20 belangrikste dinge van die liefde

0
2901
liefde.jpg

Hoe laat ʼn mens dit werk? Met omtrent 50% van alle huwelike wat op die rotse eindig het ons vir 200 vroue gevra om te vertel wat dit is om regtig liefde te gee en te ontvang.

Wat is die liefde? Is dit iets onmeetbaar en onverstaanbaar? Is dit daardie fladderende gevoel in jou maag wanneer hy vir jou glimlag, of iets baie dieper? Dalk is dit albei … Liefde is vir geen twee persone presies dieselfde nie. Dit weet meeste van ons nadat ons deur Dr. Gary Chapman se Vyf tale van die Liefde gelees het.

So wat is dit dan? Ons het 200 lesers gevra waaroor gaan die liefde regtig. Wat maak dat jou huwelik werk? Is daar ʼn X-faktor in julle huwelik en wat is dit. Natuurlik is die belangrikste aspek van liefde in die huwelik, geloof. Ons het gaan kyk na 20 ander dinge wat liefde, en die huwelik, laat werk.

Die Groot 5 van gelukkig getroudwees

Groot_5_van_huwelik.jpg

Wat sê ons lesers oor suksesvolle huwelike?

Ons oumas en oupas was beslis reg toe hulle gesê het “trou is nie perdekoop nie”! Dis elke dag ʼn leerskool in geduld, aanvaarding, liefde en opoffering. Wat is vir ons lesers belangrik wanneer dit by hulle huwelike kom?

“Onthou in elke situasie wat tot struweling sou lei … ons is lief vir mekaar en wil net die mooiste en beste vir mekaar hê! Ons is nie hier om mekaar seer te maak of te na te kom nie. Moenie altyd die ergste van my verwag nie en sien my kant ook in.” Carine Van Schalkwyk

“Ons probeer al twee om die ander een eerste te stel, dus behandel ons mekaar soos elkeen van ons behandel wil wees! Ons is mekaar se beste vriende so daar is baie kommunikasie. Ons probeer ook baie dinge saamdoen maar sonder om mekaar te versmoor. Ons probeer nie om mekaar te verander nie. Baie liefde, lag en hande vashou.” Tina Wolvaardt

“Getroude paartjies vergeet om net kinderlik te wees en met mekaar te speel. Die lewe is ernstig genoeg.” Lelanie Mare Speel

Wat wil ʼn vrou nou eintlik hê?

Mans sal gedurig spot dat niemand tog ooit sal weet wat ʼn vrou wil hê nie. Ons sê … dis nie baie moeilik nie. Hier is die top 5 dinge wat 200 lesers voor gestem het.

Wat_beteken_vir_jou_die_mee.jpg

Wanneer hy dít doen, voel ek kosbaar

Dis iets wat in elke vrou se wese ingebou is, die behoefte aan liefde. Maar elkeen is ook anders … Wat laat ons vroue werklik spesiaal en geliefd voel?

“Dis gewoonlik wanneer hy iets doen wat ek nie verwag het nie, of sonder dat ek hom daarvoor moes vra. Soos om ’n skildery op te hang, die wasbak se kraan reg te maak of om Binneland vir my te PVR! Nadine Van Staden

“Die mens wat hy is laat my kosbaar voel. Daardie stywe omhelsing as hy groet, en as hy sê: ‘Oe, ek is mal oor jou lyfie’, al lyk die lyfie lankal nie meer soos toe ons getroud is nie.” Helen Kay

“Wanneer hy vir my soentjies op my hele gesig gee!” Lizel Gertse-De Mink

“My Manlief is voorwaar die beste. Ek werk en hy is op pensioen. Maar glo my hy sit nie stil nie. Hy help my in die huis, was wasgoed en skottelgoed en aai … daardie lekker bord kos wanneer ek in die middag van die werk af kom. Daar is aande wat hy my voete sal skuur met iets wat hy self gemaak het.” Magda Taljaard

Maak julle eie tradisies en gewoontes

Elke verhouding het sy eie gewoontetjies. Of dit nou is om koffie saam te drink in die oggend, of om weekliks op ʼn date night te gaan, dit is belangrik om ook só een te wees. Ons lesers het van hulle oulike gewoontes met ons gedeel.

“Ons was saam skottelgoed, dan sal ons gesels oor die dag en wat alles gebeur het. Dis hoekom ek nooit ’n skottelgoed wasser sal koop nie, want dis die enigste tyd wat my man my help in die huis.” Antoinette Langley

“Die een wat eerste tandeborsel in die oggend en aand, sit vir die ander een ook solank tandepasta op sy/haar tandeborsel.” Daleen Van Jaarsveld

“Tussen my en my man gaan die een nooit sonder die ander saans bed toe nie. Die een wag altyd vir die ander totdat ons saam ligte afskakel en deure sluit.” Le-Laché Campbell