2017 is verby – 2018 is hier!

0
421

Die Romeinse god Janus is altyd met twee gesigte uitgebeeld: een wat vorentoe kyk, en een wat agtertoe kyk. Daarom is ’n afbeelding van Janus se kop dikwels by die poort van ’n antieke stad aangebring. Sy een gesig kyk dan na mense wat deur die poort in die stad ingaan, en die ander gesig kyk na mense wat uit die stad uitgaan. Aan die einde van die jaar kyk ’n mens terug na dit wat verby is, maar jy kyk ook vorentoe na dit wat op jou wag. Daarom dat Januarie, die eerste maand van die jaar, ook sy naam gekry het van die naam van die god Janus.

Kinders van die Here kan ook aan die einde van die jaar terugkyk na wat verby is, en weet dat dieselfde God wat ons in die afgelope jaar gehelp het, ook weer by ons in die nuwe jaar sal wees!

’n Mens sal dikwels in die Bybel sien dat Israel se geskiedenis kortliks oorvertel word. In die Boek Handelinge is daar ’n hele paar voorbeelde. Die bedoeling daarvan is om die mense elke keer te herinner aan wat God in die verlede gedoen het. Jy bou dan daarop jou vertroue dat God weer in die toekoms jou sal help soos in die verlede.

Kom ons kyk vandag terug en vorentoe, en ons kan dan weet dat dieselfde God wat ons in 2017 gehelp het, ons weer in 2018 ook sal help. Ek kan dus nou die onbekende toekoms instap saam met die bekende God!