Verkoop jou nier vir ‘n iPad

Ek kom netnou op ʼn artikel af in die Britse koerant, The Telegraph, waar hulle vertel van ʼn Chinese seun met die naam van Zheng wat sy nier vir £2000 verkoop het sodat hy met die geld ʼn iPad kon koop.

Zheng kon dit egter nie vir sy ma wegsteek toe hy weer terug by die huis is nie, want sy het die duur toerusting gesien wat hy aangeskaf het. Sy wou toe weet waar hy die geld vandaan gekry het om dit te koop. Cheng se ma het die misdaad by die polisie aangemeld, maar later het niemand kamstig daarvan geweet nie. Die hospitaal waar die operasie gedoen is, het net erken dat hulle die Urologie Departement uitgekontrakteer het aan ʼn privaat sakeman.

Miskien illustreer hierdie berig heel goed hoe behep ons wêreld met besittings geword het. Materiële goedere het nie slegs die hoogste doel in die lewe geword nie, maar soms selfs belangriker as die lewe self. Jesus het ons gewaarsku en gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” (Lk 12:15).  Daarna het Jesus self ook ʼn gelykenis vertel van ʼn man wie se hoogste doel was om net nog meer te besit. Hierdie man het sy skure nog groter gebou om sy graan en ander goed daarin op te gaar. Maar voordat hy dit alles kon geniet, het hy gesterf. Toe waarsku Jesus en sê:  “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

Christus vra nie dat ons met ons besittings moet wegdoen nie. Maar dit is wel belangrik dat ons moet weet dat besittings nie vir ons ʼn identiteit kan gee nie. Bou eerder aan nie-tasbare bates soos goeie verhoudings met jou medemens. Gebruik ook jou besittings om ander te dien. Dit sal jou lewe veel meer betekenisvol maak.

Website Security Test