Ware liefde ken  geen kwaad nie

82

Die internet is ’n jagveld vir ’n moderne wolf in skaapsklere. Alta Jacobs veg  vasberade om vroue uit die wurggreep van kuberverhoudings te red.

My hart bloei vir die vrou wat voor my sit. Sy lyk verlore in ’n saal vol opgeruimde kerkvroue. Vernederd vermy sy oogkontak. Haar lyftaal is soos ’n skansmuur.

Die felste kritiek het haar reeds gebrandmerk. Daar is ’n kans dat sy wéér veroordeel en verwerp sal word. Tog gryp sy na die laaste halmpie hoop.

Vroue wat seergekry het, het my nog altyd na aan die hart gelê. Na jare in die bediening het ek al talle van hulle teëgekom, maar hierdie een se rou pyn tref my tussen die oë.

Soos ’n sweer wat oopbars, vertel sy selfverwytend van die strik waarin sy getrap het. Van predikantsvroue word daar verwag om ’n morele kompas te wees, nie om die pad byster te raak nie. Het sy maar net geweet dat haar aanlyn flirtasie in ’n nagmerrie sou ontaard. Dat alles net skimme en leuens was.

Ons sit saam in die emosionele tronk waaruit sy nie kan ontsnap nie. Dieper en dieper in ’n donker, bodemlose gat. Woordeloos omhels ons mekaar en huil saam. Susters in pyn.

Dan die vangnet. Sy besef die Here het haar nie weggegooi nie, al het die kerk en mense die rug vir haar gedraai. Ek besef dis tyd om in te gryp.

So ’n storie ruk ’n mens van jou troontjie af…

Ek verstaan die eensaamheid van die pastorie. Mense hardloop met hulle probleme na predikante toe, maar waarheen moet die predikant en sy vrou gaan as hulle lewens verbrokkel?

My hart was stukkend dat die vyand so met iemand se lewe kon mors. Hier, in ons midde. Ek het besef as daar een slagoffer is, moet daar meer wees. En daar was.

’n Mens hoef nie ver te soek om hulle te vind nie. Hulle sit tussen ons in die kerk. Dalk is sy jou buurvrou. Dis vroue van wie jy dit die minste verwag.

Om na liefde te smag is ’n groter hunkering as na kos. Dan begin ’n mens sekuriteit en liefde in die asblikke van die lewe soek. Dalk is liefde net ’n muiskliek ver.

Hoe sou jy hierdie vroue se situasie beskryf?

Vir my is gewonde emosies die wreedste vorm van pyn. Wonde wat heeltyd oopgeruk word, genees nooit heeltemal nie. Dis maklik om weg te steek, maar die letsels is daar.

Vroue wat aanlyn liefde soek, is niks meer as slawe van pyn nie. Hulle is so sielkundig afgetakel, hulle dink nie eers aan die risiko’s nie. Solank dit net die pyn stil.

Soos enige verslawing maak dit ’n mens blind vir die waarheid. Daar is geen ridder op ’n wit perd nie, net gewetenlose mense wat elke sent soek wat jy het.

Een gevangenis word vir ’n ander een verruil. Die pyn word net meer en die wonde net dieper.

Hulle wil loskom, maar die geestelike bande is te sterk.

Jy is al self deur diep waters…

Ons lewe was altyd veilig en beskut. Ons was gemaklik onkundig oor wat buite die vier mure van die kerk aangaan. ’n Mens verkeer onder die wanindruk dat jy gevrywaar is teen pyn.

Alles het in ’n oogwink verander toe ’n geweldige storm om my losbars. Dit wat die kosbaarste was, was aan flarde. Ons bediening. My huwelik. My lewe.

Alles om my was vernietig. Jy staan ontbloot, ’n rou eerlikheid waar jy sê: “Hier is ek. Daar is niks meer waaragter ek kan wegkruip nie.”

My eie gebrokenheid het my laat besef dat geloof Sy hand beweeg – nie jou pyn of jou omstandighede nie. Daar was geen vyeblare meer om my mee te bedek nie. Verskonings om nie betrokke te raak by die gemeenskap nie. Om nie ander se nood raak te sien nie.

Het dit jou vir ’n nuwe tydperk voorberei?

Soms is pyn ’n noodsaaklike leerskool. ’n Mens moet eers self ’n paar klippe kou voor jy ander se hartseer verstaan. As ek nou terugdink, besef ek hoe hard en veroordelend ek was.

Alles was eenvoudig. Waarom moes mense soveel issues hê? Kon die boemelaar of die prostituut op die straathoek hulleself nie net regruk nie? Mens vergeet dat Hy al Sy kinders ewe lief het.

My eie seerkry het my wakker geruk. Ek moes my afvra: Alta, wat maak jou beter as ander mense? Hoe kan jy oordeel? Jy is nie spesiaal nie. Daardie besef het die speelveld gelyk gemaak.

Wat was jou eerste reddingsboei aan slagoffers?

In my oomblik van weerloosheid het Hy my uit die modder opgetel en gesê: “Ek het ’n plan met jou lewe.” Vir my was dit belangrik dat vroue moet weet daar is hoop, dit maak nie saak hoe ver jy geval het nie.

Ek wou mense op ’n persoonlike vlak raak, daarom was my eerste stap om ’n boek te skryf. The Last Word vertel van ’n predikantsvrou se seerkry, maar ook van haar pad na genesing. Haar verhaal is aangrypend. Rou en eerlik.

Almal wat dieselfde pad geloop het, sê dit voel of ek hulle storie vertel. Dit help hulle om na vore te kom. Om nie langer skaam te wees of soos slagoffers te voel nie.

Dis maklik om ’n slagoffermentaliteit te hê…

Mense oordeel. Hulle woorde maak seer. Dis maklik om in ’n kokon weg te kruip as jy deur diep waters gaan. Baie vroue word kluisenaars en wil nie hulle gesigte in die openbaar wys nie. Hulle dink daar is nie meer hoop nie.

As ’n mens aan jou pyn vasklou, druk dit jou dood. Dis soos onkruid wat plante verdring. Jy is verlam. Ek herinner vroue daaraan dat Sy opinie alle ander opinies kanselleer. Hy het my nie afgeskryf nie, so, hoekom sal Hy hulle afskryf?

My berading het ’n duidelike boodskap: Daar is geen plek vir ’n slagoffermentaliteit nie. Jy hoef nie stukkend te bly nie. As jy val, moenie bly lê nie. Kruip, rol, bly beweeg tot jy weer kan opstaan.

Is daar hoop op volkome genesing?

Natuurlik! Ongelukkig is daar geen toweroplossing nie. Mense is dikwels kwaad vir die Here. Hoekom kon Hy hulle nie beskerm het nie? Ons vergeet dat dit ons eie slegte besluite was.

Maak vrede, in jou en om jou. En vergewe! Vir my is liefde se aard vergifnis. Dis ’n geskenk wat ’n mens sonder voorwaardes gee.

Soms is die moeilikste om te aanvaar dat die Here jou vergewe het. Wanneer jy dit egter besef, kan die ware genesing begin.

Dit beteken nie noodwendig dat alles weer gaan wees soos vroeër nie, maar as God genees, maak Hy alles beter. Dis dalk anders, maar dis beter.

Beskryf jou daaglikse geloofsbenadering

Dis prakties en demonstratief. ’n Mens moet jou gees oefen om die Woord op te neem. My profetiese aksie is: “Klim op jou stoel en verklaar die Here se Naam hardop.” Dan klim ek letterlik op ’n stoel. Dit help om die groter prentjie te sien. Jy klim oor jou foute en gaan nie net lê nie.

Ek verklaar elke oggend Sy Woord oor my. My huis is vol papiertjies met Bybelverse op. En ek bid! Dis die dinamiet wat elke vesting van die duiwel vernietig. Wanneer seerkry-vroue hierdie konsep verstaan, is dit soos ’n lig wat aangaan.

Voel jy soms oorweldig deur die nood daar buite?

Almal het slegte tye, maar ek weier dat vrees my verlam. Op die dae dat ek down and out is, gaan staan ek voor die spieël en sê: “Alta, jy sal die Here dien. Jy sal juig en jubel.”

Hy het ’n manier om konneksies te maak, ongeag hoe kompleks die web van leuens, verraad en verlies is. Ja, die oorlog is nog aan die gang, maar die uitslag is reeds bepaal. Daarom veg ek altyd uit die standpunt van ’n oorwinnaar.

In my onvolmaaktheid voer ek Sy volmaakte plan uit. Soms kom fluister ’n vrou vertroulik in my oor: “Jou boek het my lewe verander.” Of ek kry ’n e‑pos of WhatsApp waarin vroue hulle stories vertel. Elke vrou wat gered word, is ’n mylpaal. Dis een stap nader aan oorwinning. God the master has the last word.