels Susan. “Ek hoop maar net die lesers is so ontvanklik vir die nuwe ervaring soos ek.”

’n Eksklusiewe reis

Skuins na twaalf op 16 April laat ons 80 passasiers die stad, verkeer en gejaag agter vir ’n rustige reis na Kaapstad. Die klein, intieme groepie verseker dat ons lekker kan kuier, terwyl Susan ons met haar stories vermaak. Maak seker jy drink ’n koppie koffie saam met haar.
Saterdagaand is dit tyd vir die bekendstelling van haar nuwe roman. ’n Heerlike ete en unieke rooitapytbelewenis wag vir jou by Die Boer-restaurant in Durbanville. Hier ontmoet jy bekendes terwyl mediavennote se kameras flits. Maak seker jy pak jou swart rokkie in vir dié deftige geleentheid.

Bespreek nóú

Bespreek jou plek vroegtydig. Die toer kos slegs R8 599 per persoon. Jy kry ’n gratis eksemplaar van Susan Coetzer se nuwe roman, plus ’n bederfpakkie van byna R1 000. Die prys sluit een oornagreis op die Premier Classe-trein, alle etes, beddegoed en handdoeke in. Jou verblyf in ’n luukse hotel, etes, ’n kaartjie vir die boekbekendstelling en ’n buskaartjie om Kaapstad te verken is ook deel van die pakket. As deel van die reis vlieg almal Sondag saam terug na Johannesburg.

Kaapse gaste kan ook bywoon

50 Kaapse gaste kry ook die geleentheid om Susan Coetzer se boekbekendstelling by te woon. Kom en wees deel van hierdie spoggeleentheid by Die Boer vir slegs R250. Ons kuier saam in regte teaterstyl. Eet lekker, ontmoet Susan en die FINESSE-span en laat noord en suid saamsmelt in een gees – in die naam van goeie literatuur. Jou kaartjie sluit ’n ete, ’n optrede deur Susan en ’n geskenkpak in.

Skakel 086  152  8687 en bespreek nou jou plek by JB Train Tours. Maak seker jy bespreek vir die FINESSE-treintoer na Kaapstad.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test