10 stappe vir streslose oggende

0
262
terug_skool_toe.png

Die kinders gaan weer terug skool toe en die malle gejaag begin … Dit hoef nie so te wees nie! Hier is ons 10 idees om almal makliker en gouer reg te kry vir die dag.

1. Goeie voorbereiding is die sleutel tot oggend sukses

Wat moet alles tydens jou oggend roetine gebeur? Maak ’n doen-lysie vir elke dag, ten minste totdat jy daaraan gewoond is. Gesels met jou kinders oor hulle oggendroetine. Jong kinders sal dit geniet om prentjies te teken van wat hulle elke oggend moet doen, terwyl tieners sal voordeel trek uit ’n “verantwoordelikheid kaart” om hulle deur die oggend te help. Maak vir elkeen ’n spesifieke spasie waar rugsakke en handsakke die vorige aand uitgepak word, en waar alles wat weer in die sakke moet gaan die volgende oggend gekry kan word. Amper soos ’n inbox en outbox.

2. Spandeer tyd om môre te beplan

Gaan jou skedule vir die volgende dag deeglik na voor jy gaan slaap. Kyk ook na die weervoorspelling. Jy sal beter slaap – en aantrek – as jy weet wat vir jou voorlê. Maak ook seker alles is gereël wat vervoer betref. As jy op iemand anders staatmaak om jou kinders by skool of naskoolse aktiwiteite te kry, bevestig met hulle ten minste die aand voor die tyd. So verhoed jy ’n geskarrel op die laaste oomblik.

3. Oggende is nie die tyd vir “my-tyd” nie

Ons verstaan hoe rustig dit is wanneer jy kan sit en ontspan met ’n koppie koffie vroegoggend terwyl die hele huis nog stil is. Dit is egter baie beter vir ’n werkende vrou om te stort en aan te trek voor sy enigiets verder doen. Mammas, as jy die oomblik laat verby gaan om jouself te versorg, gaan jy later beslis nie tyd hê vir jou grimering wanneer die kinders eers in mekaar se hare is nie.

4. Laat ’n vinnige ontbyt tel

Sit die breekware reg vir ontbyt en koffie. Pak die vorige aand alles uit wat nodig is om ontbyt seepglad te laat verloop. Beplan ’n paar verskillende spyskaarte vir die week, en maak seker jy sluit iets in wat in die loop geëet kan word. As jy hou van ’n vrugte smoothie in die oggend, sit solank al die bestanddele in die versapper die vorige aand, en bêre dit in die yskas.

5. ’n Slimmer (en kouer) stort

’n Romerige stortseep is ’n 2-in-1 vir jou oggend roetine. Dit sal nie nodig wees om na die tyd room aan te smeer nie, en jy spaar ’n paar minute. Draai ook vinnig die koue kraan oop wanneer jy klaar gestort het. Buiten dat dit verfrissend is, het navorsing bewys dat koue water ’n mens se bloedsirkulasie verbeter en jou nuwe krag gee.

[pagebreak]

6. Perfekte hare in ’n japtrap

Hare wat ’n mediumlengte is, tussen jou ken en skouers, is kort genoeg om vinnig te stileer maar ook lank genoeg om maklik vas te steek as dit moet. Dit steel ook baie van jou tyd as jy probeer om jou hare se natuurlike tekstuur te beveg, so probeer om ’n styl te kies wat daarmee saamwerk en nie daarteen nie. As jou hare vuil lyk, spuit haarsproei op die wortels. Die alkohol absorbeer enige oortollige olie.

7. Vinnige grimering as die tyd min raak

Hou jou grimeertassie netjies georganiseerd en minimaal. Maak seker jou daaglikse gebruik grimering is byderhand. Dit help om twee verskillende grimeer roetines te hê – die normale roetine en dan die “vinnige” een vir dae wat die tyd druk.

8. Jy is nie jou kinders se bediende nie

As jy jouself gedurig betrap dat jy alles vir jou gesin doen in die oggend, is dit geen wonder as jy holderstebolder by die deur uithardloop nie. Dit is oukei om ander lede van jou gesin toe te laat om kosblikke te pak, of beddens op te maak. Dit is veral ’n goeie idee om vir jou kinders ’n lysie op te stel van die takies wat elkeen in die oggend moet verrig. Wees streng en hou daarby. Daar mag geen televisie gekyk word voor die oggendwerkies klaar is nie.

9. Geen nuus is goeie nuus

Dit mag dalk ’n goeie idee wees om die oggendnuus te vermy. Negatiewe nuus kan jou aandag aftrek en jou verhoed om jou oggendroetine doelgerig af te handel. Wie kan nou buitendien ’n dag positief benader met nuus van die een slegte ding op die ander?

10. Bly gefokus op die einddoel … wees betyds

Oggende is nie die tyd om werksaam te wees nie. As jy skielik oorval word deur die behoefte om ’n paar stukkies skottelgoed te was, jou eposse na te gaan of die hopie pos uit te sorteer … weerstaan dit! Wanneer jy die oggendroetine mooi agter mekaar het en elkeen is betyds by die deur uit, kan jy ook begin werk aan die na-skool, na-werk en na-kinderslaaptyd roetines. Bron:

www.oprah.com

DEEL
Vorige artikeln Wonderwerk
Volgende artikelorden jou binnewêreld
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.