Twee voedvroue verander die geskiedenis

Die Israeliete was met hul rug teen die muur. Voor hul was die see en agter hulle die Egiptenare. Daar was vrees, frustrasie, paniek. Moses moet vure doodslaan.

Sy antwoord bring kalmte: “Staan net daar waar julle is en kyk hoe die Here julle vandag red… Wag en kyk..die Here sal in julle plek veg.” Eksodus 15:13-14.  Arme Moses, waarskynlik net so benoud. Hy het geen idee gehad wat God sou doen nie. Hoe sou hy tog kon raai dat God die wind sou stuur en ‘n pad deur die see maak.

Dit bly ongelooflik hoe God eenvoudig anders werk as wat mense kan dink of droom. Hy veg op vreemde maniere.  Hy gebruik gewone mense en soms mense wat heeltemal onbevoeg lyk vir die taak.  Hy maak paaie waar dinge onmoontlik lyk.

Die Israeliete het swaar gekry. Josef en die goeie jare was verby. Die nuwe Farao het nie van die Israeliete in sy land gehou nie. Hy maak slawe van hulle en gaan selfs so ver om die voedvroue te beveel om pasgebore seuntjies dood te maak. Die kinderverhaal is bekend aan ons. Baba Moses in die mandjie, die prinses wat hom vind, die jong prins in die paleis en later die groot leier wat die volk na die beloofde land moet lei. Dis egter vroeg in die storie dat daar ongemerk twee vrou genoem word wat Moses se lot bepaal. Dis hulle wat die geskiedenisboeke verander.

Tydens ‘n erediens ontdek ek hierdie vroue amper vir die eerste keer. Sifra en Pua. Die twee voedvroue wat onder bevel van die Farao babaseuntjies moet dood maak. Dis hulle wat eintlik Moses se lewe red.
Twee gewone vroue. Nie eens die prinses of die Farao se naam word ooit in die boek Eksodus genoem nie. Hierdie 2 vroue maak ‘n keuse vir reg en verkeerd. Hulle speel onwetend ‘n groot rol in die lot van Israel. Daarom word hulle name genoem. “…..omdat hierdie vroue die Here gedien het.” Eksodus 1: 17

Eksodus se verhaal gee vir my moed. Dit laat my nuut kyk na die mure om ons. Dit laat my verby kyk na die leiers rondom ons wat sukkel om die regte besluite te neem.

Dit laat my onthou dat ons ‘n God dien wat vir ons wil veg, wat paaie op vreemde maniere kan maak. Dit laat my raak sien dat God gewone mense gebruik om die geskiedenisboeke te verander.

Mense soos ek en jy.

Dít spoor my aan om die Here te dien.