10 foute wat jy met jou slimfoon maak

0
101
slimfoon.jpg

Sonder jou selfoon sal jy kwalik jou werk gedoen kry, en dis die eerste ding waarna jy gryp as daar ’n krisis opduik. Tog doen jy soms simpel dinge daarmee…

Natuurlik is daar baie meer as net 10 dom dinge wat jy met jou slimfoon kan doen, maar die paar wat ons hier bespreek, is die algemeenste en die gevaarlikste. Moenie in die strik trap nie.

1. Jy sit nie ’n wagwoord op jou foon nie

Statistiek bewys dat 62 persent van slimfoongebruikers nie ’n wagwoord op hulle slimfone plaas nie. Dit is ten spyte van die feit dat slimfoongebruikers 33 persent meer waarskynlik slagoffers van identiteitsdiefstal sal word. Dink net aan al die belangrike inligting wat jy op jou foon stoor wat maklik bekom sal kan word as dit gesteel word.

2. Jy het nie ’n antivirusprogram nie

Jou slimfoon word net soveel aan virusse en ander skadelike programme blootgestel as jou rekenaar. In baie gevalle is dit selfs meer. Jy stoor ook belangrike inligting op jou foon. Tog is 34 persent van slimfone sonder ’n antivirusprogram. Hierdie sagteware beskerm nie net jou foon teen virusse nie, maar kan ook verhoed dat iemand jou foon hack en jou inligting bekom.

3. Jy maak nie backups van jou inligting nie

Hoeveel keer sien jy op Facebook mense wat weer op soek is na nommers omdat hulle al hulle kontakte verloor het? As daar iets met jou slimfoon gebeur, is dit nie net al jou kontakte wat verlore gaan nie, dit is ook al jou boodskappe, foto’s en ander belangrike inligting. Nogtans maak 49 persent van alle slimfoongebruikers geen rugsteunkopieë van hulle informasie op ander toestelle nie, hoewel 80 persent van gebruikers bang is om dit verloor.

4. Jy het ’n outomatiese intekening op bankdienste

Internetbankdienste is ’n moderne wonder en is supermaklik met jou slimfoon wat internet- en epostoegang bied. En ja, dis baie gerieflik as jou foon selfs jou gebruikersnaam en wagwoord onthou wanneer jy van bankdienste gebruik maak, maar dis baie onverantwoordelik. Dit is so goed soos om jou PIN-nommer op jou bankkaart neer te skryf. Moenie vir diewe vrye toegang tot jou bankrekening gee nie!

5. Jy glo dat jy R100 000 gewen het

Almal het al ten minste een epos of SMS ontvang wat jou inlig dat jy baie geld gewen het. Daar word daagliks meer as 156 miljoen sulke bedrieglike eposse gestuur. Jy gaan nie ’n kompetisie wen waarvoor jy nie ingeskryf het nie. ’n Regte onderneming sal nie vir jou enige persoonlike besonderhede vra nie, veral nie jou identiteitsnommer of enige wagwoorde nie. Moet ook nie op enige skakels in die epos of SMS klik nie, want dit kan tot virusse lei.

6. Jy skiet video’s in portrait mode

As jy ’n video vertikaal in plaas van horisontaal skiet, gaan die bokant van die video lyk of dit afgesny is as jy later daarna kyk. Draai jou foon op sy kant vir die beste resultate, met ander woorde in landscape mode.

7. Jy los die laaier in die muurprop

Die een probleem met ’n slimfoon is dat die battery nie lank hou nie. Jy wil dus net kan inhardloop as jy by die huis kom en dit inprop voor jou transaksie afsny. Maar om jou laaier in die muurprop te los, mors baie krag. Trek dit uit en sit die prop af.

8. Jy probeer ’n argument met boodskappe oplos

Die mensdom het êrens besluit dis ’n goeie idee om hulle woede met elektroniese boodskappe oor te dra. Boodskappe is baie gerieflik én goedkoop in die geval van Whatsapp en BBM, en soms is dit makliker om iemand nie in die oë te kyk as julle baklei nie. Maar daar is twee baie belangrike faktore wat jy misloop – konteks en stemtoon. Nee, emoticons is nie stemtoon nie! Hierdie strategie kan net tot misverstand lei.

9. Jy probeer ’n gesprek in die hysbak voer

Dit pla nie net ander mense nie, maar jou opvangs gaan beslis belemmer word in daardie staalkassie.

10. Jy laat val die duur apparaat in die toilet

’n Slimfoon is duisende rande werd; tog beland 1 uit 5 in die toilet. Om te probeer multitask in die badkamer is nie ’n goeie idee nie. Jou foon kan ook baie maklik uit jou sak val as jy opstaan. Moenie vergeet hoe sensitief jou foon is nie. Selfs om hom net op ’n nat oppervlak neer te sit kan skade aanrig.

Die foon in jou handsak bevat uiters belangrike inligting. Sorg dus dat jy hom baie goed oppas.

Lees meer: 12 apps om jou lewe te vergemaklik