12-jarige Karmen Wiid skryf ’n roman

0
128
Ella_goue_liefde_0.png

Karmen Wiid, dogter van predikant en sakevrou Liesel Krause-Wiid, is 12, maar sy skrik nie vir groot droom óf doen nie. Haar eerste roman, Ella en die Kruger-munt, het pas die lig gesien.

Wanneer het jy besef jy wil ’n roman aanpak?

Ek herkou al twee jaar aan die idee. Dalk lei ek ’n bietjie aan hoëprestasie-sindroom. Ek hou daarvan om myself te druk om die beste (ek) te wees; daarom was dit een van my drome om my eie boek te skryf en gepubliseer te kry. Maar hóé om daarby uit te kom, was die vraag. Dis hoekom ek al talle stories begin skryf het, maar elke keer net halfpad gevorder het en dan moed opgegee het.

Hierdie keer was dit anders. My deursettingsvermoë was sterker en ek het besluit aanhouer móét een of ander tyd wen. My ouers is huisvriende van oom Coenie Schoeman-hulle (van Carpe Diem Media en Finesse). Ek het my ma al baie gevra of hý nie dalk kan help nie, maar dan sê sy net diplomaties: “Mollieblommetjie (haar troetelnaam vir my), oom Coenie gee Christelike en selfhelpboeke uit. Ek dink nie hy sal belangstel in ’n tienerstorie nie.”

Toe hulle vroeër vanjaar weer saamkuier, het ek besluit weer te probeer. Kort-kort het ek aan my ma gestamp, met groot oë wat smeek dat sy die groot vraag moet vra. Sy het bly uitstel, totdat sy later nie meer met my kon uithou nie. “Ag, jammer, Coenie,” het sy verleë verskoning gemaak, “maar Karmen wil ’n boek skryf en sy vra of jy nie na haar storie kan loer nie.”

Yes!” het ek gedink. As hy net sê “miskien”, sal dit rede wees om aan te hou. Hy het twee bladsye gelees en toe sê hy die woorde wat my wêreld onderstebo gekeer het. “Hierdie storie is fantasties! Kom ons doen dit.”

Hou julle geslag nie meer van TV nie?

Om ’n boek te lees is baie lekkerder as TV kyk, want dis soos TV in jou kop. Jy kan jou verbeelding gebruik om prentjies van die storie en karakters te maak soos jý dit wil hê. In graad 4 het ek vir die eerste keer besef dat my stories dalk ander mense sal interesseer. Ons moes ’n opstel van ’n halwe bladsy skryf oor “Die koning se room”. Ek het so lekker geskryf dat my storie 15 bladsye lank was!

[pagebreak]

Waar kom jou Ella-storie en die karakters vandaan?

Ons kuier al jare lank gereeld op my ouma Lettie-hulle se plaas in die Steynsrusdistrik. My storie speel ook in Steynsrus af en die ouma Vlooi-karakter is ’n mengsel van my eie twee oumas. Ouma Willa Krause, die sakevrou, het hierdie wilde bos hare en los krulle, soos in my boek. Ouma Lettie Wiid dra weer die krale. Die hoofkarakter, Ella, is baie soos ek. Avontuurlustig en altyd op soek na drama en misterie – en sy hou ook daarvan om verlief te raak!
Ella_goue_liefde_0.png
Deon, die romantiese seunskarakter, is mý prentjie van my droom-ou, al het ek nog nie so iemand ontmoet nie. Hy is baie aantreklik, met goeie maniere; ek het skoon verlief geraak op hom! Ek hou niks daarvan as seuns probeer wintie wees nie. Hulle dink hulle is oulik, maar dis eintlik baie irriterend. Deon het natuurlik ook ’n kuif wat so wip (’n ou moet ’n kuif hê wat wip), en as hy en Ella mekaar ’n drukkie gee, ruik hy soos die bos. Dít laat my aan my pa, Siebert, dink as ek hom druk. Hy dra altyd ’n bosbaadjie wat net so ruik. Dis so ’n loving reuk. Ek wil graag hê my man moet eendag ook so ruik.

Ek het ook gewonder hoekom Ella nou juis in my storie plaas toe moes gaan, en toe stel my ma voor dat ek iets moet inbring van haar ouers wat sukkel met huweliksprobleme. Dit het baie goed gewerk, want egskeiding is ’n algemene ding wat baie kinders moet verwerk. Ek sien mos by die skool. Hulle probeer dit wegsteek, maar jy kan die hartseer in hulle oë lees. Hulle skouers hang.
Ek is só ontsaglik lief vir my ma en pa dat ek dit nie sal kan verdra as daar iets met hulle of met hulle huwelik moet gebeur nie. Alle kinders voel seker so.

Met my boek wil ek graag ander kinders aanspoor om groter te dink en te droom – en meer in hulleself te glo, maak nie saak watter draaie die lewe loop nie. Ek wil met my storie vir hulle sê daar gebeur nog goeie dinge in die wêreld en daar bestaan nog iets soos ware liefde.

[pagebreak]

Hoe het jy die skryfproses aangepak?

Omdat skryf so lekker is en van nature kom, was dit eintlik maklik. In die vakansie, toe ek die groen lig gekry het om aan te gaan met die boek, het ek elke dag van so twaalfuur af begin skryf (vroeër is ek nog té aan die slaap). Deur die dag het ek aan die romantiese dele gewerk, en saans het ek die misterieuse dele uitgedink. Party aande as ek al in die bed was, was my kop nog so vol van die storie – en wat nog móét gebeur – dat ek met ’n groot glimlag in die donker gelê en dink het.

Toe die skool weer begin het, het ek meestal oor naweke geskryf, of eerder getik op my skootrekenaar. En sommer op enige plek. My ouers het twee baie uiteenlopende skoolervarings gehad. Dit het ’n goeie balans gebring in my eie persoonlikheid. My pa was “mnr. Populêr”, hoofseun, en al die meisies was seker mal oor hom. My ma was weer die meisie met die dik bril en tandedraadjies. Die een wat gespot is met lelike woorde soos: “Hallo, ou vier oë.” Sy sê dít laat haar tot vandag toe nog opkom vir die underdog – en dis seker ook hoekom sy so lief is vir preek!

Wat is jou toekomsplanne en drome?

My wiskunde-onderwyser, mnr. Cornus du Plooy, is ’n groot inspirasie en kon netsowel ’n motiveringspreker gewees het. Hy is nes my pa, altyd besig om ons aan te moedig om groot te droom. Ek glo dit geld vir alles in die lewe. Daarom sal ek nooit mik om net 10% beter te doen nie; ek sal mik vir 100% beter, want as jy klein droom, gaan jy nooit iets bereik nie. Jy sê dan eintlik klaar vir jouself dat jy dit nie regtig kan doen nie.

Ek hou daarvan om drome te droom waaroor ander mense lag. Soos om eendag kreatiewe skryfwerk aan Harvard-universiteit te gaan studeer. Mense dink dis belaglik, maar ek kan nie sien hoekom nie.
Nog ’n droom is om ’n New York Times-topverkoper te skryf. Maar my grootste droom lê in Hollywood. Toe ek jonger was, wou ek ’n aktrise word (my ma het my gou oor al die gevare ingelig!). Nou weet ek (tot haar verligting) dat ek eerder soos Adam Sandler en Tom Cruise my eie draaiboeke wil skryf, die fliek self wil regisseer én ’n rol daarin wil speel.