10 syfers om uit te styg by die werk

0
255
werk.png

Wil jy graag hierdie jaar die vordering in jou beroep sien wat jy al so lank voor wag? Hier is 10 maniere om te groei by die werk.

1 goeie idee of meer per dag

Die gemiddelde persoon kan van een tot tien idees per minuut skep. As jy die regte tegnieke gebruik, kan jy egter meer as 100 idees per minuut genereer! Die belangrike ding is om elke dag een oorspronklike gedagte te hê. Dit hoef nie die eerste van sy soort in die wêreld te wees nie, net uniek aan jou.

Oefen jou kreatiwiteit! Kyk verby die alledaagse. Vergeet wat jy weet. Waak teen antwoorde wat voor die hand liggend is. Skep eerder iets nuuts as om te kopieer. Moenie konformeer nie, verbeter. Waak daarteen om fout te vind net omdat ander dit doen.

2 uur om jou houding te verander

Is jou denke aangetas deur jou vooropgestelde idees? Wees eerlik met jouself en probeer jou houding verander. Dink aan iemand van wie jy nie hou nie. Moenie die naam neerskryf nie, maar skryf die rede neer waarom jy nie van die persoon hou nie.

Kyk nou met nuwe oë na die situasie en maak ’n lys van die persoon se goeie eienskappe. Probeer om meer positiewe eienskappe neer te skryf as die negatiewes waaraan jy aanvanklik gedink het.

3 minute om die suurknol te hanteer

Hoekom probeer jy negatiewe mense nie vir ’n verandering beïnvloed om te verander nie? Steek hulle met blydskap aan! Lewer ’n positiewe reaksie op negatiewe gebeure. Wanneer hulle hulle oorgee aan hulle negatiewe uitkyk op ’n situasie, wys vir hulle die positiewe sy. Sê op ’n sensitiewe maar eerlike manier hoe jy hulle houding ervaar. Partykeer is mense nie bewus van die indruk wat hulle skep nie.

Dis gaaf om mense van hulle eie ingesteldheid te probeer red, maar as iemand jou blydskap demp in plaas van om met blydskap aangesteek te word, moet jy eerder hulle toksiese geselskap vermy.

4 sekondes om vrolikheid oor te dra

Jou gesig verraai jou gedagtes. Moenie dat dit jou vyand word by die werk nie! Of jy met iemand saamstem of nie, moenie frons nie – dit laat hulle verdedigingsmeganisme inskop.

Glimlag wanneer jy die telefoon beantwoord. ’n Glimlag is hoorbaar in jou stem en skep die indruk dat jy gelukkig is by die werk. Kliënte sal ’n positiewe indruk van jou kry, wat goed is vir jou, die maatskappy én jou loopbaan. Mense is minder geneig om ongeskik teenoor iemand te wees wat op ’n positiewe manier op hulle oproep reageer. Dit dra by tot ’n aangename werksomgewing.

5 wenke vir dinkskrums wat produktief is

Die belangrikste is om nooit iemand se idees te kritiseer nie. Hy sal hom aan die gesprek onttrek, en ander sal versigtig wees om hulle idees te deel. Moenie idees bespreek nie, want dit trek die fokus daarvan af om soveel idees moontlik te genereer.

Laat wilde, ongewone en buite-die-boks-idees toe. Lag daaroor, maar moet dit nie afskryf nie. Dit is dikwels snellers vir baanbreker-idees. Wys ’n leier aan wat sal toesien dat daar by die reëls en tyd gehou word. Wys ook iemand aan om al die idees neer te skryf en gebruik ’n blaaibord sodat almal die idees kan sien.

[pagebreak]

6 minute om klaar te speel met stres

Ontspan. Begin by jou tone en werk opwaarts of by jou kop en werk afwaarts. Trek elke spier in jou liggaam styf en ontspan dit dan, byvoorbeeld voete, kuite, bobeen, boude, maag, bors, skouers, arms, hande, nek, gesig en kop.

Haal asem. Plaas een hand op jou bors en een op jou maag. Soos jy deur jou neus inasem, laat jou maag toe om op te swel. Blaas die lug stadig en egalig deur jou neus uit. Herhaal en ontwikkel ’n ritme. Probeer om 8-12 asemteue (om in en uit te asem tel as een teug) per minuut te vat. Lag lekker, sommer vir niks!

7 sekondes om met jou sintuie te dink

Elke oomblik van jou lewe bestaan uit sintuiglike aktiwiteite. Jy ruik iets, hoor iets, proe iets … en dadelik kom die herinneringe wat daarmee verbind word terug. Vir duidelike, akkurate herinneringe het jy die volgende nodig:

Duidelike inligting: As jy iets nie duidelik kan sien of hoor nie, sal jou herinnering aan daardie voorval vaag wees. Belangstelling: As jy nie regtig belangstel in die inligting wat jy ontvang nie, is jy minder geneig om dit later te onthou. ’n Kalm gemoedstoestand: As jy iets wil onthou, herhaal die inligting vir jouself vier tot vyf keer binne die eerste 24 uur.

8 keer se lag op ’n dag

Voel jy ’n bietjie terneergedruk? Lag! Dis dalk die laaste ding wat jy lus het om te doen, maar jou brein nie kan onderskei tussen ’n aangeplakte glimlag en die ware Jakob nie. Jou brein interpreteer dit as ’n regte giggel en stel hormone vry wat jou beter laat voel.

Sonder sekere tye spesifiek vir lag uit. Sit jy in die verkeer vas en is laat vir ’n vergadering? Bars uit van die lag elke keer as jy op jou horlosie kyk! So sal jy van jou stres ontslae raak. Kry ten minste drie mense in jou kantoor om vandag te glimlag.

9 dae om mense te maak luister

Praat sagter en kyk wat gebeur! Wissel jou tempo af. Mense wat stadig praat, word as intelligent beskou. Verander jou fisiese posisie. Mense is geneig om ’n argument anders te beskou as hulle hul fisiese hoek verander. Verskuif van posisie om jou aandag te herfokus.

Maak eers jou punt en gee dan die redes. So sal selfs diegene met ’n kort aandagspan jou punt hoor. Moenie begin deur beswaar te maak nie. Dit veroorsaak dat die ander persoon ’n verdedigende houding inneem. Gee in jou openingsin erkenning aan ander se menings. Dit skep ’n positiewe houding en neutraliseer die verdedigingsmeganisme.

10 tellings om jou emosies te beheer

Moenie jou emosies toelaat om jou positiewe denke te kaap nie! Begin dink waaroor jy dink. Ons het nie beheer oor wat ander sê en doen nie, maar ons kan beheer hoe ons reageer. Daar is altyd ’n breukdeel van ’n sekonde waarin jy kan kies hoe jy op ’n negatiewe situasie wil reageer.

Gebruik dit om ’n doelgerigte besluit te neem; moenie net instinktief reageer nie. Die ou raad om tot tien te tel voordat jy reageer, is baie wys. Dink na oor jou reaksie. Sal jy steeds beskou word as ’n positiewe denker wat bo die massa uitstyg as jy die deur toeslaan of begin skel?