10 Ysterman SA’s met my kop gedoen

0
13
Carl Kritzinger

Dokters het gesê Carl Kritzinger sal nooit weer kan hardloop nie, maar hy het hulle verkeerd bewys deur aan 10 Ysterman SA kompetisies deel te neem.

Dokters het gesê Carl Kritzinger sal nooit weer kan hardloop nie, maar hy het hulle verkeerd bewys deur aan 10 Ysterman SA kompetisies deel te neem.

’n Keerpunt het ’n klank. Die oomblik wat my lewe onherroeplik verander het, het geklink soos ’n tak wat breek. Dit was my been. Die punte van my linkerkuitbeen en ­­‑skeenbeen het afgryslik deur my broekspyp gesteek en my hakskeen het vreemd na my toe gewys. Ikabod. Ek het geweet my groot liefde vir sport was geknak. Ek sou nie weer kon hardloop nie.

My kamerade het my been uit nood tussen twee stukke hardebord gespalk en met my na die militêre hospitaal gehaas. Ons was in die weermag en besig om te oefen om agter van ’n groot militêre voertuig af te spring en te rol. Met die springslag het my voet gegly en ek het verkeerd geland.

Omdat albei pype van my linkerbeen sleg gebreek het, kon dit nie met gewone gips of ’n plaat geheg word nie. Destyds se nuwe mediese tegnologie, waarmee die twee pype aanmekaar gehou word met pype en skroewe wat buitekant jou been sit, is probeer. Dit was letterlik maande voordat die apparaat kon afkom en ek normale gips kon kry. Ek is terug weermag toe. Kort voordat die gips ook sou afkom, het ’n troep ’n swaar buiteband teen my been laat val en daar’s hy wéér af! Toe kry ek ’n plaat met ’n klomp skroewe. Die skade aan my been was onherstelbaar.

Die plaat is later verwyder, maar ek het geen gevoel in my been gehad nie en my voet was erg geswel – so erg dat ek twee verskillende groottes skoene moes dra. My een been was ook nou korter as die ander een. Waar my groot liefde vir hardloop was, het nou ’n tamaai gat gesit. Dis amper asof ’n stuk van jou doodgaan, asof ’n boesemvriend sterf. Sport was my uitlaatklep, my tydverdryf, dis deel van wie ek is. Ek was nou ’n mindere mens en dit het my tot op die rand van depressie gedryf. Na sewe jaar sonder oefening, het ek uit absolute nood besluit om ten spyte van die pyn tog weer ’n bietjie te begin draf. Die snaaksste ding het gebeur. Namate ek geoefen het, het die gevoel in my been begin terugkeer en die swelsel het gesak.

Eendag ongeveer tien jaar gelede kuier ek by ’n boesemvriend, Dawie. Hy het pas ’n Ysterman-kompetisie agter die rug gehad en was ingeskryf vir die volgende een. Die kompetisie behels ’n ent swem in die see, 180 km se fietsry en ’n maraton – en jy het 17 uur om dit klaar te maak. Dis iets wat letterlik net ’n yster sal aanpak! Hy sê toe so terloops iets wat jy nooit vir Carl Kritzinger moet sê nie – hy dare my dat ek nooit ’n Ysterman sal kan doen nie! Die koeël was deur die kerk. Ek het net daar ingeskryf en vir my ’n fiets gaan koop. Nou moet jy weet, ek was onfiks, oorgewig en het gerook en gedrink – ’n ramp vir enige sportman. Daarby moet ’n mens ten minste nege maande straf oefen voor ’n Ysterman. Ek het net die helfte van die tyd gehad. Daar het ek ’n glimp begin sien van waartoe ’n mens werklik in staat is as jy jou kop daarop sit.

Ek het my eerste Ysterman voltooi lank voor die tyd om was. Die volgende jaar het ek my tweede Ysterman gedoen. En toe raak dinge deurmekaar. Jy sien, enige wedloop in die lewe, fisies of psigies, is ’n kop-ding. Wat jy dink, dit ís jy. Wat jy besluit, is wat jy word. Ek was in ’n baie stresvolle pos wat my sielsongelukkig gemaak het. My leefstyl het agteruitgegaan. Depressie het die oorhand begin kry en ek het weer begin drink en gewig aansit. Dit was so erg dat ek op die ouderdom van 33 ’n beroerte gekry het. Die ding is, as jy nie diepgewortel is in God en definitiewe rigting het nie, bly dinge verkeerd loop. Ek het soos ’n absolute mislukking gevoel, veral voor my vrou en my vriende. Stel jou dit voor: Ek het opgestaan uit die put van ellende, die onmoontlike reggekry, net om weer terug te val. En hierdie keer was dit erg. Baie erg.

In die middel van daardie stryd het ek een nag wakker gelê. Verlore. Alleen. En moeg. Moeg. Ek het gedink aan my tawwe kinderjare, my pa wat verongeluk het toe ek op laerskool was en die jare van sukkel saam met my ma, boetie en sussie daarna. Ek het my been weer hoor breek, die depressie gevolg deur al die ander duiwels weer gevoel. Die moeilike werksomstandighede en sinnelose struwelings met my vrou het deur my kop gejaag. Maar ek het myself ook drie keer deur die Ironman-kerf sien breek… myself beroerte sien oorleef. Wonderbaarlik. Waarlik, niks is onmoontlik nie. Niks. ’n Oorweldigende besef van God se genade het oor my gekom en ek het geweet – ek is Syne. Ten spyte van alles. Terugslae, depressie, verslawing het geen mag oor my nie, want al sou alles wegval, Sy liefde vir my sal bly staan. Sonder einde. Ek het voor Hom gebreek en gesê: “Vat net alles!”

’n Keerpunt het ’n kleur. Die oomblik toe my lewe vir goed verander het, was wit. En lig. En beslis. Ek het die volgende oggend opgestaan – en waarlik opgestaan. In Hom. Hy het baie eenvoudig en informeel die vorige nag net gekom en alles weggevat. Net so. Ek het daardie nag ook ’n ooreenkoms met Hom gemaak. Ek het gesê ek is bereid om klippe te kou, maar dan moet dit nie verniet wees nie; dan moet dit wees sodat iemand anders daardeur gehelp kan word. Dit was presies ’n maand voor die volgende Ysterman en ek het besluit om deel te neem. Die inskrywings het reeds gesluit, maar ek het die een brief na die ander aan die organiseerders geskryf en my storie vertel, totdat die direkteur self vir my die boodskap gegee het: As ek daarvoor kans sien, doen dit dan! En ek het. Weens my laat inskrywing, het my fiets daar tussen die bejaarde omies beland, maar ek het die wedren daardie dag voltooi.

Dit was ’n verskriklike dag. Die weer was baie sleg. Ek het aan my ooreenkoms met die Here gedink en vir myself gesê: Hierdie moeilike dag sal nie verniet wees nie. Een van die Ironman-reëls is dat jy geen kontak met enige deelnemer mag hê nie. Spanwerk word nie toegelaat nie. Ironman doen jy alleen en op jou eie. Tydens die fietsry het ek en ’n ou suutjies gesels. Hy was ’n Amerikaner wat in KwaZulu-Natal gewoon het. By die halfpadmerk van die maraton kry ek ’n man wat kop onderstebo aansukkel. “So gaan jy dit nie maak nie, my ou,” het ek vir hom gesê en toe besef dis dieselfde Amerikaner met wie ek vroeër gesels het. Ek kon hom nie net los nie. “Boet, jy gaan moet doen wat ek vir jou sê, al voel jy later lus om my te lyf te gaan.” Met raad en moed inpraat het ek die man tot by die eindstreep gehelp. Hy het gehuil en my omhels. Ons het vandag nog kontak. Wat egter vir my so wonderlik omtrent die hele voorval was, is dit: Hy het vir my ’n foto ge-epos wat sy vrou geneem het terwyl hy in die water was met die swemafdeling. Langs hom op die foto was niemand anders nie as ek! Wat is die kans! Ons het mekaar toe nog nie eens ontmoet nie! Dit was vir my die bevestiging dat my ooreenkoms met die Here staan.

Ek het vanjaar my tiende Ysterman SA saam met Dawie gedoen. Nou is ek vir eers klaar. Ek wil nog een Ysterman doen as ek 50 is. My been bly maar ’n probleem. Beweging in my enkel is beperk en alhoewel ek kan hardloop, is daar altyd ’n mate van pyn en ongemak. Omdat die een been ook effens langer as die ander een is, sorg ek gewoonlik dat ek aan die kant van die pad draf waar dit effens skuins is om daarvoor te kompenseer. Kyk, die gedeelte waar die Bybel praat van die wedloop wat ons moet voltooi, verstaan ek letterlik! Ek weet presies wat daardie wedloop verg en wat volharding beteken.

In die geestesfeer werk dit net so. Ons is besig met ’n lang wedloop vol afdraaipaaie en aanvalle. Alles begin by jou kop en eindig daar. Dis maklik om jou verlede of omstandighede of selfs die regering as ’n verskoning te gebruik vir wat jy doen of nie doen nie, maar op die ou end lê die besluit wat van jou gaan word by jou! Jy besluit hoe eksterne faktore jou gaan beïnvloed. Jou grootste vyand is dikwels jyself. Ons moet ons gedagtes voortdurend gevange neem en herprogrammeer, want aan die einde wag ’n groot prys.

Wanneer ek aan my tien Ironmans dink, weet ek dis ’n wonderwerk. Ek moet my medaljes eintlik alles vir die Here gee. ’n Mens is trots op wat jy regkry, maar as ek omdraai, sien ek net een ry voetspore. Hy het my tot hier gedra. Met Ysterman, as jy aan die einde op die rooi tapyt aankom, kondig hulle aan: “This is Carl Kritzinger from Durbanville. Carl, you are an Ironman!” Só wil ek eendag hoor: “Dit is Carl Kritzinger. Wel gedaan, getroue dienaar. Jy hét die ewige lewe!”

 

DEEL
Vorige artikelGroeipyne e-boek
Volgende artikelKry 24/7 energie!
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.