Gebruik jy jou 24 uur?

’n Vrou wat volgens die riglyne van Spreuke 31 leef, besef hoe waardevol tyd is, en spits haar daarop toe om dit effektief te gebruik en nie te verkwis nie.

Waaraan bestee jy jou 24 uur elke dag?

Tyd is anders as geld, waarvan almal verskillende hoeveelhede het. Jy kry mense met baie geld, mense met ’n goeie hoeveelheid geld, mense met genoeg en mense met nie genoeg nie. Maar met tyd het ons almal 24 uur per dag.

Geen persoon kry een minuut meer of minder as die ander een nie. Hoe jy egter daardie 24 uur aanwend, is wat jou anders gaan maak as die een langs jou. As jy elke sekonde in jou lewe gaan laat tel, gaan jy vir seker die vrugte daarvan pluk.

Wanneer jy besig is met jou kinders, fokus op jou kinders. Moenie met ’n selfoon in jou hand gevang word waar jy besig is om ’n WhatsApp aan kollegas te stuur nie. Wanneer jy besig is om te werk, fokus op jou werk, anders gaan jou werk nou-nou weer die tyd saam met jou kinders steel of die tyd beperk wat jy vir onspanning het.

In my lewe is dit die prioriteite waarvoor daar elke dag tyd gemaak moet word, en omdat ek nie vaste werksure het nie, verg dit baie beplanning en baie dissipline om dit te maak werk. Vir my is tyd sekerlik een van die waardevolste dinge wat daar is. Jy kan dit nooit ooit weer terugkry nie

Facebook jy eerder as om met God te praat?

Ek dink een van die grootste dinge wat ons deesdae met ons tyd doen en wat heel waarskynlik nié vir God aanneemlik is nie, is die ure en ure wat ons op sosiale media deurbring. Hoor my hart, daar is opsig self niks met sosiale media verkeerd nie.

Inteendeel, dit verrig wondere vir ’n besigheid of selfs vir die bemarking van God se koninkryk, maar die oomblik wanneer iets op ’n manier ander manier aangewend word as die wyse waarvoor dit gemaak is, word dit ’n misbruik. En sodra jy nie badkamer toe kan gaan of selfs jou motor kan bestuur sonder om te kyk wat op jou vriende se Twitter-, Facebook- en Instagram-rekeninge aangaan nie, begin dit grens aan verslawing.

Ek weet van baie mense wat besluit het om alle rekeninge te kanselleer en eerder net te fokus op hulle kinders en dit wat in die regte lewe aangaan. Ek het groot respek vir sulke besluite en glo my, ek het ook al gewens dit was vir my moontlik om dit te doen. Uit die aard van my werk moet ek ongelukkig heeltyd sigbaar wees anders raak dit ’n geval van “uit die oog, uit die begroting”.

As jy onseker is of jou tyd op sosiale media vir God aanneemlik is, neem ’n besluit om een week daarvan te vas en daaroor te bid. Die Here sal beslis in daardie tyd Sy antwoord aan jou openbaar.

Besluit wat is jou prioriteite en lééf!

Ons dink altyd: Hiérdie naweek, dáárdie vakansiedag of oor die Desembervakansie... en naweek na naweek, vakansiedag na vakansiedag en Desember na Desember gaan verby en niks word daaraan gedoen nie. Soms het jy al kleinkinders en dan is jou eie kinders se babafoto’s nog nie in ’n album nie.

Dit is vir my net logies dat indien ons net vinniger deur die dag beweeg, ons tyd gaan spaar en tyd wen om nog ander goed gedoen te kry. As jy vinniger loop asof iemand met ’n sweep agter jou is wanneer jy badkamer toe gaan of in die winkels loop, gaan jy ’n bietjie meer tyd in jou dag hê.

Besluit wat jou prioriteite is. Skryf ook daardie takies neer waarby jy nooit uitkom nie en gee vir jouself ’n sperdatum wanneer dit klaar moet wees. En maak tyd daarvoor. Ons kan so maklik ’n geregtigheidskompleks hê: Ek is geregtig op my rus, ek is geregtig op my ontspanning, op my alleen-tyd... Eintlik is ons geregtig op niks en is al daardie voordele net genade.

Maak die absolute beste van elke enkele dag. Ek is baie seker ons sal eendag voor die Regter moet staan en verantwoording doen vir onsself, ons kinders én ons tyd. Maak seker jy word onskuldig bevind.

Aletté Winckler is vrou, ma van drie, besigheidsvrou en weet van tyd en prioriteite! Vir 31 dae het sy soos die Spreuke 31-vrou probeer leef en vertel jou dat jy ook kan.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.