Vind jou rus

Het jy al daardie onsettend moegheid beleef waar jy net nie kans vir enige iets sien nie?

Soos wanneer jy daaraan dink dat jy vanaand aandete moet maak dan wil jy sommer begin huil omdat jy so moeg is. Dan is daar nog die sperdatums by die werk wat druk op jou plaas, en die moegheid neem net toe.

Natuurlik het ek al so gevoel, baie meer as wat ek sou verkies.

Eendag ry ek op die N1 snelweg oppad werk toe, en ek het heel moontlik een lang gaap gegee toe die Here baie hard en duidelik met my praat deur ‘n reuse advertensiebord wat langs die snelweg staan (ek is tot vandag toe baie spyt dat ek nie daardie dag ‘n foto van die bord geneem het nie).

Al wat op die bord gestaan het is Matt 11:28 met die woord ‘Rest’. Meer duidelik kon die Here nie met my praat nie:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” ~ Matteus 11:28

Maar die Engelse Message vertaling beskryf dit die beste wanneer Jesus sê:

“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”

Daardie dag het ek besef dat ek nie meer slaap nodig het nie, ek het nodig om in die Here se RUS in te gaan, ek het nodig om stil te word met sy Woord en in Sy teenwoordigheid. Ek het besef dat Hy my krag is en dat ek meer gereeld moet afskakel en tyd saam met Hom spandeer.

Skakel tegnologie vir ‘n rukkie af, vergeet vir ‘n ruk van Facebook of jou gunstelling program, spandeer daardie tyd bietjie saam met God, gaan in Sy rus in.

Mag jy jou rus in die Here vind, mag jy weer deur sy teenwoordigheid opgewakker word.

Seënwense,

Stephanie