3 gevaartekens in jou huwelik

0
488
gevaartekens_huwelik.jpg

Om nou en dan te baklei, is normaal, maar wanneer rusies sekere grense begin oorsteek, raak dit gevaarlik vir julle verhouding. Hier is ’n paar tekens om bedag op te wees wanneer julle verskil.

#1 Baklei om persoonlik en aanvallend te wees

Dit is nie verkeerd om te argumenteer nie, maar wanneer julle rusies ontaard in persoonlike beledigings wat heen en weer geslinger word, is dit tyd om na julle manier van konflikhantering te kyk.

Die enigste manier om hierdie gewoonte te verbreek is om opmerkings te maak wat gaan oor jou eie gevoelens eerder as om jou man te verneder.

Carol kan dit nie hanteer as Hannes sommer net by die vertrek uitstap wanneer hulle baklei nie. “Dit voel of hy my glad nie respekteer nie en niks omgee oor wat ek dink en voel nie.” Huwelikskenner Amy Waterman stel voor dat Carol vir Hannes vertel hoe sy gedrag haar laat voel in plaas van om hom te vertel hoe onvolwasse en onsensitief hy is.

“Gee hom daarna ’n idee hoe jy graag behandel sal wil word sodat hy presies kan weet wat om te doen. Sê iets soos: ‘Ek voel minderwaardig en geminag wanneer jy uit uitloop terwyl ons besig is om te argumenteer. As dit vir jou te veel word en jy tyd op jou eie nodig het, sê dit vir my in plaas van om net skielik uit te loop.’”

#2 Wanneer geen middeweg gevind kan word nie

Daar is sekere goed waaroor paartjies nooit sal saamstem nie. Dis onvermydelik – ons word gevorm deur verskillende faktore uit ons verlede. Die gevaar ontstaan wanneer ’n man en vrou nie meer ’n middeweg daarvoor kan vind nie. In plaas van om herhaaldelik oor dieselfde goed vas te sit, is dit nodig om die onderliggende redes te vind waarom jy so sterk oor sekere goed voel. Christine wil haar familie elke naweek sien terwyl Pieter dink dit is genoeg om sy skoonouers net met spesiale geleenthede te besoek. Hulle baklei voortdurend hieroor. Die geheim is om agter te kom hoekom elkeen so heftig hieroor reageer. Daarvoor is dit nodig om na hulle grootwordjare te gaan kyk.

Pieter het in omstandighede grootgeword het waar sy ouers baie baklei het. Christine het in ’n gelukkige gesin grootgeword waar hulle baie tyd saam deurgebring het. “Alhoewel hulle nie die verlede kan verander nie,” verduidelik Amy, “kan Christine en Pieter deur oor hierdie verskille te gesels en te besef waaroor dit werklik gaan, begrip vir mekaar kry wat tot ’n middeweg kan lei.”

#3 Om geen hoop oor te hê nie

Om sonder hoop te wees is die laaste spyker in ’n huwelik se doodskis. Negatiwiteit word teëgewerk deur in uit te vind wat in jou man se kop aangaan. Weet jy nog wat in jou man se lewe gebeur? Weet jy hoe gaan dit by sy werk, wat sy drome is of waaroor hy hom bekommer? Die maklikste manier om uit te vind, is om met hom te gesels. Dit is die enigste manier hoe jy hom die ondersteuning kan gee wat hy nodig het.

Begin hom weer van jou liefde verseker. Vertel hom hoe lief jy hom het voor julle gaan slaap, as julle wakker word, met ’n SMS of epos deur die dag. Komplimenteer hom. Vertel hom hoe aantreklik hy vir jou is, hoe wonderlike pa hy is of hoe fantasties dit is as hy vir jou aandete maak. Jou man sal geleidelik dieselfde soort bevestiging vir jou gee en bietjie vir bietjie word jou huwelik gered uit die donker put van hopeloosheid waarin dit was.

Wanneer hierdie gevaartekens opduik, beteken dit geensins die einde van julle huwelik nie. Dis eerder ’n manier om die verhouding tussen julle sterker te maak.