3 verskonings wat jou sekslewe kelder

0
65
gretha_wiid.png

Die top-3-verskonings wat vroue maak as dit by seks en intimiteit kom is moegheid, gebluste lus en ’n gebrek aan konneksie met jou maat.

Die top-3-verskonings wat vroue maak as dit by seks en intimiteit kom is moegheid, gebluste lus en ’n gebrek aan konneksie met jou maat.

Die populêre “Nie vanaand nie, Liefie, ek het hoofpyn,” moes sy eerste plek op die lys afstaan aan die siekte van ons tyd: moegheid. As jy getroud is, ’n beroep het en ook ’n ma is, sal jy jou ten volle hiermee kan vereenselwig.

Voldoende slaap, meer oefening en beter eetpatrone kan ons liggaamlike moegheid dalk teëwerk. Daardie emosionele moegheid van te veel hooi op ’n baie klein vurkie word egter deur geen dieet, gimsessie of bedrus oornag omgeswaai in bed-energie nie. Hierdie moegheid speel soos ’n domino klaar met ons hormone en tik dikwels die laaste blokkie van die konneksie met ons mans ook om.

Ter wille van ons mans se behoeftes en die wete dat honger honde makliker rondloop, is daar later baie vroue wat maar doen wat gedoen moet word. Ons lê soos ’n lam ter slagting – sonder enige vervulling of werklike konneksie en intimiteit. Hartseer, maar waar!

1. Is jy in moegheid vasgevang?

Natuurlik is ons moeg! Ons het baie balle om in die lug te hou. As jy verslaap het omdat die baba moeilik was, as jou graadeentjie van haar kunsprojek vergeet het, jou man sy sleutels soek, jou tieners mekaar hap en byt, jy moet rondjaag tussen aktiwiteite en die winkels … is seks die heel laaste ding op jou lys. Net nóg ’n takie wat afgehandel moet word!

Miskien moet ons weer hoor dat ons soms mag nee sê. Soms laai ons onnodig baie dinge in ons dagprogram en is ons tydsbestuur beroerd. As ons nie gaan leer om te delegeer, ons kinders meer onafhanklik te maak en daarop aandring dat Pappa help met kos, huiswerk en skoonmaak nie, sal ons altyd vasgevang bly in ons moegheid. Miskien is jy een van die vroue wat moet hoor dat al die TV-kykery en tyd op Facebook jou van waardevolle slaap beroof. Jou gebrekkige tydsbestuur, onvermoë om te delegeer en onnodige tydsbesteding aan sosiale media steel nie net jou tyd en slaap nie, maar vat dalk ook ’n groot hap uit jou sekslewe uit!

2. Fantaseer weer oor seks met jou man

Het ek al gesê dat daar soms min onderskeid is tussen ’n hormoon en ’n demoon? Die een kan jy wegjaag en met bevryding heel aan die ander kant uitkom. ’n Hormoon is iets anders. Hierdie goedjies maak ons fisiek moeg, wring die laaste stukkie libido uit en gooi ons gemoed rond soos ’n kind sonder ball sense wat strandtennis speel. Dankie tog vir mediese hulp! Die waarheid is ook dat ons hormone nie die grootste oorsaak is dat ons nie in die bui is nie, maar wel ons koppe. Ons is negatief oor seks en dink daaraan as werk. Solank jy negatief oor seks praat en dink, sal dit altyd vir jou ’n issue bly – ’n verskoning om dit nie te geniet nie. Die kopskuif lê dus by jóú!

Dalk moet jy weer oor jou man begin fantaseer. Oor wat jy al saam met hom ervaar het – klein gedeelde, gesteelde hoogtepunte. Gaan delf in jou seks-geheuebank en geniet die reis in jou kop. Wees ’n inisieerder met woord en daad. Stuur vir hom speelse SMS’e. ’n Vrou wat met haar man flankeer, is altyd gewilliger om seks te hê, want haar kop is reeds op die regte plek. Wees genadig met jouself en onthou: Min vroue is vanself sommer net lús! Die meeste raak eers lus vir seks as dit alreeds aan die gang is. Jou bereidwilligheid en die “ja” in jou kop is dalk die oplossing vir jou lusteloosheid. As jy begin om van jou kant af uit te sien na seks, gaan jy jou grootste seksorgaan, jou brein, ’n brandstofinspuiting gee.

3. Kry julle konneksie terug

Vroue soek nie altyd lus-seks nie, maar het ’n baie groot behoefte aan lief-seks. Nie noodwendig romanse en kerse nie, ook nie noodwendig sag en stadig nie, maar wel die wete dat jou en jou man se harte connected is. En dis juis hiér waar vroue dikwels seer en verwerp voel. Jy het dalk ’n man wat seks wil hê, maar jou hart wens so dat julle meer intieme harte kon hê in die proses. Natuurlik is dit vir ons moeilik om spontaan te wees en alles te gee as ons mans ons seermaak met afwesigheid, kritiek of ’n gebrek aan waardering of komplimente. Dit is egter ’n konneksie-probleem wat ’n huweliksverrykingsnaweek of berading benodig. Tog moet jy nooit die konneksie van jou kant af vir jou huwelik onderskat nie. Gaan terug na die basics waar jou man gerespekteer, gewaardeer en begeer voel. Dis die klein dingetjies wat dalk weer sy hart raak en op ’n nuwe manier na jou laat kyk – en eindelik op ’n nuwe manier aan jou laat vat!

Die uitdaging

Stel vas watter een van hierdie top-3-verskonings jou huwelik beïnvloed. Begin met ’n aksieplan – emosioneel, fisiek en geestelik. As jy altyd by die verskoning vashaak, sal niks beter word nie. Identifiseer dit, werk daaraan en geniet dit! God weet jy is nie ’n robot nie. Wat Hy wel weet? Jy is ’n ystervrou!