Wat leer jy jou kind

Gomer (Hosea 1-3) Uit Skaduvroue van die Bybel geskryf deur Jaco Thom

Hulle sê ’n mens se kinders is nes jy, net erger. As Atalia soos haar ma was, maar erger, kón haar lewe nie ’n mooi verhaal wees nie...

Jojada stap met sy hande agter sy rug heen en weer. Voor hom sit van Juda se leiers. Hulle het deur die loop van die dag stuksgewys aangekom sodat hulle nie enige aandag sal trek nie. “Menere,” begin hy, “ek het julle byeengebring om ’n saak van groot kommer te bespreek: Atalia. Ons weet almal deur watter verfoeilike daad sy die hef in die hand gekry het. Ons weet van haar afsku van die dinge van die Here en liefde vir Baäl.”

Elisafat vat aan sy baard, sy wenkbroue byna ’n reguit streep soos hy frons. “Wat my bekommer, is wie die vrou gaan opvolg. Sy het elke enkele nasaat van haar uitgewis.” Hy kyk na die ander en sê dan bekommerd: “Ek hoor fluisteringe in die paleis dat sy van plan is om ʼn nefie van haar uit Sidon te laat kom.”

“Ons mag dit nooit toelaat nie!” brul een van die familie-hoofde. “Juda behoort aan die Here, nie aan daardie Baälvereerders nie.” “Maar wat kan ons doen?” vra Maäseja. “Ons kan dalk nog saamspan en van Atalia ontslae raak, maar wat dan? Dit sal chaos afgee, soos al so dikwels met ons noordelike volksgenote gebeur het as daar ’n magstryd ontwikkel.”

“Maar as ons nou ’n wettige aanspraakmaker op die troon van Dawid in die hande kan kry, wat sê julle dan?” vra Jojada. “Dit sou die hele prentjie verander,” sug Maäseja. “Maar Atalia het hulle almal laat doodmaak. Julle weet dit tog.”

Jojada kyk die mans in die oë. Hy wil baie seker maak hoe die wind waai voordat hy sy geheim met hulle deel. “Kom ons praat net ’n oomblik. Gestel ons kry wel ’n wettige aanspraak-maker; iemand uit koning Dawid se eie nageslag. Wat sal julle gevoel dan wees?”

Maäseja spring op. “Dan speel ons klaar met daardie vrou!” “Ek stem saam,” sê Elisafat. “As ons ’n opvolger kry, maak ons hom koning en klaar.” Jojada vra: “Hoe sal dit by die volk afgaan?”

“Dit hoef ons nie eers te vra nie. Ons sal verseker oorweldigende steun kry,” sê Elisafat.

Jojada glimlag breed. “Menere, ek wil ’n geheim met julle deel, maar eers moet julle ’n eed in die Naam van die Here aflê dat wat ek julle nou gaan vertel, tussen ons bly tot die tyd reg is om dit te openbaar.” Die mans neem almal ’n eed van geheimhouding. Toe sê Jojada: “Een van koning Ahasia se seuns lewe nog: klein Joas. Hy het pas sewe geword.”

’n Verbaasde stilte hang oor die vertrek, en dan begin almal gelyk praat. Jojada hou sy hand op, en toe die mans stil is, verduidelik hy hoe sy vrou die seuntjie destyds gered het, en hoe hulle hom al die jare weggesteek en as hul eie grootgemaak het. “Menere, as julle bereid is om ’n oomblik te wag, gaan ek hom gou haal.”

Skaars ’n minuut later kom hy terug met Joas aan die hand. Toe hulle die vertrek inkom, spring die leiers soos een man op en val op hul knieë voor hul koning. “Prys die Here, die God van Israel,” prewel Maäseja.

Atalia kom nooit in die tempel nie, veral nie op die Sabbat nie. Wanneer sy wil aanbid, gaan sy na die Baältempel laer af in die stad. Dis die volgende ding wat moet gebeur: die tempel moet afgebreek word. Daar is baie goud en silwer en brons in die tempel waarmee sy die Baältempel kan laat versier, sodat dit die sieraad kan wees wat dit behoort te wees.

Die tempel van die Here is vir haar ’n steen des aanstoots, maar ter wille van haar man het sy dit altyd maar verdra. Nie omdat Joram so danig vroom was nie, maar omdat die Judeërs so erg oor die plek is. Maar nou is hy dood, en skaars ’n jaar later haar seun Ahasia ook, en dit nogal aan die hand van ’n einste Here-aanbidder. Haar man en haar seun se gevoelens en sentimente is nie meer vir haar ’n oorweging nie. Sý is nou die koningin; daarvoor het sy goed en deeglik gesorg.

Van Ahasia se seuns het sy sommer gou ontslae geraak. Nooit weer sal ’n nakomeling van Dawid op die troon hier in Jerusalem sit nie, dít is seker. Die klein lykies het ’n mooi hopie voor die paleis gemaak toe sy met hulle klaar-gespeel het. Ja-nee, die tempel moet weg, en sommer gou ook.

Sy is nie op hoogte van wat alles daar gebeur nie. Maar die gejuig en gejil en trompetgeskal wat vandag van die tempel af opklink, maak haar nuuskierig. Dit klink alte vrolik. Toe stap sy deur die paleis na die tempel, en steek dan verbysterd vas. Daar, op die plek waar die koning gewoonlik staan, staan ’n jong knaap met ’n kroon op sy kop. Die mense juig, hulle het ’n koning agter haar rug gekroon!

Atalia kyk rond op soek na wagte, maar sien al haar wagte is by die mense en juig net so lustig saam. Sy is alleen. Sy storm op die jong koning af. “Verraad! Verraad!” gil sy en stamp die mense uit die pad. Sy vorder net tot by die binneste sirkel van mense. Daar gryp twee soldate haar arms vas. “Los my!” skreeu sy half histeries. “Ek is jul koningin! Ek beveel julle op die daad om my te los!” Die skare het stil geraak.

Jojada stap vorentoe. Daar is nie ’n sweempie vriendelikheid in sy oë nie. “Jy het hierdie land lank genoeg met jou goddeloosheid besoedel,” sê hy sag, maar sy stem weerklink oor die tempelplein. “Vat haar hier uit!” beveel hy, en voeg by: “Sy mag nie in die tempel doodgemaak word nie. En maak elkeen dood wat haar probeer help.”

’n Mens se kinders ís nes jy, net erger. Daarom moet ons ekstra moeite doen om vir ons kinders die regte waardes en die regte leefstyl voor te lééf. As hulle dan erger sou wees, laat hulle dan liewer nóg vromer wees, nóg gelowiger, nóg meer deernis met ander hê.