3 redes vir ’n asem wat sleg ruik

0
32
mondhigiene.jpg

Wat is die oorsake van ’n slegte reuk op jou asem en hoe kan jy dit oorkom? Hier is kenners se raad.

Dieet en sooibrand

Jou dieet speel ʼn belangrike rol in hoe jou asem ruik. Ek vind dat enige kosse wat suurrefluks veroorsaak, jou asem maklik sleg kan laat ruik. Wanneer ons eet, gaan kos verby die slukderm in die maag in. Jou maag bevat suur wat help om jou kos te verteer, maar soms lek suur terug op in die slukderm (refluks). Gasvormende kosse, soos boontjies, kerrie of kool, kan hierdie refluks veroorsaak; daarom is dit belangrik dat jy dit vermy. Probeer om nie groot maaltye op ʼn slag te eet nie, en moet nooit ʼn groot maaltyd eet en dan ʼn middagslapie neem nie. Wag minstens drie ure nadat jy jou aandete geëet het voordat jy gaan slaap. So verminder jy die risiko dat maagsuur in jou keel opstoot.

Sinusprobleme kan ook ʼn rol speel in slegte asem. Sinusitis of iets wat in jou neusgat vassit, kan ook ʼn slegte reuk veroorsaak. Probeer om twee keer per dag ʼn soutwateroplossing in jou neus te spuit. Dit dood bakterieë en maak enige kos of harde slym los wat daar kan vassit.

Soms kan ontsteekte mangels ʼn slegte asem veroorsaak. Klein sakkies (kripte) ontwikkel op die oppervlak van jou mangels waarin stukkies kos en bakterieë kan versamel. Besoek jou dokter as jy vermoed dis die oorsaak.

Dr. Michelle Bosch, oor-, neus- en keelspesialis

Goeie mondhigiëne

Dis nie net swak mondhigiëne of baie uie en knoffel wat jou asem laat stink nie. ’n Droë mond is die ideale broeiplek vir bakterieë. Dis waarom dehidrasie, rook, hardlywigheid en alkoholmisbruik tot die probleem bydra. Spoel altyd jou mond met water uit nadat jy geëet het.

Goeie borselgewoontes is ’n móét vir ’n vars asem. Vlos altyd eerste, borsel dan jou tande en spoeg die tandepasta uit sonder om jou mond met water uit te spoel. Dit verdubbel die effek van die tandepasta. As jy tande borsel, gebruik die rol-strykmetode met ’n baie sagte tandeborsel. Hou die tandeborsel teen ’n hoek van 45° teen jou tandvleis en borsel weg van die tandvleis af terwyl jy jou hand draai. As jy na links en regs skrop, beskadig dit die emalje en maak jou tandvleis seer.

Vir die beste resultate stel ek voor jy skaf ’n elektriese tandeborsel soos die Philips Sonic aan. Hou die borseltjies drie sekondes lank stil op elke tand. Onthou om elke tand te borsel. ’n Goeie tongskraper kan ook wondere verrig vir ’n slegte asem, aangesien die agterste derde van jou tong slegte asem veroorsaak en dié toestel daardie area kan bereik.

Gretel Engelbrecht, mondhigiënis

Gesonde tandvleis

Tandvleisprobleme wat deur plaak veroorsaak word, is een van die mees algemene oorsake van ’n slegte asem. Plaak is ’n mengsel van kosstukkies, dooie tandvleis en bakterieë wat tussen jou tandvleis en tande vorm. Die bakterieë veroorsaak ’n slegte reuk en dra by tot bloeiende tandvleis en los tande. Dít word dikwels deur swak mondhigiëne veroorsaak.

Ek stel voor jy volg ’n holistiese benadering tot mondhigiëne en skaf ’n produkreeks aan wat al die oorsake van ’n slegte asem takel. Ora-Salts, Ora-Floss en Sinu-Salts Nasal Spray is ’n homeopatiese reeks wat natuurlike seesout bevat en antibakteriese en antiseptiese eienskappe het.

Ora-Floss is die eerste homeopatiese vlos in Suid-Afrika. Dit is bedek met seesout, wat plaak en kosreste effektief verwyder. Spoel jou mond met Ora-Salts uit nadat jy gevlos het. Hierdie produk help nie net om slegte asem te voorkom nie, maar dokter ook ’n seer keel en mondsere. Gebruik Sinu-Salts Nasal Spray om slym agter op die tong en in die neusgate te verwyder. Dit is ook ’n effektiewe behandeling vir ’n postnasale drup. Die produkte bevat geen suiker, alkohol of preserveermiddels nie.

Kara van Zyl, bemarkingsbestuurder: Ivohealth