Fiësta, siësta en tapas. Lynette Beer en Venessa Schoeman kan nie wag vir Finesse se Spaanse avontuur nie. As jy behoefte het aan vreugde, ’n behoorlike wegbreek en eksotiese kos, sluit by hulle aan!

Kos en wyn is nasionale obsessies in Spanje, en met goeie rede. Die grondslag van Spaanse kookkuns is misleidend eenvoudig: onmeetlike variëteit en tradisionele resepte wat van die een geslag na die ander oorgedra word.

Jy kan die lekkerste ete ooit beleef met tapas in ’n aardse kroeg waar almal skreeu of met ’n maaltyd wat deur ’n glanssjef in die verfynde omgewing van ’n Michelin-sterrestaurant berei word. In beide gevalle is die ervaring wat op jou wag, asembenewend en vir seker die hoogtepunt van jou reis.

Spanje se diverse landskappe ontroer die siel. Die Pireneë is so mooi soos enige ander bergreeks op die kontinent, terwyl die sneeubedekte Sierra Nevada onverwags verrys uit die sondeurdrenkte vlaktes van Andalusië. Die wilde skoonheid van Spanje se Atlantiese noordwestelike kranse vorm ’n kontras met die sjarmante baaitjies van die Mediterreense See.

Net so asemrowend as wat die natuurskoon is, so fassinerend is die stede met hulle mengsels van antiek en modern. Sevilla se grootse katedraal is ontsaglik in sy skaal en majestieusheid. Hier is ook die graf van Christopher Columbus, en die hoofkapel met sy verstommende goue altaarstuk.

Hoewel Spanje ’n lang geskiedenis het, is dit ’n land wat deeglik in die teenwoordige woon. Daar is ’n rede waarom “fiësta” een van die bekendste woorde in die Spaanse taal is – die lewe self is ’n fees en almal is skynbaar uitgenooi.

Miskien sal jy dit ondervind langs ’n stampvol straat na middernag as die hele wêreld uitkom om te kom speel. Of op daardie oomblik as ’n flamenco-danser iets diep binne-in jou aanraak. Ongeag wanneer dit gebeur, jy sal vind dat jy in herkenning knik: Dit is Spanje.

Waaraan dink jý as jy aan Spanje dink? Sonryp lemoene aan bome in die Middeleeuse straatjies van Valencia? Kuier by ’n straatkafee oor ’n groot pan paella of borde vol tapashappies en ’n glas sangria?

Wat dit ook al is wat jou na Spanje aantrek, jy gaan dit sien, proe, ruik en voel op hierdie toer. Hierna sal vreugde weer diep in jou kom lê!

DATUM

Ons toer van 22 Junie tot 4 Julie.

(Ons sal reeds op 21 Junie uit Suid-Afrika vlieg na Spanje en op 5 Julie weer in Suid-Afrika land. Hierdie datum val in ons winter skoolvakansie.)

PRYS

R36 700 R34 900* pp wat deel
(voor 18 Maart)

Dit sluit die vlugte, landtoer en akkommodasie in asook al die ontbyte en 4 driegangaandetes; *fooitjies van R1670 pp is uitgesluit by hierdie prys.

OM TE BESPREEK

Nicole Elisio
Trafalgar
nicole.elisio@ttc.com
011 280 8495

 

TOERPROGRAM

KLIEK HIER om die REISPLAN af te laai