Wanneer konflik goed is vir jou

konflik

Daar is min mense wat baklei as dit regtig nodig is. Die meeste probeer die vrede bewaar. Tog kan konflik ook goed wees vir jou.

Konflik is een van daardie dinge waarsonder ons almal voel ons kan klaarkom! Vir die meeste mense is dit so negatief dat hulle dit tot elke prys probeer vermy. Nietemin het selfs die mense wat sê hulle staan nie ’n tree vir ander terug nie, ook maar dieselfde probleem as die res van ons. Hulle is verdedigend, oorsensitief en neem dit wat gesê is, persoonlik op.

Een vrou sal byvoorbeeld as haar man opgewerk en humeurig is, begin rondhardloop om hom tevrede te hou. As sy self omgekrap is, sal sy kamer toe gaan, die deur toemaak en wattestukkies rondgooi.
Klink dit belaglik? Nie belagliker as enige ander manier wat mense gebruik om konflik te vermy nie. Die realiteit is dat enige vorm van konflik ’n invloed op ons het.

Maak vrede met mekaar, al verskil julle

Daar is een groot rede waarom mense soms voel die lewe is sleg, en dit is dat hulle met hulleself én ander mense moet saamleef. Mense is dikwels die moeilikste uitdaging om te hanteer.
Ons hoor gereeld van ’n baie kwaai juffrou wat op die klas skree. Dit sal angs by sensitiewe kinders veroorsaak. Wie ook al oortree het – as die juffrou kliphard op iemand begin gil, sal die kind met die sagte hart dit persoonlik opneem. Dit sal harde werk kos om so iemand te help om afstand te kry en te besef sy is nie die teiken nie.

Maar dit is ook waar dat ons so gemaak is dat ons mekaar nodig het. Natuurlik sal daar konflik wees waar daar mense is, omdat almal van mekaar verskil. Dit wat ons dink, voel en nodig het moet gekoördineer word. Maak vrede daarmee – as jy ’n mens is en as jy ander mense in jou lewe het, sál julle soms koppe stamp.

Stel die probleem teenoor die persoon

Tref altyd onderskeid tussen die probleem en die persoon. Jou man hou dalk nie daarvan as jy besig is om sepies te kyk as hy by die huis kom nie. Miskien sê hy vir jou op sy manier dat hy jou geselskap wil hê. Dis dalk vir hom belangrik om saam met jou koffie te drink as hy tuiskom. Dan is dit mos eintlik ’n kompliment!

Dalk het jou ma jou nog altyd afgekraak. Het jy al geluister hoe jou ouma met jou ma praat? Miskien doen jou ma net wat sy geleer is om te doen. Dit wat sy sê, sê niks van jou nie, dit sê net iets van waar sy vandaan kom.
Probeer verstaan dat jou maat vies is as jy al weer met nuwe skoene by die huis opdaag. Hy baklei nie omdat hy nie meer van jou hou nie, hy is miskien bekommerd omdat julle geld hierdie maand skraps is.

Jy moet weet wat jou regte is

Konflik is nie noodwendig sleg nie, maar hoe jy dit hanteer, kan sleg wees. As jy altyd probeer om verskille te vermy, sal wie jý is, ontken word en dinge sal onopgelos tussen jou en ander mense opbou.

Dit is jou reg dat mense nie op jou skree, jou slegsê of jou lelike dinge noem nie. As jy egter gespanne raak en wil weghardloop as iemand net effens van jou verskil, moet jy anders oor konflik begin dink. Dit is natuurlik ook jou reg om te praat as jy sleg behandel word of dink jou behoeftes word geïgnoreer.

Ons moet probeer om konflik te sien as iets waardeur ons ander mense beter kan leer ken. Om dít reg te kry, moet ons deur hulle oë begin kyk en hulle boodskappe reg lees.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test