12 apps om jou lewe te vergemaklik

0
483
apps.jpg

Is jou slimfoon die slimste wat dit kan wees? Met hierdie toepassings kan jy jou lewe vergemaklik. Waarvoor wag jy?

1. Reisbeplanning: Tripit

Hoekom wil jy dit hê? Of jy nou vir werk moet reis of ’n gesinsvakansie beplan, Tripit is die perfekte assistent. Jy kan al jou reisreëlings na plans@tripit.com epos, dan laai dit binne sekondes op jou foon.. Die oulike toepassing beplan ook roetes tussen jou bestemmings, net wat ’n goeie assistent moet doen.

2. Groepprojekte: Trello

Hoekom wil jy dit hê? Verby is die dae van taaklyste epos as jy ’n funksie, verjaarsdagpartytjie of vergadering reël. Met Trello, kan jy take wat deur verskillende mense uitgevoer moet word, op een kennisgewingbord saamstel. Dit bestaan uit projektaaklyste wat uiteensit wie vir watter take verantwoordelik is, met keerdatums, belangrike inligting ensovoorts.

3. Wagwoorde: LastPass

Hoekom wil jy dit hê? Gebruik van die “Forgot your password?”-knoppie is iets van die verlede met LastPass. Dis ’n appvir die bestuur van jou wagwoorde vir al jou aanlyn identiteite. Nou hoef jy net een wagwoord te onthou. As jy jou LastPass-rekening oopgemaak en jou oorspronklike data ingevoer het, stoor dit die inligting veilig. Wanneer jy dan programme oopmaak, vul dit jou wagwoord in en meld jou outomaties aan.

4. Gesinskalender: Cozi Family Organizer

Hoekom wil jy dit hê? Om gesinsaktiwiteite teen die yskasdeur te probeer organiseer werk nie. Cozi Family Organizer bied ’n kalender met ’n kleurkode vir elke lid van jou gesin, met doenlysies, inkopielysies, gesinsfotos en baie meer. Almal kan sien wat op die agenda is!

5. Foto’s: Photo Manager Pro

Hoekom wil jy dit hê? Bestuur die organisasie van jou foto’s met Photo Manager Pro. Dié toepassing beskik oor ’n magdom nuttige funksies en help om jou fotobiblioteek te vereenvoudig sodat jy foto’s maklik kan benoem, stoor, soek en vind. As jy die app op manlief se foon laai, kan jy maklik foto’s met hom deel. Dis beslis die ideale manier om foto’s te bestuur!

6. Adresboekie: Brewster

Hoekom wil jy dit hê? Sê totsiens vir jou standaard A-Z adresboekie! Met die splinternuwe Brewster-toepassing word al jou kontakbesonderhede van Facebook, Twitter, LinkedIn, Foursquare, Gmail en jou adresboek outomaties en netjies georganiseer in unieke profiele wat maklik is om te vind. Elke profiel vertoon die persoon se kontakbesonderhede, sosiale gebeurtenisse, verjaarsdae, nuwe werk, verhoudings, ensovoorts. Alles beskikbaar op een plek! Brewster maak jou selfs ’n weeskind as jy besig is om kontak met iemand te verloor. Nou toe nou.

[Pagebreak]

7. Digitale liasseerkabinet: Neat

Hoekom wil jy dit hê? Neat is ’n digitale liasseerkabinet wat jou help om al jou belangrike inligting te transformeer, te organiseer en te vind regoor al die toestelle wat jy gebruik, soos jou slimfoon en skootrekenaar. Met hierdie app kan jy jou belangrike lêers enige tyd en enige plek gebruik. Jy kan selfs jou selfoonkamera gebruik om strokies, besigheidskaartjies en ander dokumente te skandeer, te verwerk, met jou toestelle te sinkroniseer en dit met ander te deel.

8. Verhoudings: Between

Hoekom wil jy dit hê? Between is die bobaastoepassing vir paartjies! Dis ’n privaat manier om julle herinneringe te stoor en te deel en skep ’n eksklusiewe kommunikasiekanaal spesiaal vir julle twee. Julle kan vinnig en veilig gesels met oulike plakkers en stempels om jou te help om jou gevoelens uit te druk. Met die privaat fotoalbum kan julle saam julle gunstelingoomblikke onthou en geniet. Dit het ook ’n kalender om belangrike datums en afsprake te onthou.

9. Klerekasorganisasie: Mix Me

Hoekom wil jy dit hê? Verbeel jou jy kan jou klerekas oral saam met jou ronddra. Verbeel jou jy kan jou klere meng en pas terwyl jy in jou kar ry. Verbeel jou jy het jou eie kasorganiseerder en jy kan jou klere virtueel aanpas! Jy kan maar ophou verbeel … Met Mix Me is dit nou moontlik om ’n virtuele kas te skep en jou klere te organiseer en uitrustings te skep waar jy ook al is.

10. Inkopielys: Out of Milk

Hoekom wil jy dit hê? ’n Inkopielys, spenslys én doenlysie in ’n klein, alles-in-een, intuïtiewe toepassing. Met Out of Milk is jou inkopielys altyd by jou en gereed wanneer jy winkel toe wil gaan. Die spenslys hou ’n ogie oor die noodsaaklike items, sodat jy altyd weet wat jy het. Die doenlysie help jou om enigiets anders op jou daaglikse lysie te onthou. Spaar tyd, beplan jou inkopies beter en onthou al die belangrike dinge in jou lewe!

11. Begrotingbeplanner: Smartpath

Hoekom wil jy dit hê? Dis die beste begrotingstoepassing. Punt. Hoekom? Dit help jou om binne jou vermoë te lewe – en wie kan nie baat daarby nie! Dit het al die eienskappe wat jy nodig het, maar dit vereis aktiewe deelname van jou kant. Dit sal help dat julle ophou baklei oor geld. En as jy dit gebruik, sal jy minder uitgee as wat jy verdien.

12. Apteker-in-jou-sak: Medisafe

Hoekom wil jy dit hê? Medisafe is die gunstelingtoepassing wat jou help om jou medisyne betyds en gereeld te drink. Dis ’n visuele app wat jou daaraan herinner om jou pille te drink en jou medisyne te bestuur. Dit sal jou ook help om jou gesin met hulle medisyne te help. Of jy nou jou eie medisyne moet onthou, of vir ’n ouer, kind of ander pasiënt moet sorg, Medisafe kan jou help om alles te onthou wanneer dit onthou moet word!