Vriendelikheid kos mos niks

Ek luister onlangs na ‘n boodskap van die bekende spreker Bill Johnson waarin hy vertel hoe sy twee seuns, toe hulle klein was, met mekaar sou speel of stoei, soos seuns maar is.

Hy vertel hoe die een seun in die middel van die speelirigheid iets goed of vriendelik (in die Engels gebruik hy die woord ‘kind’) aan die ander seun sou doen. Hy het die seuns dadelik gestop en gevra of hulle gesien het wat nou gebeur het. Die seuns sou verward lyk en begin wonder wat hulle verkeerd gedoen het, maar dan verduidelik Bill vir hulle dat dit wat gebeur het, deel van die vrug van die Gees is (Gal 5:22).

Om vriendelik of goedhartig teenoor iemand te wees kom somtyds so natuurlik dat ons dit nie eers besef nie, maar ander kere moet ons doelbewus besluit om goedhartig en vriendelik te wees. Daar is soveel nood om ons, en baie mense het ‘n vriendelike gesig nodig om hulle selfs net vir een dag op te beur sodat hulle net vir een dag van hulle hartseer kan vergeet.

In Matteus 25 herinner die Here ons dat ons altyd vir mense om ons moet omgee, in vers 40 hoor ons hoe die Here sê: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Mag ons elkeen van vandag af besluit om goedhartig en vriendelik te wees waar ons ook al gaan. Mag iemand ons ook stop en sê dat hulle die vrug van die Gees in ons sien. Mag dit so sigbaar in jou lewe wees, en so deel van jou daaglikse bestaan word dan dit later van nature kom, en só tot eer van God se koningkryk wees.

Seënwense,

Stephanie