Vreesloos!

vreesloos

Drie blondines en ’n bleskop. Vier uiteenlopende persoonlikhede. Almal met één doel: ’n vyfsterlewe. Lukas Korff, Mandi Baard, Lindie Strydom en Clarice Pieterse vertel hóé.

Die slim mense glo die geheim van sukses lê daarin om die klein dingetjies wat goed is vir jou, gedissiplineerd te doen. Hierdie vier mense lééf dit!

Lukas is ’n evangelis, fiksheidsghoeroe en meervoudige wêreldrekordhouer. Die entoesiasme waarmee hy die eerste man ter wêreld geword het wat die Argus-fietstoer staande (sonder paal of saal) voltooi het, is aansteeklik.

Lindi en Mandie is die twee ma’s, aktrises, TV-aanbieders en radio-omroepers oor wie kykers en luisteraars gaande is. En Clarice, die sangeres, aktrise en entrepreneur van die Reënboogkidz-bediening, het ’n hart wat warm klop vir kinders.

Op Jeugdag poog hulle om saam met duisende Finesse-lesers ’n 30-sekonde-wêreldrekordboksroetine uit te voer.

Jy lyk altyd so doelgerig. Hoe doen jy dit?

Lukas: Ek kan glad nie sonder my dagboek klaarkom nie. My benadering is nogal uniek. My dagtake word neergeskryf volgens die belangrikheid van die resultate wat ek graag wil sien. Ek vra myself elke oggend: “Wat is die dinge wat ek wil hê moet vandag gebeur?” My doenlysie word dan daarvolgens bepaal, met die belangrikste resultate, nie take nie, wat eerste aangepak word.

Daar is vier gewoontes waarby ek elke dag móét uitkom: om “aspris” dankie te sê, “aspris” diep asem te haal, doelgerig te oefen en die regte kos te eet. Ek probeer om niks “sommer net” te doen nie – ek doen alles bewustelik.

My dag begin met daardie allerbelangrike afspraak met God. Dis wanneer ek mooi oor my lewe dink en dankie sê. Dan kick-start ek my lyf met ’n asemhalingsroetine wat my help om genoeg suurstof in te neem. Asemhaal kom natuurlik, maar jy moet dit reg doen.

Ek oefen ook met ’n spesifieke doel, want dit hou my op koers. Ek maak doelbewus die regte koskeuses, wat brandstof vir my lyf gee. Om verkeerd te eet is eintlik baie meer moeite as om reg te eet.

Doen die regte dinge. Oor en oor. Dit werk vir my!

Hoe motiveer jy jou gesin om betekenisvol te leef?

Lindi: Ek glo alles begin by die regte ingesteldheid. Ons het saam besluit om 2017 ons gesin se “ja-jaar” te maak. Mense sê altyd: “Hierdie jaar wil ek leer ‘nee’ sê, sodat ek vir die regte dinge ‘ja’ kan sê.” Maar wat van ja sê vir die lewe, sodat die nodige nee’s spontaan sal volg?

Ek is al so moeg vir kompleksiteit. My man en drie kinders voel ook so. Ons wil nie heeldag dink aan alles wat ons nié mag doen nie. Ons kies om eerder te fokus op iets eenvoudigs wat ons kán regkry.

Wat huisreëls betref, is dit soms ’n goeie idee om die lang lysies moets en moenies op te frommel en net weer terug te gaan na die basiese dinge: een reël of voorneme waarvoor jy ja kan sê.

Vir ons gesin is hierdie reël opgesluit in die woordjie “liefde”. Eerstens vir Hom, en dan vir ander mense. Ons kinders verstaan dat elke mensgemaakte reël of goeie idee hierby inpas. As ek liefhet, sal ek mense respekteer. Dan sal ek hulle groet en vriendelik wees. Ek sal my lyf oppas, my bed opmaak, my huiswerk doen. Vir alles wat met liefde te doen het, sê ons “ja!”

Lyf-issues kan vroue maklik pootjie. Wat is jóú issues?

Mandi: Vir die fotosessie is ons gevra om sonder grimering op te daag. Dis nogal erg om met ’n skoon gesiggie iewers heen te gaan! Ek kan nog Lukas se eerste woorde onthou toe hy my sien: “Wow, jy is omtrént sonder make-up!”

In my sensitiewe twintigs sou ek dit nooit kon doen nie, maar nou (op 35) het my ingesteldheid oor my lyf heeltemal verander. Ek besef nou dat om gesond en gemaklik in my vel te wees, beter is as om perfek te probeer lyk.

Een van die dinge waarmee ek moes vrede maak, is my sprinter-bobene... hulle is gespierd en gróót. Na my swangerskappe moes ek boonop “selluliet” by my lysie voeg, maar dis nie meer die einde van die wêreld nie. Ek doen wat ek kan – ek bly aktief en eet gesond – en verder fokus ek op belangriker dinge.

Ek laat nie meer toe dat die wêreld se standaarde my definieer nie. Wat my hemelse Pa van my sê, is die belangrikste – en Hy gee nie om oor groot bobene nie! My man, Schalk, ook nie. Hierdie onvoorwaardelike liefde maak dit baie makliker om myself te aanvaar en lief te hê.

Wat is dit omtrent geloof wat jou so inspireer?

Clarice: Ek glo ons almal is gebore uit God se hart. Dis asof klein kindertjies nog kan onthou hoe dit is om by Hom te wees. Om saam met hulle te kan sing en dans vir Hom, en met dieselfde oop gemoed te glo, inspireer my.

’n Pa vertel hoe sy dogtertjie een van ons Reënboogkidz-DVD’s gekyk het. Die boodskap het ’n groot indruk op haar kindergemoed gemaak. Op pad skool toe vra sy: “Het Pappa al Pappa se huisie skoongemaak, sodat Jesus daarin kan kom bly?”

Die pa wou weet hoe ’n mens dit doen, en of sy dit al gedoen het. “Nee, nog nie,” sê sy. “Maar dis maklik. Jy sê net: ‘Jesus, vergewe al my sondes en kom bly in my hartjie. Amen.’” Toe wip sy uit die kar met haar rugsakkie en huppel klas toe – baie ingenome oor wie nou in haar hart bly! Die pa het haar met ’n knop in die keel agternagekyk, want in daardie oomblikke het hy ook iets van Jesus beleef.

Ek glo net een ontmoeting met die lewende God is genoeg om ’n lewe te verander. Hy is besig met ’n hele nuwe generasie wat ’n verskil in grootmense se lewens sal maak.

Is dit belangrik om voortdurend as mens te groei?

Lukas: My beste eienskap is dat ek op uitdagings floreer. Ek is mal oor dinge wat ander mense glo onmoontlik is. As iemand sê iets kan nie gedoen word nie, is my eerste gedagte: “Hey, maar ék kan dit doen. Kom ek wys jou!”

So tong-in-die-kies, ek het waarskynlik te veel dwelms gebruik in my jeug. Daarom is die deel van my brein wat veronderstel is om te sê iets is onmoontlik, stukkend!

Gelukkig is daar ’n vers wat die fisiese en emosionele skade wat ons onsself aandoen, kan herstel. Dit het een van die motto’s in my lewe geword: “Ek kan alle dinge doen deur Christus wat my die krag gee.” Of ek nou die Argus sonder ’n saal wil ry, en of ek in die oggend vieruur wil opstaan om te oefen of langer stiltetyd te hou, dit ís moontlik.

Fokus op die groter doel, en begin die praktiese deel daarvan getrou en herhaaldelik doen, totdat dit deel van jou daaglikse roetine word. En hou daarby, ongeag hoe jy voel of wat ander daaroor sê. Persoonlike groei is presies dit – dis persoonlik. Dit is ’n keuse wat net jy kan maak. ’n Keuse wat uiteindelik jou lewe kan verander!

Jy is net mens. Stel jy jouself soms teleur?

Lindie: O, ja, teleurstelling is beslis deel van my lewe! In druk tye voel ek soms soos ’n masjien wat net bevele uitbulder om alles en almal bymekaar te hou. Snaaks genoeg, by die werk of in ’n professionele omgewing kan ek ’n mooi rustige en kalm front voorhou, maar by die huis kry my hartsmense dikwels met die kwaai Juffrou Rottenmeier in my persoonlikheid te doen.

Ek is vies vir myself as ek so optree, maar ek bly nie in ’n gat sit nie. Dit help niks. Die kinders weet al net so goed soos ek: Eerlikheid is die antwoord om al wat fout is, reg te maak. Sê vir jouself: Dit het gebeur, maar dis verby. Wat kan ek hieruit leer en volgende keer anders doen?

Dis belangrik om in voeling te bly met jou binnewêreld, sodat jy meer bewus sal wees van die uitwerking wat jou optrede op jou buitewêreld het.

Ek glo ook daaraan dat ons eerlik met mekaar moet wees oor ons foute. Niemand is perfek nie. Daar is min dinge so kragtig soos ’n opregte “jammer”. Nie flou verskonings om myself te verdedig nie. Net ’n opregte: “Ek is jammer, julle!” My man en kinders waardeer dit.

Wat het jou laat besef gesondheid is ’n voorreg?

Mandi: Ek het ook maar vir jare my gesondheid as vanselfsprekend aanvaar, soos die meeste van ons. Tot ek ’n taamlik ernstige bakterie in my lyf gekry het. Dit het my baie siek gemaak. Dit het my laat besef dinge kan maklik skeefloop as jy nie waardeer wat jy het nie.

Ek besef nou my lyf is ’n geskenk. Dis net myne en net ek kan kies om dit op te pas of te verniel. Ek is nogal spyt ek het dit nie lankal ernstig opgeneem nie. So met die ouderdom en na my swangerskappe het ek baie van my natuurlike fiksheid verloor. En my ou asma-probleem het ook intussen weer begin kop uitsteek. Dis egter nooit te laat om gesonder keuses te maak nie. Nou kyk ek mooi na myself.

’n Kontrak by die gimnasium is beslis nie vir my nie, ek geniet eerder die buitelug. Daar is so baie (gratis) maniere om oefening deel van jou daaglikse roetine te maak. Ons stap graag saam as gesin, of ek en Schalk speel sommer net met die kinders. Om saam aktief te wees en te lag is uitstekend vir ons almal se gesondheid – dis goed vir liggaam én gees!

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test