10 Finansiële bekommernisse wat baie Suid-Afrikaners Raak

Ek het 21 finansiële praatjies gedoen gedurende Julie en Augustus 2018 en so ongeveer 1,500 mense bereik.

Sommige praatjies was as gevolg van my Mandela-dag projek en ander by vrouedag-geleenthede. Die groepe het gewissel van klein groepies van omtrent 8 mense tot ‘n groot groep van 600 vroue by ‘n konferensie op Vrouedag. Sommige groepe was oorheersend vroue ander oorheersend mans. Ek het gepraat by groot kettingwinkels, koffiewinkels, korporatiewe maatskappye, professionele firmas, eiendomsagentskappe, kolleges, netwerkgroepe, staatsorganisasies, besigheidseienaars en vrouegroepe. Ouderdomme het gewissel van studente in hulle laaste jaar van studies tot by ‘n groep afgetredenes.

Om met al hierdie verskillende mense te praat en na hulle stories en vrae te luister, het my weereens laat besef daar loop ‘n goue draad deur dit alles. Baie Suid-Afrikaners word deur dieselfde finansiële bekommernisse geraak ongeag ouderdom, geslag, ras, sosiale status of beroep. Hierdie is ‘n lys van die 10 finansiële bekommernisse wat baie Suid-Afrikaners raak:

  • Skuld is steeds die grootste bekommernis vir meeste Suid-Afrikaners.
  • Om te probeer oorleef van maandeinde tot maandeinde is ‘n realiteit vir baie mense.
  • Die wete dat hulle nie voldoende aftreefondse het nie maak baie mense bang.
  • ‘n Gebrek aan finansiële kennis weerhou talle mense daarvan om goeie finansiële besluite te neem en sodoende welvaart te skep.
  • Baie mense dui aan dat hulle wil spaar en belê maar hulle weet nie waar en hoe om te begin en watse beleggingsopsies is beskikbaar nie.
  • Min mense het finansiële doelwitte wat hulle nastreef en ‘n plan om daarby uit te kom.
  • Mense maak nie voorsiening vir onbeplande gebeurtenisse nie en met die toename in afleggings raak dit ‘n groter probleem.
  • Die gaping tussen inkomste en uitgawes word kleiner weens die skerp styging in lewenskoste.
  • ‘n Sukkelende ekonomie, toename in egskeidingsyfers, hoë misdaadsyfers en skerp toename in kritiese siektes het ‘n geweldige impak op diegene wat afhanklik is van ‘n werkgewer, eggenoot of ouer vir ‘n inkomste.
  • Baie mense erken dat hulle finansieel swaarkry maar weet nie waar om hulp te kry nie.

Gedurende die volgende 10 weke gaan ek hierdie 10 finansiële bekommernisse in meer detail bespreek. Volg my Finesse voelgoed blogs en teken gratis in op my YouTube kanaal vir nog waardevolle finansiële raad:

https://www.youtube.com/channel/UCNxhoBjk_oaiB1td0u0A8ow

 

Vorige artikelBesluite, besluite, besluite
Volgende artikel‘n Brug is nie vir bly nie
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.