My stukkende arms is God se trofees

Adri Williams samel miljoene rande in vir boere in nood, verloor die gebruik van haar arm tydens ’n ongeluk, maar prys God midde-in die storm!

Dis ’n lang, donker tonnel en ek snel teen ’n duiselingwekkende spoed daarin af. Ek is op pad hemel toe en al waaraan ek dink is: Het ek goed genoeg gedoen om in die Boek van die Lewe te wees? ’n Hoorbare Stem sê: “Dit is nog nie jou tyd nie.” Dan is ek terug in my hospitaalbed. Terug in die verterende, vretende pyn en pyn en pyn.

God het vooraf vir my man gesê om te vas en te bid vir sy gesin se veiligheid. Ons was in Prieska saam met die Carte Blanche-span, pas klaar met die verfilming van Projek SOS100, waar ons boere in nood weens die droogte gehelp het. Gerald, ’n verslaggewer, het saam met my in die kar gespring terug Kaap toe. Op Carnarvon was ek om geen rede nie skielik doodbang vir die stuk pad wat voorgelê het. Gerald moes eerder verder bestuur. Skaars ’n halfuur later begin die motor skielik oor die pad gly. Net toe ek vir Gerald skree om nie rem te trap nie, begin die kar rol.

Vertel van die projek vir boere in nood?

Op Kersdag verlede jaar sien ek ’n prentjie van ’n konvooi vragmotors vol veevoer op pad na die boere in dringende nood. Daar by die feesmaal dink ek skielik aan die talle boere wat weens die droogte nie kos het op die tafel nie, wie se vee letterlik van die honger vrek. En ek weet hier is ’n opdrag van God.

Dae lank loop ek met ’n dringendheid binne my, totdat ek vir Hom sê: Goed, ek sal probeer om een vrag veevoer na die boere te stuur. Eers vier maande en baie, baie oproepe later, het dinge reg verloop en is ons met ’n vragmotor veevoer na Williston.

Hier het jou oë waarlik oopgegaan vir die nood?

Niks kon my voorberei op wat ek daar teëgekom het nie. Die skape was in hangmatte, want hulle kon weens swakheid nie meer self staan nie. Orals het karkasse rondgelê van diere wat die stryd teen die honger verloor het. Die geraamtes van dié wat nog aan die lewe geklou het, het my hart gebreek. Die ding is, die boere self het reeds al hulle besittings verkoop vir veevoer. Hulle het sélf nie meer kos in die huis nie.

Ons het op een van die plase oorgeslaap. Daardie Sondagoggend is ons wakker gemaak deur die perde wat op en af hardloop langs die draad en huil vir voer. Dit was verskriklik.

Hoe het die boere die hulp ontvang?

Die oomblik is in my hart geëts. Daardie Sondagoggend toe die vragmotor van hoop by die kaal plaas intrek, breek die son deur die wolke en fluister God vir my dit is weens my gehoorsaamheid dat Hy Sy lig in die donker situasie kan laat skyn.

Ek weet nie wie meer gehuil het nie, ek of die vyf boere wat by die vrag voer gebaat het! Ons het almal gegrens – die boere uit naakte dankbaarheid en ek uit absolute verwondering oor hoe Hy mense se gebede kon verhoor, deur 700 km verder ’n taak op my hart te druk, wat sekerlik geklassifiseer kon word as mal! Maar selfs al het ek geen benul van boerdery en veevoer gehad nie, het God alles perfek laat uitwerk.

En toe word Projek SOS100 gebore?

Ek het op Tygerberg 104fm van hierdie verskriklike realiteit van die boere in nood gaan vertel. Die stasie het Projek SOS100 van stapel gestuur, met die hoop om R138 000 in te samel om net nog een vragmotor vol veevoer te kan stuur.

Maar God het baie meer as dít in gedagte gehad! Mense het eenvoudig hulle harte en beursies oopgegooi en ons het die bedrag reeds daardie eerste oggend ingesamel. Binne twee dae kon ons ses vragmotors met veevoer volmaak en teen die einde van die week het Hy só in mense se harte gewerk dat altesaam 17 vragmotors met uitkoms gevul is en die hongersnood ingestuur is! Daar was geen einde aan Sy momentum nie. Carte Blanche het van die projek te hore gekom en die aflewering op Prieska verfilm.

En dit is hier dat die ongeluk plaasgevind het?

Die oomblik toe my lewe onherroeplik verander, was in stadige aksie. In duisendste van sekondes kon ek voel hoe ek uit my sitplekgordel geruk en na agter tussen die voorste en agterste sitplek geslinger word. Weer terug by my positiewe, kyk ek links en sien my regterhand verkeerdom langs my kop hang en onder my regterskouerknop kan ek duidelik sien die been is gebreek. So begin my tyd van hulpeloosheid en pyn. En genade. 

’n Spesialis in Kaapstad het beide my boarms letterlik soos legkaartstukkies met plate en skroewe aanmekaargeskroef. My regterhand was egter verlam. Die senuwee is onherstelbaar beskadig. Intussen het hulle besef ek het ook interne bloeding. Daar gaan my liggaam in skok en ek beland in die intensiewesorgeenheid. Dit is hier waar my hartklop erg verswak en ek daardie ervaring van die donker tonnel gehad het.

So ’n ongelooflike projek en toe die terugslag? 

Een nag in die hospitaal oorweldig die wonder dat ek leef my só dat ek huil. Ek wil die trane uit my oë vee en ek nie kan nie. Ek kan níks vir myself doen nie! En ek roep uit na God en sê: “Maar Here, ek het U werk gaan doen. Hoekom het U hierdie ramp toegelaat?” Hebreërs 11:1 kom by my op; “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Ons het vir hierdie slap handjie begin bid. Elke dag. Sewe weke later haal ek soos elke aand my hand uit die stut en dan flap hy so vorentoe. Daar kom ek agter dat my wysvinger effens bly staan en ek begin dit oefen. Twee maande later het my hand so herstel dat ek dit self kon regop hou.

Sou jy steeds Projek SOS100 aangepak het? 

Beslis. Ons het na die ongeluk met derduisende rande se uitstaande mediese onkoste gesit. Waar krap ’n mens dit uit? Uit die bloute bel ’n weldoener en bied aan om die koste te dra. Weet jy hoe erg was dit vir my om die guns te aanvaar! Daar was egter geen ander uitweg nie – ek het dit nodig gehad. Soos die trotse boere hulp nodig gehad het.

Probeer jou indink waar ’n boer se moraal is teen die tyd dat hy sy trots genoeg gesluk het om die telefoon op te tel en te sê: Ek het hulp nodig. Gestroop. Ek het dit in hulle oë gesien elke keer wanneer ’n genadevrag op ’n plaas aankom.

So, jy het ’n dubbele oorwinning?

Die kringloop is voltooi. Meer as R3 miljoen is uiteindelik vir boere in nood ingesamel; 26 vragmotors is met veevoer gevul. Bykans 160 boere in uiterste nood is gehelp.

Ek het ’n visie van my op Tafelberg met my arms omhoog, waar ek van die bergpiek af jubel hoe groot ons God werklik is. My grootste stryd gaan my grootste sege wees! ’n Bekende evangelis het nou die dag vir my gevra of ek besef my arms is Sy trofees. En toe kliek ek skielik – dit is die reine waarheid! My letsels is vir Hom en ons gesin monumente van oorwinning.