“Ouerskap het my lewe verander”

Christi Panagio

Ma-wees verander jou meer as wat jy ooit kon dink. Christi Panagio vertel hoe die aanneming van hulle dogtertjies haar lewe ryker en mooier gemaak het.

My pad na aanneming en die finale besluit was... ’n uitdagende een. As jy maand na maand die teleurstelling beleef om net een strepie op die swangerskaptoetsstokkie te sien, doen dit iets aan jou. Daar was ’n gat in my moederhart. Ek wou so verskriklik graag ’n kind hê!

Op ’n dag het Nico na my toe gekom nadat hy fietsgery het. Hy het gesê hy het sy hart oor ons situasie op die berg voor God uitgestort. En daar hoor hy toe by Hom dat ons ’n kindjie moet aanneem! Die gedagte van aanneming was natuurlik glad nie vir my ’n skok nie. Ek het as jongmeisie alreeds gedink dat ek graag eendag ’n kindjie sou wou aanneem. Mý plan was egter om dit te doen eers nadat ek my “eie” kinders gehad het.

Ná die insident het ek en Nico Griekeland toe gegaan om weer te “probeer” om swanger te word. Maar dit het nie gewerk nie. Terug in die land het ons drie keer vir kunsmatige inseminasie gegaan. Ook dit het nie gewerk nie.

Toe het ons besluit ons sal gehoorsaam moet wees en die proses van aanneming aan die gang moet sit. Toe ons uiteindelik begin luister, het alles net reg verloop. Ons het sommer gou ’n babatjie van ons eie gekry en vir die eerste keer het dit gevoel of daardie gat in my hart heeltemal genees is.

Wil ons nog ’n biologiese kind hê? Ek voel ons twee aangenome kinders het ons harte volkome heel en tevrede kom maak. Ons het nou die eie gesin waaroor ons nog altyd gedroom het!

Ek bid daagliks vir my kinders... vir verskeie dinge. Met kleintjies in die huis en ’n vol program kan dinge maklik chaoties raak. Ek het egter besef dat wanneer dit voel asof alles net te veel wil raak, ek weer aandag aan my stiltetyd moet gee. Dit is in hierdie tye dat ek weer inspirasie en wysheid kry en gevul word met vreugde. Dan daal daar sommer ook vrede in die huis neer!

Ek bid beslis baie vir my kinders. Hulle is nog klein, maar ’n mens kan klaar sien dat hulle heeltemal verskillende persoonlikhede het. Ek is seker daar gaan selfs meer spesifieke gebede vir elkeen begin opgaan soos hulle groter word.

In hierdie stadium bid ek vir beskerming en veiligheid – vir hulle liggaam, siel en gees. Ek bid vir kinderlike geluk en tevredenheid. Ek bid ook vir ’n gesonde selfbeeld en vir sagte harte. En dat hulle altyd sal weet dat hulle behoort, dat hulle spesiaal gekies is en geliefd is.

Dit is lekker as ’n mens beleef hoe jou gebede vir jou kinders begin waar word. Ek sien gereeld gesinne waar boeties en sussies niks van mekaar hou nie. Vir my is dit egter verskriklik belangrik dat ons twee dogtertjies ’n goeie verhouding met mekaar moet hê. Ek het dus spesifiek daarvoor begin bid. Ek het gevra dat hulle goeie maats sal wees, respek vir mekaar sal hê en dat hulle lief vir mekaar sal wees.

Alhoewel hulle van tyd tot tyd soos alle ander kinders van mekaar verskil, beleef ek tog ’n besonderse liefde vir mekaar. Dit maak my so dankbaar!

Ek wil hê my kinders moet geloof sien... as deel van elke aspek van hulle lewens. Ons leefstyl is van so ’n aard dat Nico gereeld moet weggaan vir werk. Dit veroorsaak dat dit vir ons moeilik is om elke Sondag in die kerk te wees. Ons is wel semi-deel van ’n gemeente en selgroep.

Ons stel die kinders egter op baie ander maniere aan geloof bekend. Ek wil graag hê dat hulle sal besef dat geloof moet oorspoel na elke aspek van ’n mens se lewe. Ons sal byvoorbeeld gereeld in die motor bid vir verskillende dinge. As daar ’n arm mens op straat staan en dit lyk asof hy of sy swaarkry, sal ons sommer gou vir die persoon bid.

Nou die dag het ons in verskriklike reënweer by die winkel ’n parkeerplek gesoek. Ons het oë toegemaak en gevra en oomblikke later ’n goeie plek gekry. Nog ’n voorbeeld is toe ons ’n rukkie gelede gaan kamp het. Dit het hard gereën. Ons het gebid dat die reën vir ’n ruk sal opklaar sodat ons lekker kon speel – en dit het net so gebeur. Natuurlik nie gebeur alles waarvoor ons vra onmiddellik of noodwendig nie, maar dit is goed dat ons kinders kan beleef dat ’n mens oor alles kan bid.

In ons huis praat ons ook gereeld oor die skepping en waarvoor ons alles dankbaar kan wees. Ons luister ook saam na potgooie en geestelike musiek. Die twee raak elke aand aan die slaap met die Praise Baby se geestelike musiek op die agtergrond. Ek dink dit het ’n positiewe invloed op hulle.

My nalatenskap wat ek vir my kinders wil los... is om ’n teenwoordige ma te wees. My eie ma het verskriklik hard gewerk, maar sy het altyd moeite gedoen om soveel moontlik van ons sportwedstryde by te woon.

Omdat ek en Nico graag die grootste invloed op ons kinders se lewens wil wees, het ek uit vrye wil besluit om my loopbaan eers opsy te skuif. Nico is dus hoofsaaklik ons broodwinner en ek bly by die kinders. As ek wel ’n week of wat vir ’n projek moet weggaan, kyk Nico na hulle.

My keuse van projekte hang ook af van die tyd van die dag wat dit aangebied word. Ek aanvaar geen werk smiddae na 14:00 nie, aangesien ek dan vir my kinders beskikbaar wil wees. Kan ons dit bekostig? Nou ja, ons sal vir seker nog ’n salaris goed kan gebruik. Ons het egter eenvoudig besluit om eerder af te skaal en ’n tyd lank met minder klaar te kom. Ons glo dat dit die beste vir die kinders is.

Ek en Nico belê baie in ons huwelik – gelukkig getroude ouers het tog ’n blywende effek op die kinders. My ouers was vreeslik gelukkig getroud en daarom is ’n gelukkige huwelik vir my ook belangrik.

Daar is ’n sêding waarmee ek saamstem: “If you want to change the world, go home and love your family.” Ek dink te veel mense fokus op wêreldsukses en vergeet hoe belangrik hegte gesinswaardes is. Ek hoop my kinders sal eendag kan terugkyk en sê dat ek genoeg van my tyd vir hulle gegee het. En dat dít die groot verskil gemaak het.

 

 

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.