10km…saam

06:20. Ek en 385 atlete staan aangetree vir die 10km wedloop.

Die senuwees knaag effens want dit is my eerste wedloop oor 10km. Al menige Parkruns oor 5km gedoen, maar nog nie ‘n 10km gehardloop nie.

06:30 en die skoot klap. Oor die eerste 5km hou ek by die pas waarop ek vooraf besluit het. By die halfpadmerk haal ek die persoon wat geruime tyd so 10 meter voor my was, in. Ons is sy-aan-sy. So tussen die probeer om by ‘n ritmiese asemhalingspatroon te hou, begin ons ‘n kort geselsie aanknoop. Ek noem vlugtig dat dit my eerste 10km is. Die persoon deel my mee dat hy al menige 10km wedlope gedoen het, selfs wedlope oor 21km. Hy gee my die versekering dat as ek die wedloop in minder as 60 minute wil voltooi, ek net by hom moet hou.

En so hardloop ons die volgende 5km saam, al swetende en meer en meer uitasem, tot by die eindstreep – in minder as 60 minute. Danksy hom kon ek binne my beoogde tyd klaarmaak.

Nog so ‘n paar wedlope oor 10km en dan een oor 21km aanpak, dink ek.

1 Timotheus 4:7 noem dat ons moet oefen om godsdienstig te lewe. Ons word nie vandag gered en môre is ons die sterktste Christen wat nie weer val nie. Die lewenswedloop vereis eerstens dat ons in die wedloop moet bly en tweedens dat ons oefen en sterker word soos wat die wedloop vorder. Ek moet sterk by die eindstreep kan opdaag – welgedaan goeie en getroue dienaar.

Soms het die wedloop lekker gelyk oppervlaktes waartydens ek vrylik kan asemhaal en spoed vang. Dan weer soms ‘n stewige opdraende wat al jou energie tap. Jy voel dalk moeg en weet nie of jy die wedloop gaan voltooi nie.

Alhoewel elkeen sy eie lewenswedloop het om te hardloop, hardloop ons tog saam. Langs ons in die wedloop kry ons sterk hardlopers. Mense na wie ons geestelik kan opkyk. Ons het nodig om saam met hulle te hardloop want hulle gaan ons raad gee en aanmoedig sodat ons sterker en vinniger kan raak. Hulle wil ons help sodat ons dit kan bereik waarin ons nog twyfel. Hulle moet ons teen die opdraendes uit help.

So het Jesus se dissipels vir ongeveer 3 jaar saam met Hom “gehardloop”. Gesien hoe Hy dinge doen. Geleer om Koningkryk beginsels toe te pas, om geloof te hê soos ‘n mosterdsaadjie, geleer van vergewe, van liefde oor kultuurgrense, van nederigheid, van dien en van hoop en soveel meer.

Soos wat die dissipels sterker geword het, het hulle weer ander gehelp om net soos hulle te kon “hardloop”. Paulus sê in Romeine 1:12 dat as ons bymekaar kom, ons mekaar moet bemoedig, ons deur ander en ander deur ons.

Ons het dus nodig om in ‘n kerk geplant en Bybelstudie groepe of geestelike ondersteuningsgroepe by te woon waar ons versterk kan word vir die wedloop, maar ook waar ons in aanraking kan kom met ander wat nog nie so sterk hardloop nie. Ons het mekaar nodig.