Verander jou denke, verander jou lewe

Liesel Krause-Wiid

Geloofkenner: Liesel Krause-Wiid

lyn_3.png

GRATIS

Vroue soos Liesel Krause-Wiid, Natasha Joubert, Liza Brönner, Cordelia en ander gewone vroue wat glo skryf saam om jou weer die lewe se lekker kant te wys. Kliek hier en laai die e-boek, Leef, Lag en Loof! gratis af. Gebruik die afslagkode LLL16. Aanbod geldig tot 24 Oktober.

lyn_3.png

As jy na die wêreld om jou kyk en op omstandighede fokus, is mismoedigheid jou voorland... Daar is ’n rede hoekom Paulus sê ons moet dink aan alles wat waar, eerbaar, suiwer en mooi is.

’n Pa wou op ’n keer sy tienerseun ’n waardevolle les leer. Hy maak vir die seun ’n koppie tee en toe hy dit voor hom neersit, stamp hy die koppie aspris om. “Wat het uit die koppie gekom?” vra die pa. Sy seun het verbaas geantwoord: “Tee, natuurlik!” Die pa sê toe: “Wat waar is van hierdie teekoppie, is waar van jou lewe. Dit wat binne is, kom uit as daarteen gestamp word.”

Ons gedagtewêreld verander vinnig in woorde en dade as ons onder druk verkeer; daarom is dit belangrik om te kies waaroor jy dink. Jy kan onmoontlik ’n positiewe lewe lei as jy gedurig negatief dink!

Waar die hart van vol is...

Mark Waldman en Andrew Newberg het ’n boek geskryf, Words can change your brain. In dié boek vertel hulle dat die woordjie “nee” vir minder as ’n sekonde voor iemand geflits is terwyl die persoon ’n MR-skandering ondergaan het. Nadat die woord geflits is, het die persoon se brein onmiddellik talle streshormone vrygestel wat spraak, geheue, logika en selfs taalgebruik negatief beïnvloed het. Die skrywers meen dat wanneer jy negatiewe dinge sê of daarna luister, dit jou angstiger, meer geïrriteerd en agterdogtiger maak.

Kyk in die spieël en vra vir jouself: “As vandag die laaste dag van my lewe was, hoe sou ek gedink en opgetree het?” Leef en dink dan so, want die lewe is te kort om altyd swartgallig te wees. Probeer om mense wat gedurig kla en negatief is, te vermy. Breinkenners meen ook dat wanneer jy vir 30 minute of langer per dag aan ander se gekla blootgestel word, dit jou brein se vermoë om probleme op te los kan belemmer.

Sing, lees ’n boek en dink jouself positief

Sodra jy van jou negatiewe gedagtes bewus raak, kies om dit onmiddellik met positiewe gedagtes te vervang. Begin ’n loflied sing of lees ’n opbouende en inspirerende boek hardop. Jy kan nie negatief bly dink as jy positiewe opbouende dinge hardop vir jou self herhaal nie.

 Navorsing toon dat jy binne 21 dae ’n nuwe gewoonte kan aanleer. Een manier om jou van jou gedagtes bewus te maak is om ’n rekkie om jou pols te dra. Sodra jy ’n negatiewe gedagte dink, skiet jouself met die rekkie.

Jy het seker al van die “placebo-effek” gehoor. So vroeg as 1907 het medici vir pasiënte onaktiewe medikasie (iets soos ’n suikerpilletjie) gegee en gesê die pille sal hulle siektetoestand verbeter. Pasiënte se gesondheid het verbeter terwyl hulle die onaktiewe stof met geen medisinale waarde gebruik het. Hulle denke het ’n invloed op hulle gesondheid gehad. Moet dus nooit die krag van jou denke onderskat nie.

Party mense dink hulle kan slegs positief wees as alles in hulle lewe vlot verloop. Dít gebeur egter bitter min. Jy moet kies om verby die onvolmaakthede van die wêreld te kyk en te fokus op God en dit wat goed en mooi is.

Bid en werk, en leef hier en nou!

Wanneer jy opreg meelewend is en ander help, word jy vanself ’n gelukkiger mens. Jou brein skei voelgoed chemiese stowwe af wanneer jy diensbaar is. Moenie jouself te veel kritiseer nie, geen mens kan alles uitstekend doen nie! Doen jou bes en vertrou God vir die res. Daar is ’n bekende leuse, Ora et labora. Dit beteken bid en werk. Kies om te fokus op dit wat mooi en goed is in jou lewe.

Jou leefstyl kan ook die oorsaak van jou negatiwiteit wees. Slaap genoeg, eet gesond en oefen gereeld. Leef verder bewustelik. Sommige mense raak heeltemal vasgevang in die verlede. Hulle mis die goeie ou dae of vertroetel die pyn van die verlede. Dit hou hulle met swaar kettings terug. Ander leef weer net vir môre – hulle sien uit na die vakansie wat kom of die naweek of wanneer hulle polis eendag uitbetaal.

Neem waar wat om jou aangaan, ruik die lug, voel die gras onder jou voete, kyk na ’n mooi blom. Leef ín die oomblik.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Jy kan die Nuwe Testament van voor tot agter deurlees in 365 dae! Raak kreatief en versterk jou geestelike lewe met hierdie Joernaal-Bybel vir vroue. 

KLIEK HIER en spaar 50% as jy aanlyn bestel op Voelgoedwinkel.co.za. Jy betaal R95.

 

lyn_3.png

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA