Liefdesdoepa

Dr Sandberg van Oxford Universiteit sê dat dit een van die dae moontlik behoort te wees om ‘n doepa te vervaardig wat kan maak dat iemand vir jou lief word.

Dr. Sandberg is ‘n neurowetenskaplike en hy sê dat wanneer ‘n mens op iemand verlief raak, dit ‘n invloed het op jou brein. ‘n Mens se brein skei dan oksitosien en vasopressien af. Dit werk byna soos ‘n stimulant en dit maak dan dat jy die ander persoon herken as iemand saam met wie jy graag jou lewe sal wil deurbring. Dit behoort dus moontlik te wees om ‘n doepa te maak wat bestaan uit oksitosien en vasopressien, en wanneer jy dit vir iemand ingee, sal die persoon op jou verlief raak. Eties kan dit ‘n probleem wees, want dit is dan amper iets soos ‘n afspraakverkragtingsmiddel. Maar dit mag dalk in orde wees as jy in ‘n lang verhouding met iemand is, en emosies begin kwyn, en jy wil daardie liefde weer aanvul en versterk.

In die Bybelse tyd is liefdesappels as ‘n seksuele stimulant gebruik en ook om vrugbaarheid te verhoog. Lees byvoorbeeld wat Genesis 30:14-17 ons van liefdesappels vertel: 

Op ’n keer het Ruben in die oestyd veld toe gegaan en liefdesappels gepluk. Hy het dit vir sy ma Lea gebring. Ragel het vir haar gesê: “Gee vir my van die liefdesappels wat jou seun gebring het.”

Toe vra Lea vir haar: “Is jy nie daarmee tevrede dat jy my man gevat het nie? Wil jy nou nog ook die liefdesappels vat wat my seun gebring het?”

Daarop het Ragel geantwoord: “In ruil daarvoor mag Jakob vannag by jou slaap.”

Toe Jakob die aand van die veld af kom, gaan Lea hom tegemoet en sê vir hom: “Jy moet na my toe kom, want om jou te kry, het ek die volle prys betaal met die liefdesappels wat my seun gebring het.” Daardie nag het Jakob toe by haar geslaap. God het Lea se gebed verhoor, en sy het swanger geword en ’n vyfde seun vir Jakob in die wêreld gebring. 

lyn_3.png

Hennie Stander is ’n prof in Grieks, maar wanneer hy preek en skryf, gebruik hy maklike Afrikaans. As predikant ken hy die vrae wat gelowiges kwel. As teoloog weet hy waar om na die antwoorde te gaan soek. Na die Here is sy vrou, kinders en kleinkinders sy grootste liefdes. En oor dit alles skryf hy al jare in boeke en sy baie bekende blog (www.henniestander.co.za).

Dit lyk deesdae of niemand meer glo nie. En diegene wat wel leef vanuit ’n verhouding met hulle Skepper, raak skaam om dit te sê. Nie Hennie nie! In Hoekom ek nog glo vertel hy uit sy eie lewe van die werklikheid wat die Here vir hom is. Hy getuig van groot en klein wonderwerke, maar veral van sy Verlosser. Bestel hierdie boek in sekondes by voelgoedwinkel.co.za en lees dit in een dag deur … Dit sal jou geloof  lewenslank versterk.